Posted by: mykopop | Dinsdag 1 April 2008

Hierdie is geen grap nie!

Vandag, 20 jaar gelede, op 1 April 1988, het ek by die Uitsaaikorporasie op Upington begin werk. Of eintlik nie werk nie, want sien, by ‘n Senderbeheersentrum werk dit so: Senders en Bystandkragopwekkers (as Eskom afgaan) besluit om moeilikheid te gee op onbeskaafde tye, so word baie oortyd gewerk en weer afgeneem. Die bestuurder het toe besluit aangesien almal die dag af is, kan die groentjie ook maar die ure vooruit afneem. So begin ek dan toe my loopbaan deur ‘n dag af te neem!

Ek moet darem een of twee storietjies uit die 20 jaar vertel. Benewens ons primêre werk, senderinstandhouding, moes ons ook luisteraars- en kykersklagtes ondersoek. So kry ons toe ‘n klagte van die destydse hoof van die Augrabies Nasionale Park, Nico van der Walt. (Terloops, ek vermoed hy is dalk familie van die skrywer van die boek Augrabies Weelde, waaroor ek onlangs geskryf het.) Daar hardloop elke sekond ‘n blink streep oor sy TV-skerm.

Alle moontlikhede is ondersoek. Die elektriese heinings om die park is afgeskakel – dis nie dit nie. In sy huis is elke horlosie van die muur afgehaal en die batterye uitgehaal. Ons het Telkom daar gehad om hulle stelsels af te skakel. Niks wil help nie. Dis toe al ons derde besoek aan Augrabies. Ons ry met ‘n voertuig en ‘n toetsinstrument, een van ons hang met ‘n antenna by die venster uit en soek die sterkste sein. Van alle rigtings af is die sterkste sein op een plek: Nico se huis!

Ons is toe maar weer in die huis is, maar as jy so naby is, help dit nie meer om die antenna rond te draai nie, hy lyk in alle rigtings ewe sterk. Toe kom daar ‘n jong natuurbewaardertjie daar in. Ek sê vir hom: “Jong, julle het seker een van daardie renosterhorings met ‘n sendertjie in hier iewers in die huis gesit.” “Ja”, sê hy, “daar is ‘n paar horings in Nico se garage!” Ons kry toe die horing waarin die sender toegemessel is, vat hom na die kantore daar by die restaurant en sit hom binne-in die kluis. Probleem opgelos!

Toe ek op 2 Januarie 1997 hier moes begin, kry ek eers op 20 of 21 Desember bevestiging dat ek die pos gekry het. Maar daar het nog eers ‘n “afskeid” vir my gewag! In die laaste naweek wat ek bystanddiens doen, gaan die senderstasie by Douglas (Bucklands) heeltemaal dood een aand. Daar gekom vind ons die Eskom krag het afgegaan en daar het ‘n fout by die kragopwekker gekom – i.p.v. om aan te skakel, het hy omtrent die hele tenk diesel op die vloer uitgepomp. Die vloer was van so ‘n aard dat dit opgedam en nie uitgeloop het nie. Toe moes ons die hele nag staan en diesel opskep en met lappe opdroog!

Alhoewel ek nie meer vir die Uitsaaikorporasie werk nie, het my dienskontrak aangegaan toe ons van hulle afgeskei is.  Dus het ek vandag 20 jaar ononderbroke diens. (Dis nou behalwe van dag een!)

In die 20 jaar het ek darem ook die voorreg gehad om met opwindende tegnologie te werk, tegnologieë waar daar maar ‘n paar mense per land is wat daarmee werk. (Ongelukkig beperk dit natuurlik ook die moontlike werksgeleenthede, miskien deel van die rede hoekom ek al besig is om deel van die meubels te word.) Met die beplande uitrol van digitale TV in Suid-Afrika vanaf November 2008, lê daar sekerlik nog heelwat opwinding voor in die volgende paar jaar!

‘n Aangename Gekkedag vir julle almal!


Responses

  1. geniet jou dag

  2. Lekker gelees aan jou storie. Dis darem besonders om vir so ‘n lank tyd saam met dieselfde mense te werk. Ek is seker daar is vriendskappe gebou wat nooit verbreek sal word nie.

  3. Dit was nou regtig interessant, Kop. Jy kan gerus nog vertel van jou jare by die UItsaaikorporasie.

  4. Dankie vir die lekker storie, Kop. Ek stem saam met Sonkind, vertel ons gerus nog staaltjies van daardie dae.

  5. Lekker storie, maar ek kan nie glo Telkom het wel opgedaag om te kom help soek na die fout nie.

  6. Hallo C
    Shoe en nou is dit dus …die Sentech toring wat haar seine uitstuur in die nag.
    Die sendertjie toegemessel in die bok se horings? Het ek reg verstaan? Digitale TV?
    Interessant die vertelling van jou. Werklik iets om aan te kou. Jy het werklik soveel ondervinding van uitsaaitorings. So ‘n ingewikkelde storie om so die golwe deur die lug te stuur of werk dit met sateliete ook deesdae?
    Groete van website tot bloksite….van my , die non-tegnoloog musikoloog…
    A.

  7. Dankie julle, ek weet nie of daar regtig nog veel staaltjies is nie, maar ek probeer maar redelik werk en blokskrywery van mekaar af hou. So as daar is spaar ek hulle maar vir die kampvuuraande eendag.

    Ja, Annora, ons saai al so 11 of 12 jaar digitaal op satelliet uit. Ek wag dat die regering met die “spec” van die terrestrieële “set-top-box” vorendag kom, dan sal ek dalk iets skryf oor van die aspekte daarvan. Intussen wil ek net sê: Moenie nou enige skerm koop net omdat hy groterig of platterig is nie!

  8. Oukei! So, reg so dankie. So gan die golwe eers na die sateliete toe en kom dan terug na die torings toe of andersom.
    Skies …eks regtig oerdom
    Oukei eks jamer Blommie


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: