Posted by: mykopop | Vrydag 22 Februarie 2008

JAN TUISBLY SE SPANNETJIE

(Etienne van Heerden)

deesdae kies baie vuurvlieë
koers na Kanada of Australië
maar ons geankerdes sal gekreef
in singels van die steenbok leef;
met ‘n suiderkruis opgesaal
ver van huis ‘n halfrond afgedwaal,
gepos deur ‘n verdwaalde skippie
op Afrika se soutste tippie,
‘n spesie wit en vreemd
ingeburger tuis ontheemd.

Suid-Afrika: bly of gly? ‘n Onderwerp wat telkens sy verskyning in blogland maak, ook onlangs by kruidjie-ROER-my-nie: Ek Wonder Vandag. Toevallig was ek op daardie tydstip besig om hierdie digbundel van Etienne van Heerden, Die Laaste Kreef te lees, en ek het hierdie gediggie vir haar aangestuur. Mens is eintlik verstom oor die versiendheid van die man – die bundel het in 1987 verskyn! Wat die issue aanbetref: hierdie kreef is ‘n skerpe-joen, hy sal bly sit, as word die water ook hoe warm!

Die digbundel is in die volgende afdelings onderverdeel:
TUISTES
GODE
MINNE
STAMME
REPUBLIEKE

laaste-kreef.jpg

Ek het die bundel taamlik vinnig deurgelees en sukkel nog bietjie om heeltemal agter die kap van die byl te kom. Ongelukkig is dit ‘n biblioteekkopie, so as jy hom het of iewers raakloop, onthou, soos Lucas Maree in die liedjie van daardie hoed sing: Ek sal dit graag by jou wil koop of vir iets beter ruil!

Die boek begin met die die gedig:

MOTIEF (Etienne van Heerden)

motief vir hierdie stief
te berde bring van ‘n kring
van sterre is die verre
wydsbeen kreef wat eeue
reeds hemels leef steeds
tussen skutter, leeu en maagd:
uit die bodem van die see geruk
gewaag in ‘n dieper oseaan
deur ‘n haastige god laat staan
om oor aardlinge se stram gebuk
op land en op see te waak
oor hul wandelinge skemer afskynsels
van hoogsilwer hemelse verskynsels.

En nou, die mooiste gedig, waarin die titel van die bundel ook voorkom:

SONSONDERGANG OP BOULEVARD (Etienne van Heerden)

dat juis jý
nou teken moes word
van die tye:
die een wat steeds lewend
gevonnis word tot die dood
in salonne van ‘n stad –
uitgestal op groenslaai
en vergesel van ‘n pikante rosé
‘n maantjie suurlemoen
‘n akkordeon die slanke pols
van ‘n vrou die selfversekerde geel
van ou ivoor ‘n snesie teen mondhoeke
vertroude woorde niks meer as gebare
tussen mense wat mekaar
inkennig reeds vir eeue begryp;
jy, klein diertjie
uit die sjampanje van Clifton
gehaal om elegant te sit
op die mooiste tafel:
ek eet jou met respek
ek weier die weemoed
ek verlustig my in die vrou
se fyn nek haar vinger strelend
teen die koel glas se steel.
jy is -terwyl die Son op aandkwik dobber
en ons lui deur glas na buite kyk –
die laaste
en heerlikste kreef.

Ja, dis reg so Skoor, maak hulle maar eers mooi saggies aan die slaap!


Responses

  1. Ai jinne, Kop, nog ‘n boek wat ek nou moet gaan kry! Ek is mal oor daardie eerste gedig heelbo – dit sny so 100% teen die been.

  2. Ek hou ook van veral daardie eerste gedig. In dieselfde lyn, het jy Lewies se gedig oor emigrasie gesien?
    http://ensovoorts.wordpress.com/2008/02/21/die-afrikaner-diaspora/

  3. Dis ‘n betowerende bundel van ‘n baie begaafde en wereld bekende skrywer.
    Jy kan ‘n kopie aanvra by Tafelberg uitgewers in Kaapstad.

  4. Goedenavond,
    ik versta er niet veel van maar het klinkt leuk en vooral ritmisch…
    Groeten uit Vlaanderen

  5. sorry, ik had mijn url verkeerd getypt 😦

  6. Maar mens sien die Suiderkruis ook hier in Australie!

  7. Dit is so Maryna, maar julle het nie daar ‘n Tafelberg, ‘n Kimberley se gat, ‘n Kenhardt of Zuma’s om te irriteer nie.

  8. Jy was weer lekker diep in die gedigte gewees! Mooi gedigte!

  9. hey, hou jy ook van sy romans? …of verkies jy sy gedigte?

  10. […] Die Laaste Kreef – Etienne van Heerden (1987): Ek het al een gedig en andere hieruit aangehaal toe ek dit uit die biblioteek geleen het – Jan Tuisbly Se Spannetjie. […]


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: