Posted by: mykopop | Saterdag 8 Desember 2007

Koos Kombuis – Elke Boemelaar Se Droom

Front

Koos Kombuis het onlangs hard probeer om omstredenheid uit te lok met ‘n anti-ubuntu bloginskrywing, en lyk my nie so goed daarin geslaag nie. Alleman het hom hard aangevat en ek het ook daar ‘n eiertjie gelê. Dis nogal snaaks dat Koos nou só draai, as mens so kyk na sy liedjies op die CD, bv. waar hy sing “Kytie, Kytie, Kytie, jy was nie net ‘n meid nie, maar ‘n ma vir my”. Verwys ook na Ons En Hulle, waarin hy sing “hulle Braai Die Tjips Ons Kou Die Skille … maar Benewens Ons Pupille Is Daar Baie Meer Verskille tussen Ons En Hulle”. Is Koos vandag bietjie ontnugter?

Ek het so ‘n maand of so terug hierdie CD gekoop. Na bg. polemiek is dit miskien nou net die tyd om iets oor die CD te skryf. Daar is twee liedjies van Koos wat ek as baie goed beskou en altyd graag in my versameling wou hê. Hulle kom egter op verskillende CD’s voor, wat my genoop het om eers bietjie op die internet rond te kyk na al sy CD’s tot ek op hierdie een besluit het.

Ek sal maar weer, soos ek al voorheen met CD’s gedoen het, die liedjies bietjie probeer klassifiseer, amper soos the good, the bad and the ugly!

Groot kuns:

  • Bicycle sonder Slot – Ek ken iemand wat ek dink ouer as 70 is, en ‘n musiekkenner, wat ook hierdie liedjie hoog aanskryf. Koos sing nie noodwendig die liedjie die mooiste wat ek al gehoor het nie, sy stem raak bietjie dun op plekke, ek het toevallig gister na die sanger Hugo se opname geluister, wat eintlik beter is. Maar ek nou een maal ‘n singer-songwriter-junkie en hou daarvan om so nou en dan na die komponis se eie weergawe te luister – hierde voorkeur van my begin so ver ek kan onthou reeds in die 70s toe Gordon Lightfoot ‘n treffer van Kris Kristofferson se Me and Bobby McGee gemaak het, terwyl Kristofferson nog onbekend was, maar later vir my ‘n meer geloofwaardige weergawe daarvan gemaak het.
  • Lisa se Klavier – Ek het die liedjie by Laurika Rauch leer ken, maar weereens, ek hou daarvan om die skrywer se weergawe te hê.
  • Elke Boemelaar se Droom – ‘n wonderlike klavierimprovisasie op Lisa se Klavier, ek is nie seker of daar ander temas bykom nie, die pianis is Jennifer Ferguson.

Lekker:

  • Travel in Staail
  • Kytie
  • 30 Silwer Sikkels – Anton Goose se liedjie, saam met Anton.
  • Voete van Johannesburg – Ditto. Ek is seker daar is seker ‘n opname van Anton self wat net so goed of beter is, en ek dink ddisselblom het net so ‘n mooi opname. Ek sien dus nie eintlik die rede vir die insluiting nie.

Interessant:

  • Prayer for Port St. Johns – In 1975 was ek deel van ‘n groep skoolkinders wat Transkei toe is om te gaan sendingwerk doen. Dit het eintlik maar daaruit bestaan om traktaatjies en ander materiaal te help verpak. Ons het ook een dag langs die see by Port St. Johns gaan probeer om met die mense te kommunikeer, maar ons kon nie eintlik nie want ons het nie hulle taal verstaan nie, en kon ook nie eintlik Engels praat nie – ons was van Upington. Koos sing “when I saw Port St. Johns for the first time”. Dit was ook my eerste keer, en tot dusver die laaste. Ek het nie ‘n kamera besit nie. Van die reis het ek ‘n Holy Bible waarin ek geskryf het: “Bought in Umtata, 26 March 1975”.
  • Ons en Hulle

Oukeierig:

  • Boer in beton (+reprise). Ek kan nie sê die reprise doen iets ekstra vir my nie, nie soos die reprise van Duisend Myl Blues op Valiant Swart se Deur Die Donker Valei CD nie.
  • Rooi kombuis
  • Kaptein Koebaai
  • Johnny is nie dood nie – maar hy vloek bietjie.
  • Springbokheld

Gemors:

  • Radio Kombuis 1-5 : Humoristies, maar ek sou die liewer by ‘n konsert gebruik het, want dis beslis nie meer as een luister werd nie.
  • Babilon
  • Sommige Ou-Tannies-Blues

Na my mening kan die laaste 7 snitte wat ek noem plus die 2 Anton Goosen snitte weggelaat gewees het, om net 13 van die 22 oor te los, en dit eintlik ‘n beter CD te maak. Koos Kombuis is ‘n groot kunstenaar, hy is al as digter Andre Letoit bekend lank voor hy vir musiek bekend geword het, kyk bv. in Komrij, b. 941, na die gedig FLORAUNA, ek haal die eerste vers aan:

ek wil vir jou ‘n gewelhuisie bou

in die boland van my hart

met ‘n peerboom in die tuin

en vaatjies wyn in die kombuis

en ‘n tuinhekkie met krulle

en boekrakke met sartre.

Hy moet net leer om sy werk te sif. Om góéd te skryf moet jy soms baie wyer dink en baie skribbel, maar dan moet jy die gemors weggooi. Ek hou ook nie daarvan dat ‘n skrywer skoktegniek probeer gebruik (bv. met boeke soos The Secred Diary of God) om aandag te trek nie. Tot Koos dit geleer het, of weer vorendag kom met ‘n liedjie soos een van die twee heel bo-aan, dink ek ek sal volstaan by hierdie CD van hom.


Responses

  1. Vir my is “bicycle sonder slot” een van die mooiste liedjies wat ooit in Afrikaans gepen is. “Lisa se klavier” is eweneens pragtig! Koos se gedig oor “nooit weer wil ek WP op Nuweland sien verloor nie” (kan nie die titel onthou nie) bly my altyd by.

    Oor Koos se gewraakte artikel (hy het dit opgevolg met nog ‘n inskrywing, genaamd: “fuck equal rights”) is miskien ‘n aanduiding dat Afrikaners so gatvol begin raak vir dinge in SA, dat hulle besig is om perspektief te verloor.

  2. Ja Boer, soos ek al aangedui het, ek, en baie ander, was ten gunste van gelyke regte, maar noudat ons veronderstel is om dit te hê, vind ons “some of us are more equal”.

  3. Lisa se klavier is pragtig! Ek het hom ongelukkig nie hier op die CD wat ek het nie…maar ek onthou hom, hy is een van daardie wat jy nie sommer vergeet nie!

  4. ek onthou toe ek die eerste keer vir koos ontdek het, ek het hierdie CD van hom saam met Johannes Kerkorrel en die gereformeerde Bluesband se Eet Kreef gekoop.
    ek speel tot vandag nog Travel in Staail op die radio en elke nou en dan na ‘n paar glasies Tequila luister ek albei CD’s kliphard met my Sennheiser oorfone en dan glo ek weer daar is ‘n toekoms vir afrikaans!

  5. In my storm en drang jare het ek Die Kanaries (koor) Lisa se Klavier hoor opvoer. Dit was fantasties. Lisa se Klavier is beslis in my top 10 liedjies van alle tye, maar hy val werklik uit die bus uit met die ou tannies liedjie. Ek was by ‘n show van hom in Vishoek vroeer die jaar en was baie teleurgesteld.

  6. Ek sit baie en wonder

    wie raak oud….

    ek of Koos


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: