Posted by: mykopop | Sondag 10 Februarie 2008

Om ‘n draai in die lewe

IM000427Ek is om die draai! Die paadjie van die linkerkant af is klaar geplavei – nou nog net die reguit stuk tot by die ander muur, minder as die helfte bly oor!

Oor die lewe

Terwyl ek so besig was om te plavei en so naby die draai kom, het die liedjie “Deur die straights (en om die draaie)” wat die sanger Hugo sing, by my opgekom, en toe het my kop bietjie verder rondgeloop. Een van my gunsteling onderwysers het eenkeer vir my gesê ek het nou nie die hoogste IK wat daar is nie – maar, het hy gesê: Jy het deursettingsvermoë. Ek weet nou nie hoe hy dit kon geweet het terwyl ek dalk nog nie eens in matriek was nie. Of het ek dalk vir die res van my lewe deursettingsvermoë omdat ek hom geglo het? Ek sal nie weet nie, maar ek hou daarvan om dinge te beplan en dit dan deur te voer. Hetsy of dit nou ‘n intelektuele uitdaging is of ‘n fisiese een soos hierdie. Ou Lucas Maree sê ook op sy Kiekies-konsert CD oor liedjies skryf – jy moet lus wees om ‘n liedjie te skryf, en, voeg hy by, dit werk so met enigiets in die lewe wat die moeite werd is: jy moet lus wees om dit te doen, anders kan jy maar los. Nou ja, ek is lus vir hierdie ding en ek gaan hom klaarmaak. As ek klaar is, sal ek kan sê ek weet nie van nog ‘n ou wat so ‘n betonblad alleen gemaak het nie. Baie keer lê die peilvak reg voor ons – ons moet hom net vat!

Hoekom?

Ek het in ‘n ander inskrywing vlugtig verwys na die betonblad wat ek besig is om te gooi vir ‘n Wendy. Dis eintlik ‘n lang storie. Soos julle weet, ek het ons huis se kombuis uitgebreek en ons lewe nou met ‘n abbahart. Op die oomblik is daar groot oponthoud voor ek kan aangaan met die kombuis. As ek die slag wel kan werk daaraan, word ek opgehou deurdat gereedskap in die garage wegraak. Die ou storie as ‘n plek te vol is. Jy skuif een ding weg om ‘n ander een daar te kan neersit, in die proses sit jy hom bo-op ‘n ander een wat jy volgende keer gaan soek!

E wil nou al lankal ‘n Wendy laat opsit om minstens die tuingereedskap en ‘n paar ander goed daarin te kan bêre, om bietjie die druk op die garage te verlig. Ek is seker daar is ook baie goed in die garage wat weggegooi kan word, maar op die oomblik is dit asof ek toeslaan as ek daar instap. Hulle sit altyd so ‘n Wendy op stene, al voorsien jy ‘n blad, maar ek het besluit om wel ‘n blad te gooi, omdat dit so baie hier reën en onkruid alles gedurig wil inneem. Ek wil nie ‘n dingetjie wat groei naby my houthuisie hê nie.

Ek het besluit om ‘n Wendy van 2.4 by 3 meter te kry en hom in die hoek van die erf, ‘n halwe meter van die betonheining af te sit. Die blad moet ook aan die voor en sykant 0.5 meter uitsteek, dus 3.4 by 4 meter. Ek het ook besluit om dit 80 mm dik te gooi, wat beteken dis 1.088 kubieke meter beton. Aangesien ek gereken het een mens sal nie soveel beton in ‘n dag kan meng en gooi nie, en ek was reg, het ek besluit om die blad in vier kwarte te verdeel. Dit beteken ook dat ek sommer lasplekke insit vir uitsetting en inkrimping, ander sou die blad in elk geval dalk iewers bars.

Laas Saterdag het ek die eerste kwart gegooi, reg in die hoek van die erf. Ek dink ek het dalk bietjie dikker as 80mm gegooi, volgens die hoeveelheid sand en klip wat ek gebruik het. Ek kry toe die plan om aan die voorkant en sykant i.p.v. net beton, plaveisteentjies te sit, waarvan ek gelukkig genoeg het. Dit beteken dat die drie oorblywende blokke, wat ek met beton moet vul, krimp met 0.5 meter in elke rigting. Dit klink nie baie nie, maar dit verminder die oppervlakte van elkeen van 3.6 vk-meter tot iets tussen 1.5 en 2 vk-meter, wat beteken dat ek dalk in die namiddag na werk een kan gooi. As jy klaar jou blad verdeel het met uitsettingslasse, is dit nie ‘n goei idee om een van die blokke halfpad te gooi op een dag en dan op ‘n ander dag aan te gaan nie.

Hoe om dit te doen

Eerstens moet jy die grond voorberei. Gewoonlik wil jy hê jou betonblad moet “val” na een kant toe, of selfs skuins na ‘n hoek toe, sodat reënwater nie daarop sal bly staan nie. Om die Wendy se vloer gelyk te kry, sal ek sorg dat hulle meer stene aan die een kant sit. Die grond moet stewig en skoon wees. ‘n Roller sou ideaal gewees het, maar ek het nie een nie. Een van die masjiene wat grond kompakteer sou nog beter gewees het, ek sien nie kans om een te huur nie, die materiaal kos reeds so duur.

Ek het ou planke (facia-planke) gebruik om die blok wat ek wil gooi af te kordon. Dis ook verkieslik om iets tussen die verskillende blokke te sit vir jou uitsettingslasse. Ek het ou stukke plafonbord in die garage gehad en dit aan die binnekant van die planke gesit. Hulle sal nou daar bly as ek die planke afhaal, dan gooi ek die volgende blok teen die plafonbord. Ek het die planke effens ingegrawe en binne en buite met stene vasgepak. Die binneste stene kan jy verwyder soos jy die beton gooi.

Om die beton te meng, het ek gaan kyk by die Concrete & Sement Institute en die pdf dokument “Concrete at Home and on the farm” afgelaai. Daarvolgens is die verhoudings vir mediumsterkte beton 1 deel sement, 2.5 dele sand en 2.5 dele klip. Aangesien mens met ‘n skopgraaf afmeet, was die hoeveelhede bietjie min vir die menger en ek het die sand en klip aangepas na 3 grawe elk en die sement na een-en-‘n-kwart. Jou betonmenger moenie te leeg of te vol wees nie. Om te meng, gooi eers die klip in die menger, met ‘n bietjie water en skakel aan. Dit help om hom bietjie skoon te kry na elke keer se meng. Dan die sement en na dit die sand. Dan moet jy bietjie-bietjie water bygooi tot die tot die “consistency” net reg is. Jy sal met ondervinding leer as dit te slap of te styf is.

Aangesien ek nie wil hê enige vuilgoed moet ooit daar groei nie, het ek besluit om die plaveistene op ‘n laag sement te pak. Hiervoor kan jy nie klip insit nie, want jy moet dit kan gelyk maak. Ek het sommer op die sementsak gekyk, hulle het gesê vir “mortar” (dis nou dagha, waarmee mens gewoonlik messel) gebruik jy een deel sement en 6 dele sand. Ek het besluit om dit 1:5 te maak, so ‘n bietjie sterker. Hier moet jy regtig bietjie-bietjie water ingooi, die dagha moet lekker styf wees, anders gaan jy sukkel om dit die regte dikte onder die stene te gooi en die stene dryf sommer rond.

Ek het twee toue gespan, so 80 mm bo die grond, waartussen die plavei-paadjiie moet kom. Dan gooi jy maar die sement van ‘n kant af en werk dit bietjie gelyk met die graaf – ek gebruik ‘n gewone plat graaf daarvoor. Jy kan ook ‘n troffel gebruik om bietjie te help. Dan begin pak jy maar die stene van ‘n kant af en slaan hulle bietjie gelyk met ‘n rubberhamer – pasop net vir vingers! Ek het ondervind jy kry nie die stene 100% teen mekaar gelê nie. Nou het ek al gelees wat jy kan doen is om droë sand en sement te meng, dan strooi jy dit op die stene en vee dit met ‘n besem sodat dit in die slootjies val, spuit die stene bo mooi skoon met ‘n tuinslang en so word die sement in die slootjies ook sommer nat. Dis presies wat ek gaan doen, ek dink net daarvoor moet ek fyn pleistersand kry, nie die growwe bousand wat ek gebruik vir die beton en dagha nie.

IM000420

IM000419

Sien ook Adendorff 135-liter betonmenger.


Responses

  1. En ek vra weer: Wil jy nie bietjie daar by ons kom piece-job nie?😉

  2. Hallo daar, ek moet my vrou jou blog wys! Dis bewys dat mens genoeg tyd kan uitsit om te blog EN te DIY! (he, he)😉

  3. ‘n Nuwe gesig regs bo op jou bladsy! Jy werk hopeloos te hard naweke – kom eerder saam rotse toe – daar kry jy oefening, en jou batterye herlaai. Gewaarborg!

    Hoop alles draai waterpas uit, en dat die grasperk die knou gou sal verbloem – geen grasperk bly onaangeraak as mens bou nie!

  4. hou maar verby

  5. Die Nutsman kan gaan slaap (saam met sy groot ego), as ek so na jou luister!

  6. Ek stem Boer. Die Nutsman staan nie ‘n kat se kans teen Blok nie. Dit lyk baie netjies. Sterkte met die harde werk. Dis beslis iets om op trots te wees.

  7. ‘n Veelsydige man! Dit wil gedoen word. Weet nie waar jy die tyd kry vir alles nie.

    Mykop,jy is weer getag maar die keer met “123…storieboek…678”, sien my blog

    http//wagnbietjie.wordpress.com

  8. @Justjane: Ek het jou laas keer gesê wat jou kanse is!

    @Knersis: Ek dink jy beter dit weghou van jou vrou af, of jy kan solank begin moue oprol…

    @Skoor: dis net sulke gesonde oefening, mens se kop kan heeltemal ontspan en sy eie paadjies loop.

    @Almal, dankie vir die kommentaar, dit LYK maar so reguit op die foto! Ek het nog baie om te leer, ek het onlangs iemand se houtwerk op die net gesien wat hy as stokperdjie al gemaak het – eish, waar kom ek met my ou twee pine boekrakkies!


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: