Posted by: mykopop | Dinsdag 11 Desember 2007

Die afdruk van ons hande – Cas Vos

Hierdie digbundel kan ‘n onvergeetlike Kersgeskenk wees vir jou geliefde, of jouself, of enige liefhebber van digkuns.

afdrukvanonshande

 

 

 

 

Ek het die boek nou so ‘n bietjie meer as ‘n maand, ek het nog nie alles gelees nie, en van die gedigte het ek al oor en oor gelees.. Aangesien die boek onder kopiereg is, is dit moelik om van die gedigte daaruit te bespreek. Daar is wel een gedig wat reeds op twee plekke op die internet staan, dus haal ek dit met vrymoedigheid hier aan:

 

 

 

 

 

 

Alzheimer’s (Cas Vos – uit: Die Afdruk van ons hande)

Ek weet nie
hoe om vir jou te sê:
elke dag se gestadige dood,
verstomping van die sinne,
trae sloping,
gruwelike misverstand.

Die wind kniel in die stof
en snik ontroosbaar
omdat jy ’n wil-niks-weet geword het.

Uit jou mond het water gemurmel,
nou kou jy net droë korsies.
Jou hande was porseleinkelke
waarin ek my liefde kon skink,
en nou: verstrooide skerwe.

Ek wat so behendig
saam met jou die liefde gemaak het,
ek is nou vir jou ’n wildvreemde.
In ’n spieël gewaar jy vaag (en weg)
die buitelyne van ’n opgedoemde.

Ek weet nie
hoe om vir jou te sê nie:
ek sal jou altyd liefhê
totdat die dood jou,
liefste, van my afsny.

Ek hoop dat die een gedig darem ‘n voorsmaak gee van wat om te verwag. Daar is een gedig wat my amper bietjie geskok het (bl. 16), ek het regtig gedink, hoe kan ‘n teoloog, voorheen ‘n dominee, so iets skryf! Ek gaan net die eerste paar reëls aanhaal:

Die Here is nie my herder nie,
ek kom alles kort.
Hy lei my na leegtes,
laat my bloedsweet,

Eers teen die einde van die gedig kry dit vir my ‘n ander, dieper, betekenis. Gaan lees maar self, bl. 16. ‘n Ander gedig waarvan ek hou is Johny Cash, bl. 56.

Aanbevelings op die agterblad lees so:

“Deur die verse loop ‘n sterk sensualiteit en ‘n boeiende aktualiteit, ook betreffende die Afrika-werklikheid. ‘n Hoogtepunt in die bundel is die reeks ‘Uruk-fragmente’, ‘n digterlike herskepping van die klassieke Gilgamesj-epos wat beskou word as een van die belangrikste oertekste in die wêreldletterkunde.” (Henning Pretorius)

“Hierdie reeks ‘Uruk-fragmente”, gebaseer op die Gilgamesj-epos, is briljant.” (Phil Botha)

“‘n Sterk punt van hierdie bundel is die vermoë tot konkrete beelding, taalgevoeligheid en binding. Die taal en beelding is vars en verrassend. … besonder mooi gedigte” (Louise Viljoen)

Ek stem saam oor die Uruk-fragmente. Jy kan by Wikipedia lees oor Gilgamesj, en ‘n daar is elders ‘n lang Engelse weergawe van die epos beskikbaar. Op bl. 95 is ‘n afdeling Toegange, wat inligting gee oor mitiese figure wat in die eerste dele van die boek voorkom, en dan vanaf bl. 97 ‘n afdeling spesifiek oor die karakters in die Uruk-fragmente en meer inligting oor die Gilgamesj-epos. Dus hoef jy nie regtig ekstra navorsing te gaan doen voor jy die boek lees nie.

Die titel van die boek kom voor in die derde Uruk-fragment, op bl. 77: “Isjtar, bedoel jy regtig die afdruk van ons hande sal versmelt?” Die motief word ook elders in die boek gebruik, bv. in die heel eerste gedig “Die Langbeenmeisie”: Haar somerlyf is geurig uitgedy / en die afdruk van haar hande lê / op dragte vrugte wat die dae vul. Ek dink dit kom nog meer kere voor.

Ek verwys graag na ‘n paar bronne op die internet:

Die uitgewer Protea Boekhuis
Boekbekendstelling
Litnet Versindaba

Ek dink die TV-program 7de Laan, al is dit ‘n sepie, moet erkenning kry vir die bydrae om Afrikaanse digkuns meer gewild te maak. Die gedig (soos van vlerke), naam kompleet met die hakies, van Breyten Breytenbach is gebruik as Dezi en Theuns se gedig, en die toonsetting daarvan is ook in die program gebruik. Chris Chameleon is gevra om toonsettings te maak vir die program en het Ingrid Jonker se gedigte gekies.

So ‘n rukkie na ek begin blog het, het ek besef die gedig van Breytenback is ‘n diep gedig en ek het besluit om na elke moonlike betekenis daarin te soek, vandaar my inskrywing Rooiborsduif. Nadat ander mense kommentaar gelewer het, het ek met nuwe perspektiewe weer op die internet begin soek en maak toe so kennis met Cas Vos, deur ‘n pdf dokument (Maar my voete wil nou sing) van hom wat op die internet beskikbaar is, sien asseblief my opvolginskrywing, Rooiborsduif (2). In die boek is daar ‘n nuwe variant, Allerliefste, op bl. 33.

Indirek, as dit nie vir 7de Laan was nie, sou ek dalk nooit, of eers baie later van Cas Vos uitgevind het.

Op daardie tydstip was ek nog by blogspot.com, wat nie al die statistieke bied wat WordPress het nie. Ek het dus Amatomu gebruik om te sien watter van my inskrywing gewild is. Tot ek einde Oktober na WordPress geskuif het, was die twee Rooiborsduif inskrywings die gewildste. Ek dink dit het bv. weer ‘n keer in 7de Laan ter sprake gekom, dan is dit weer meer gelees. So het ek dikwels by myself geglimlag: My duif kom op, en my duif gaan onder. Dis nou tot ek oor is na WordPress toe, dit het my duif heel bebodder.

Dis vir my jammer dat ek nog nooit die boek in ‘n boekwinkel hier naby my in die Wesrand gesien het nie. As jy in een van die stede is waar Protea Boekhuis ‘n winkel het, gaan koop dit maar by hulle of kry kontakbesonderhede op hulle webwerf.

Die boek is ‘n hardeband sonder stofomslag, met ‘n lint as plekhouer. Dit voel sommer soos kwaliteit in die hand, en so is dit ook binnekant.


Responses

  1. Dis regtig ‘n baie mooi gedig!

  2. Baie mooi gedig!! Dit lyk my ook dink aan die fliek “The Notebook” – ongelooflike mooi rolprent – een wat ek nooit sal vergeet nie!!

  3. Ek vrek oor gedigte. Nou het ek nog iets op my kerswenslysie. Dankie Kop! Is pragtig.

  4. Baie mooi gedig en ek sal moet terugkom vir Rooiborsduif…oppad uit nou!Lekker dag!

  5. Baie dankie vir die ressensie. Ek gaan verseker vir my die boek koop.

  6. wow, ek sal dit nogal wil lees.

  7. […] 2007 het ek oor sy bundel Die afdruk van ons hande geskryf.  Hy is lief om antieke tekste as voedingsbron vir sy gedigte te gebruik.   In daardie […]


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: