Posted by: mykopop | Maandag 8 Oktober 2012

Facebook-Flitse

Net vir die rekord – volgens Google sien ek nie dat iemand bg. titel al gebruik het nie.  Dit is dus myne.  Ek wil so ‘n liedjie skryf.  Met die woord “vonkpos” in, en dit opdra aan oom Fanus, wat die woord uitgedink het.

Die liedjie moet ook terugreik na my kinderdae, toe my ma haar familiebriewe in ‘n reghoekige tjoklik- of koekieblik gebêre het.  Briewe wat ons skelm gelees het as my ma en pa dorp toe was.  Dit, vs. hoe families deesdae deur die internet kontak behou.

Posted by: mykopop | Donderdag 30 Augustus 2012

Raspberry Pi vir jou?

As ‘n mens nou selfone ook as rekenaars klassifiseer, seker nie die kleinste rekenaar wat daar is nie, dalk wel die kleinste waaraan jy ‘n sleutelbord en muis kan koppel, en ander USB toestelle, met ‘n HDMI kabel na ‘n skerm of TV.  Die bedryfstelsel (Linux) word op ‘n SD geheuekaart gelaai.  Krag word deur ‘n selfoonlaaier verskaf.

Die ouens wat hiermee vorendag gekom het, het op rekenaars soos die Commodore 64 en die BBC Micro grootgeword, en reken dat gewone rekenaars nie die ding is om vandag se kinders aan die programmeer te kry nie.   Kyk by http://www.raspberrypi.org.

Ongelukkig is dit nie baie beskikbaar op die oomblik nie, ons moes eers ons name op ‘n waglys sit, so 9 weke gelede is ek laat weet ek kan bestel, en gister het ek myne gekry.  Die aanvraag is eenvoudig te groot. Hulle sê $25, maar op de ou end het dit my so tussen R400 en R500 gekos.

Posted by: mykopop | Vrydag 24 Augustus 2012

Taalgoggas en ander karakters

Camponotus  fulvopilosus, oftewel “die kakiebroeke”.  Meer bekend as die balbyter.

Cobus Bester van RSG het blykbaar so ‘n jaar gelede die Facebook-groep genaamd “Taalgoggas en Balbyters” begin, die doel kortliks, om “taalsake rond te skop.”

Ek het eers so ‘n paar weke gelede daarvan uitgevind en aangesluit.   Ek geniet my regtig gate uit daar!

Daar word natuurlik in elke gesprek oor ‘n taalkwessie ook twakgepraat asof dit ‘n epidemie is, die kreatiwiteit om met kwinkslae vorendag te kom is ongelooflik.

Soos die naam aandui is dit allermins so formeel as ‘n ander groep, “Die Afrikaanse Taalkomissie”.  Hier en daar is daar natuurlik ‘n ou wat gewoonlik ‘n gesprek in ‘n ongewensde rigting wil laat neig, maar hulle word tereggewys en op die ou end word daar darem na die taalsaak teruggekeer.

Foto: Panoramio, verwerk

Die groep het op die oomblik so 1000+ lede.  Dit lyk vir my baie van hulle werk in vertaling, taalversorging, joernalistiek en kreatiewe skryfkuns, maar ek sien darem ook gewone onderwysers en predikante.  Ek is nie seker of ek die enigste rou amateurtaalkundige daar is nie.

Hoe lyk dit, kan ons ‘n inval van nuwe goggatjies en  kakiebroeke  verwag?

Posted by: mykopop | Vrydag 6 Julie 2012

Gerrit Komrij, die Taalsmid

30 Maart 1944 – 5 Julie 2012

Ek het een keer ‘n langerige stuk van Gerrit Komrij aangehaal, waar hy skryf oor die vrye vers.  Ander verwysings na hom in my inskrywings mag nog vele wees.

Ek weet self nie vreeslik baie van hom nie, op Wikipedia word hy beskryf as “Dutch poet, novelist, translator, critic, polemic journalist and playwright.”

Wat vir Afrikaanssprekendes van belang is, is die bundel “Die Afrikaanse poësie in ‘n duisend en enkele verse” wat hy saamgestel het.  Dis is in 1999 uitgegee.

Daarbenewens onthou ek nog die anagram wat hy gemaak het uit die letters van sy naam en van: “Ik rijm erg rot.”  Aangesien ek nog maar min of lank laas van sy eie digwerk gelees het, moes ek gaan soek om te sien of dit waar is of nie.  Ek het op die volgende een afgekom waarvan ek hou:

De Taalsmid

De klinker en de medeklinker zijn
De weke onderbuik en het korset
Dichter is hij die, schijnbaar zonder pijn,
Het vormeloze in de steigers zet.

Zijn woorden, corpulent of slank van lijn,
Verenigen zich vloeiend tot couplet.
De moeiteloosheid, niet het rookgordijn,
Is zijn geheim. Met taal gaat hij naar bed.

De taal, van A tot Z, is zijn fles wijn.
Halfdronken wordt er, zomaar voor de pret,
Een kind verwekt, een epos of kwatrijn,

Of iets daartussenin, zeg een sonnet,
Terwijl de lezer onbekend blijft met
Zijn worsteling met spekvet en balein.

Uit: ‘Nieuwe gedichten’,1999.

Posted by: mykopop | Sondag 1 Julie 2012

Op My Boeketafel (Mei-Junie 2012)

In vergelyking met die hoeveelheid boeke wat ek net in April vanjaar gelees het, lyk die oes maar skraal!  Ek was egter heel tyd aan die lees, glo my.

Asbesmiddag   deur Etienne van Heerden

Eintlik kan mens amper sê dis die laaste boek wat ek in die twee maande gelees het, en ek was omtrent middel Mei klaar daarmee.  Die laaste roman in elk geval, dit sal lekker wees om môre of so weer ‘n slag met ‘n “storieboek” te kan begin.

Die verhaal gaan oor ‘n man wat meestal net “Die skrywer” genoem word.  Hy het pas ‘n suksesvolle roman op die rakke en moet hard probeer om dit op te volg.  Eintlik is hy ‘n professor by die Universiteit van Kaapstad, waar hy kreatiewe skryfkuns doseer.

Hy woon op ‘n dorp naby Kaapstad, ek vermoed dis Somerset Wes, maar my kennis van die Kaap is nou nie so goed nie.  Dis hier waar hy gereeld na die haarsalon van ‘n Italianer gaan, nie net om sy hare gesny te kry nie, maar ook om bietjie gepamperlang te word.   Dis hier waar hy een middag ‘n ou skatryk asbesmagnaat ontmoet, ook met ‘n insident rakende een van die werkers by die salon wat iemand aan kanker weens asbes verloor het.

Die magnaat was saam met Die Skrywer se pa op skool.  Sy pa was ‘n karakter op sy eie, wat die familieplaas geërf het, maar een na die ander plan  probeer het en oplaas in ‘n sirkus gewerk het en later die familieplaas verloor het.

Daar is ook romanse in die storie, wanneer die skrywer ‘n heelwat jonger vrou ontmoet, ‘n strokiesprent-tekenaar/skrywer, wat nogal heel antagonisties is oor die nut van sy kuns.

Die boek is by uitstek ‘n boek vir literatuurvrate wat belang stel in die skryfproses en die skrywer se gewroeg daarmee.  ‘n Uitstekende boek, vir my nie so goed soos 30 Nagte in Amsterdam nie, maar nogtans ‘n boek wat ek hopeloos te lank nagelaat het om te lees.

Herman Charles Bosman – Between the Lines   deur Valerie Rosenberg

Ek wou bietjie navorsing doen oor Herman Charles Bosman.   Ek het op hierdie boek afgekom by Google Books, waar ek ‘n klompie bladsye daarvan kon lees.   Ek het toe een middag die tweedehandse boekwinkels ingevaar, maar net met ‘n Pictorial Biography teruggekom.  Ek kon toe gelukkig ‘n eksemplaar iewers bestel.

Die lesery oor Bosman het eintlik die grootste gedeelte van die twee maande opgeneem.  Dit was fassinerend en soms hartroerend.  Ek vertel julle in ‘n ander skrywe meer daarvan!

Intieme Afwesige   deur Cas Vos

Ek het in 2007 vir die eerste keer van prof. Cas Vos gehoor, van beroep ‘n dosent in teologie.  Moet egter nie dat die feit jou enigsins laat twyfel daaraan dat hy sensuele en selfs erotiese verse kan neerpen nie.

In 2007 het ek oor sy bundel Die afdruk van ons hande geskryf.  Hy is lief om antieke tekste as voedingsbron vir sy gedigte te gebruik.   In daardie bundel was ‘n reeks gedigte gebaseer op die Gilgamesh-epos van ongeveer 2500 V.C.

In hierdie bundel is daar weer ‘n afdeling gebaseer op die briewe van Abélard en Heloise, ongeveer 1100 N.C.

Die bundel bestaan uit vyf dele, waarvan bg. net een is.   Net om ‘n idee te gee van die aard van sy gedigte, ‘n kort aanhaling uit “Ek pluk vir jou rose”:

Herfsdae is skifryp, blare torring los,

die roksome van die stad rafel uit,

Wielewale sing en kleur elke bos,

Die wind speel in blare se ore fluit.

Op dié herfsdag vermoed ek ‘n gedig,

staan ek op om dit net vir jou te pluk.

En uit ‘n ander gedig,  “In die tuin van die nag”, die laaste strofe:

O Liefste

in die tuin van die nag

lui die aandklok jou lof.

Kom nader en blaas

jou geurige asem oor my

dat ek jou liefde kan ruik,

netnou is die kort verblyf verby.

Daar is nog gedigte oor ‘n verskeidenheid onderwerpe en mense, o.a. een oor Edith Piaf en een oor Katie Melua.  Daar is ook twee gedigte, “kersrook” en “voor ek vergeet”, opgedra aan die kunstenares Diane Victor, wat met rook tekeninge maak.  Daar was onlangs ‘n uitstalling van haar by UJ se kunsgalery, wat ek ongelukkig misgeloop het.  Op die voorblad is een van haar werke.

Net soos die vorige bundel, ‘n uitstekende werk, soos die vorige een ook in hardeband, wat dit ekstra spesiaal maak.

« Newer Posts - Older Posts »

Kategorieë