Posted by: mykopop | Vrydag 7 Desember 2007

Huis met ‘n Abbahart

abbahart.jpg‘n Maand of vyf terug bars ‘n waterpyp in my tuin en ek skryf toe die inskrywing Huis met ‘n Hartomleiding, nadat my DDS-poging ietwat skeefgeloop het. Ek kry toe die volgende kommentaar van Annelie: “Enige huis met ‘n hart kan seker ‘n omleiding handle“. Ek het al baie gehoor mense sê die kombuis is die hart van die huis.Jare gelede het Prof. Chris Barnard operasies uitgevoer waar hy vir ‘n pasiënt ‘n ekstra hart ingeplant het. As ek reg onthou was dit tydelik om die hartspier kans te gee om te herstel. Ek kry op die internet, behalwe in woordelyste, twee gebruike van die woord “abbahart”:

  • In ‘n toespraak deur Riaan Cruywagen Ek sien hy gebruik daar die half-in-onbruik-vervalle uitdrukking “na die kroon steek”. Ek het ook al so bietjie met Riaan se kroon gespot.
  • Van Lill SE Suid-Afrikaanse Trivia Ek het eintlik so half koud geword toe ek die boonste blokkie van daardie bladsy lees! Lees dit!

Ek dink die rede hoekom ek dit so goed onthou, is dat Chris Bardard as kind een van my groot helde was, deels omdat ons voornaamgenote is. Ek wou sommer self ‘n hartspesialis word! En toe kom Chessaleeinlondon en skryf ‘n paar dae gelede dis nou 40 jaar sedert die eerste hartoorplanting in Suid-Afrika.

Nou is dit hier by ons sulke tyd. Ek het ons huis se hart uitgeruk. Ons kombuis het al jare ‘n dringende oordoen nodig. As mens dit láát doen, kan dit seker in ‘n week of twee, drie verby wees, maar dit sal ook ‘n plaas se prys kos. Om dit self te doen, gaan my ‘n paar maande vat, wat natuurlik groot ontwrigting meebring terwyl mens nog in die huis moet woon, nog steeds moet kos maak en skottelgoed was.

Gelukkig, so vyf jaar gelede het ons ‘n nuwe hoofslaapkamer, studeerkamer en badkamer aangebou. Een doel van die aanbouing was om die huis en die garage aanmekaar te verbind, want dit was twee aparte geboue. Apartheidswetgewing – het die plantekenaar vir my gesê: Jy en jou bediende mog nie onder dieselfde dak slaap nie. Die “bediendekamer” was net reg om te omskep in ‘n badkamer, verder was ons redelik gebonde aan hoe die twee geboue gestaan het en dat ons son op die slaapkamer en studeerkamer se vensters wou hê – dus onstaan daar toe so ‘n ekstra vertrek van omtrent 20 vierkante meter. Ons het dit die afgelope vyf jaar as waskamer en algemene pakplek gebruik.

Ek sien egter nog altyd die nuwe aanbouing as ‘n plek met potensiaal as ‘n aparte woonstel in die toekoms, maar dan moet hy ‘n kombuis hê. Ek het nou alles van die kombuis oorgeskuif na kombuis nommer 2. Kombuis nommer 2 gaan ons abbahart wees vir die volgende paar maande. Die foto heel bo wys ‘n gedeelte daarvan. Ons “kombuis” al vir omtrent ‘n maand of twee daar.
Ek het al die volgende werk gedoen:

  • Kombuiskaste losgemaak van die mure af sonder om hulle te veel te breek.
  • Elektrisiën gespeel, ‘n nuwe sub-distribusiebord ingesit en die ou stoof geskuif. (Sien ‘n Hakken Latei)
  • Loodgieter gespeel en die opwasbak geskuif.
  • Die onderste kaste se voetstukke wat ek moes losbreek weer effens herstel. Die onderste kaste staan nou net los teen die mure maar stewig genoeg.
  • Van die muurkaseenhede middeldeur gesny en herbou.
  • Die muureenhede in kombuis no. 2 teen die mure vasgesit. Een van hulle het in my studeerkamer “tereg gekom” soos hulle in Nederlands sê.

Nou rus ek. Volgende jaar begin die werk om eers nuwe deurkosyne in te bou en die muur tussen die kombuis en waskamer oor te bou, met tussen-in die elektriese installasies. Intussen sal ek ook die kombuis behoorlik beplan en die kaste solank bestel. Daarna volg teëlwerk en die insit van die kaste. Ek het nie ‘n idee wanneer ek eendag gaan klaar wees nie.

In daardie kombuis gaan gekuier word!

breekmuur.jpg

Die muur tussen die kombuis en die gang word afgebreek.

vanafkombuis.jpg

So lyk die opening tussen die kombuis en die TV-kamer op die oomblik. Wat hang daar in die swart sak? Dis die alarmstelsel – die enigste werkie wat ek nog in die volgende paar dae moet doen, ek moet hom weer aan die werk kry voor ons met verlof gaan.

waskamer1.jpg

Waar die swart pot en stapel teëls staan, was die opwaskamertjie. Die muur moet oorgebou word, aangesien ons ‘n deuropening aan die linkerkant wil hê, terwyl dit regs was. Die deel van die muur wat oorgebly het, het te lendelam geword en ek moes dit heel uitbreek. Ek het dit gehaat dat die opwasbak in ‘n aparte vertrek is. Dit sal voor die venster wees. Die nuwe waskamertjie sal net as waskamer vir klere dien en in die linkerkantste hoek ‘n spenskas huisves. Die grootste deel van die gang (waar die keramiekteëls is links) word by die nuwe kombuis bygevat – net voor die een slaapkamerdeur wat sigbaar is, kom weer ‘n stukkie muur en ‘n deur.

vanaftvkamer.jpg

En so lyk die opening van die TV-kamer se kant af. Visualiseer ‘n mooi houtraamdeur met klein glasruitjies!

kersboom.jpg

Ek het voorgestel die kersboompie moet in die leë kombuis gesit word. Nadat die foto geneem is, is daar ook liggies voor die venster gehang. Die karton met die ooghoogteoond sal met ‘n tafeldoek en geskenke bedek word.


Responses

  1. Baie sterkte met al die aan- en ombouings! Die stof is darem maar erg né?! Ons bly al 23 jaar in dieselfde huis en het hom destyds nuut laat bou. Soos wat ons geld gehad het, het ons aangebou. Ons is gedurig besig om iets aan die huis te verander. Ek dink nie mens kry ooit heeltemal klaar nie. Ek stem saam dat die kombuis die hart van die huis is. Toe ons ons kombuis vergroot en vernuwe het (ons is DIY mense), het ons ‘n antieke eikehout tafel wat ons by skoonma-hulle geërf het, in die middel van die vertrek geplaas. Ons kuier menigmaal om dié kombuistafel – dis baie gesellig!

  2. Baie sterkte met die verbouings. Hoop nie vader Krismis verdwaal die jaar op pad na die yskas toe nie…..🙂

  3. Julle het baie moed!! Ek is midde in ‘n nuwe huis bouery en ek raak mal, maar ek dink dis erger om in ‘n huis te bly waar jy besig is met verbouiings en verbrekings. Sterkte!!

  4. Ek is ook al deur sulke “stories”…liewer jy as ek! Ek het gese nooit weer nie!! Dit lyk verskriklik…😆 STERKTE en dit met Kersfees op hande…ek se weer…liewer jy as ek!🙂 Hulle se as jy so aanbou/verbeter en jou huwelik HOU!…dan moet jy weet, julle bly die res van jul lewe bymekaar!🙂

  5. Oh my shattered nerves – nou gaan ek my voorgenome bouplanne in heroorweging neem – soms het mens so ‘n grafiese wake-up-call nodig!

  6. […] Aan die einde van laasjaar se werkseisoen het ek gewys dat ons huis se hoofkombuis op die oomlik nie bestaan nie: Huis met ‘n abbahart! […]

  7. […] lang storie. Soos julle weet, ek het ons huis se kombuis uitgebreek en ons lewe nou met ‘n abbahart. Op die oomblik is daar groot oponthoud voor ek kan aangaan met die kombuis. As ek die slag wel kan […]


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: