Posted by: mykopop | Sondag 13 Desember 2009

Kroes – Pat Stamatélos

Waar kom apartheid eintlik vandaan?  Lê die antwoord dalk in hierdie boek opgesluit?

Dit word beskryf as haar debuutroman, en alhoewel sy ontken dat dit ‘n  outobiografies is, is daar baie ooreenkomste tussen haar eie lewe en die van Pattie Peters, die hoofkarakter.  Agter in die boek staan: “Pat Stamatélos is gebore in Goodwood, Kaapstad.  Ná haar ma se dood op agtjarige ouderdom, Strand toe, waar haar ma se twee niggies, Nell en Kate Beckerleg, haar verder grootgemaak het.  Sedert die vroeë sewentigs woon sy aan die Wesrand.  Maar as jy haar hart sou oopsny, sou seewater nog uitspoel.” Ek het aanvanklik gesukkel om meer inligting oor Pat Stamatélos self te bekom, die beste bron wat ek gekry het is geskryf deur Erika Terblanche op Litnet. Dit  bevestig nog meer my vermoede dat die verhaal van Pattie Peters grootliks haar eie verhaal is.

Die verhaal verloop taamlik dieselfde as die beskrywing hierbo.  Tydens Pattie se tienerjare is daar, deur bemiddeling van haar vriendin, vriendskappe met wit seuns.  Na matriek gaan sy kuns studeer, ‘n wit mansstudent begin haar intrek in sy vriendekring, maar sy word verneder  wanneer hy haar na ‘n partytjie nooi en later ‘n taxi kry om haar huis toe te neem, maar wanneer die taxibestuurder hoor waar sy bly, weier om haar op te laai.  Sy slaag nie haar eerste jaar nie en besluit om ‘n nuwe lewe in Johannesburg te begin.  Daar ontmoet sy ‘n Griek, Laki, en hulle raak verlief op mekaar.  Hy oorreed haar om aansoek te doen om geherklassifiseer te word as wit, wat sy met die tweede probeerslag regkry.  Dit sorg hier en daar vir ‘n bietjie humor, soos as haar suster Kay vir haar sê, “Ek hoop nie jy mind dat jy ‘n meid vir ‘n sussie het nie”. Dan begin dit egter deurskemer dat dinge nie so eenvoudig is nie.

Of dit nou fiksie is of nie,  die skrywer ken die taal van haar karakters en beeld die verhaal baie eg uit d.m.v. die dialoog.  Selfs al sou dit biografies wees – mens kan eenvoudig nie na dekades die presiese woorde onthou wat dekades gelede gesê is nie, dus moet die dialoog geskryf word.

Apartheid het van die veronderstelling uitgegaan dat mense almal geklassifiseer kan word as wit, bruin, swart ens.  Mens kom agter in die verhaal dat party van die bruin mense heel gewillig is om in te val in die rol van mindere.  Ek het self baie sulke mense geken.  Alhoewel nie die oorsprong van apartheid nie, glo ek dat hierdie feit bygedra het tot die verdere vestiging van die beleid.  Waarmee die ideologie egter nie rekening gehou het nie is mense soos Pattie wat nie regtig bruin is nie en ook nie regtig wit nie, asook wat gebeur as bruin mense oorsee gaan en daar gewoond raak om eersteklas burgers te wees, wat as buitelanders hier kom woon, ens. (Iets wat ek tussen hakies wil wonder:  Ek was onder die wanindruk dat na die afskaffing van apartheid rasseklassifikasie in S.A. nie meer sou bestaan nie, maar was duidelik verkeerd.  Kan mens vandag nog vir herklassifikasie aansoek doen?)

Wat ook duidelik bleik uit die boek is dat rassisme nie gelyk aan apartheid is nie.  Patty se twee tantes aanvaar haar pas se tweede vrou van Twana-afkoms net tot op ‘n punt. Die skrywer skryf self (as verteller): “Met die geselsery oor en weer klink dit soos ‘n koeliebasaar”, bl. 214.  Ek het in die afgelope jare gehoor van mense wat aangekla is oor die gebruik van die verkeerde woord vir Indiërs.  Dit skep dus amper die indruk: Dis in die haak vir bruinmense om rassisties teenoor ander te wees, maar nie vir blankes nie, omdat hulle die wet gebruik om hulle wil af te dwing.

Ek het soveel as moontlik resensies aanlyn gelees, die meeste positief of vol lofgesange.  Heinrich Ohlhoff  reken dat die verhaal “redelik eenvoudig en chronologies vertel word”, en wonder of  “die slot nie uiteindelik te voorspelbaar en ‘n te maklike oplossing vir bepaalde probleme bied nie.” Melt Myburgh  sê, “Haar voorlesing uit dié roman bevestig my vermoede dat hier nie werklik sprake van woordkuns is nie. Ek is bevrees ek het al treffender opstelle deur skoolkinders onder oë gehad.”

Gun elkeen sy eie mening.  Vir my is dit ‘n aangrypende spieëlbeeld van die pyn wat nie-blankes in Suid-Afrika aangedoen is, waarvan baie van ons salig onbewus was.  Die boek lees lekker, gee goeie insig in die taal en leefwyse van die bruinmense destyds, daar is ook ‘n redelike spanningslyn.  Ek dink ek sal tog Die val van die dice ook lees.

Bronne:

Up.ac.za – Resensies Heinrich Ohlhoff
In die land van die liefde – Melt Myburgh

Foto: BOOKphotoSA op Flickr


Responses

  1. Ek het ook die boek geniet en onthou altyd my ouers se vertellings. Hulle het by bevolkingsregister gewerk en kan onthou watter hartseer dit veroorsaak het wanneer sommige kinders in ‘n bruin gesin as bruin geklassifiseer is en sommige as blank.

  2. Dit klink na ‘n boek om te lees!


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: