Posted by: mykopop | Sondag 1 Julie 2012

Op My Boeketafel (Mei-Junie 2012)

In vergelyking met die hoeveelheid boeke wat ek net in April vanjaar gelees het, lyk die oes maar skraal!  Ek was egter heel tyd aan die lees, glo my.

Asbesmiddag   deur Etienne van Heerden

Eintlik kan mens amper sê dis die laaste boek wat ek in die twee maande gelees het, en ek was omtrent middel Mei klaar daarmee.  Die laaste roman in elk geval, dit sal lekker wees om môre of so weer ‘n slag met ‘n “storieboek” te kan begin.

Die verhaal gaan oor ‘n man wat meestal net “Die skrywer” genoem word.  Hy het pas ‘n suksesvolle roman op die rakke en moet hard probeer om dit op te volg.  Eintlik is hy ‘n professor by die Universiteit van Kaapstad, waar hy kreatiewe skryfkuns doseer.

Hy woon op ‘n dorp naby Kaapstad, ek vermoed dis Somerset Wes, maar my kennis van die Kaap is nou nie so goed nie.  Dis hier waar hy gereeld na die haarsalon van ‘n Italianer gaan, nie net om sy hare gesny te kry nie, maar ook om bietjie gepamperlang te word.   Dis hier waar hy een middag ‘n ou skatryk asbesmagnaat ontmoet, ook met ‘n insident rakende een van die werkers by die salon wat iemand aan kanker weens asbes verloor het.

Die magnaat was saam met Die Skrywer se pa op skool.  Sy pa was ‘n karakter op sy eie, wat die familieplaas geërf het, maar een na die ander plan  probeer het en oplaas in ‘n sirkus gewerk het en later die familieplaas verloor het.

Daar is ook romanse in die storie, wanneer die skrywer ‘n heelwat jonger vrou ontmoet, ‘n strokiesprent-tekenaar/skrywer, wat nogal heel antagonisties is oor die nut van sy kuns.

Die boek is by uitstek ‘n boek vir literatuurvrate wat belang stel in die skryfproses en die skrywer se gewroeg daarmee.  ‘n Uitstekende boek, vir my nie so goed soos 30 Nagte in Amsterdam nie, maar nogtans ‘n boek wat ek hopeloos te lank nagelaat het om te lees.

Herman Charles Bosman – Between the Lines   deur Valerie Rosenberg

Ek wou bietjie navorsing doen oor Herman Charles Bosman.   Ek het op hierdie boek afgekom by Google Books, waar ek ‘n klompie bladsye daarvan kon lees.   Ek het toe een middag die tweedehandse boekwinkels ingevaar, maar net met ‘n Pictorial Biography teruggekom.  Ek kon toe gelukkig ‘n eksemplaar iewers bestel.

Die lesery oor Bosman het eintlik die grootste gedeelte van die twee maande opgeneem.  Dit was fassinerend en soms hartroerend.  Ek vertel julle in ‘n ander skrywe meer daarvan!

Intieme Afwesige   deur Cas Vos

Ek het in 2007 vir die eerste keer van prof. Cas Vos gehoor, van beroep ‘n dosent in teologie.  Moet egter nie dat die feit jou enigsins laat twyfel daaraan dat hy sensuele en selfs erotiese verse kan neerpen nie.

In 2007 het ek oor sy bundel Die afdruk van ons hande geskryf.  Hy is lief om antieke tekste as voedingsbron vir sy gedigte te gebruik.   In daardie bundel was ‘n reeks gedigte gebaseer op die Gilgamesh-epos van ongeveer 2500 V.C.

In hierdie bundel is daar weer ‘n afdeling gebaseer op die briewe van Abélard en Heloise, ongeveer 1100 N.C.

Die bundel bestaan uit vyf dele, waarvan bg. net een is.   Net om ‘n idee te gee van die aard van sy gedigte, ‘n kort aanhaling uit “Ek pluk vir jou rose”:

Herfsdae is skifryp, blare torring los,

die roksome van die stad rafel uit,

Wielewale sing en kleur elke bos,

Die wind speel in blare se ore fluit.

Op dié herfsdag vermoed ek ‘n gedig,

staan ek op om dit net vir jou te pluk.

En uit ‘n ander gedig,  “In die tuin van die nag”, die laaste strofe:

O Liefste

in die tuin van die nag

lui die aandklok jou lof.

Kom nader en blaas

jou geurige asem oor my

dat ek jou liefde kan ruik,

netnou is die kort verblyf verby.

Daar is nog gedigte oor ‘n verskeidenheid onderwerpe en mense, o.a. een oor Edith Piaf en een oor Katie Melua.  Daar is ook twee gedigte, “kersrook” en “voor ek vergeet”, opgedra aan die kunstenares Diane Victor, wat met rook tekeninge maak.  Daar was onlangs ‘n uitstalling van haar by UJ se kunsgalery, wat ek ongelukkig misgeloop het.  Op die voorblad is een van haar werke.

Net soos die vorige bundel, ‘n uitstekende werk, soos die vorige een ook in hardeband, wat dit ekstra spesiaal maak.


Responses

  1. Ek het gesukkel met Asbesmiddag en dit nooit klaar gelees nie, maar dalk moet ek weer probeer. Jy het my nou weer nuuskierig gemaak🙂

  2. Ek het self gewroeg met Asbesmiddag en bly lees omdat ek heimlik gehoop het dit sou opwerk na ‘n klimaks. Dié het toe nooit gebeur nie, in die plek daarvan kon ek byna nie glo hoe baie oor ‘n handvol temas gemymer kon word in soveel beskrywende taal nie, sonder om ooit dieselfde beelde of metafore te herhaal. Voorwaar nie aksiebelaai nie, maar uit ‘n literêre oogpunt nogal merkwaardig. Iets wat ek weer sou greep-lees as ek inspirasie soek vir kleurvolle skryfwerk.

  3. @kaalvoetklonkie: Puik beskrywing! Wat ook verstommend is, is van Heerden se wye verwysingsraamwerk na ander skrywers waarvan ek nog nooit eens gehoor het nie.

    @Son: Miskien was jy toe nog net nie op die regte plek in jou lewe nie. En goed wat die moeite werd is kom mos nie altyd maklik nie.


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: