Posted by: mykopop | Sondag 10 Augustus 2008

TV digi-TAAL (1)

Suid-Afrika is darem nie heeltemal onbekend met digitale TV nie. As ek reg onthou het DStv omtrent in 1995 begin. Nou is digitale TV vir die massas besig om op ons af te spoed, dus is dit tyd om die taal te verstaan. Kyk bv. na Beeld se artikel op Vrydag: Skok vir TV-kykers, en ook die brief: En wat van ons getroue betalers?

Digitale TV het natuurlik sy voordele, bv. byna perfekte beeld- en klankkwaliteit, die term “sneeu” bestaan eintlik nie meer nie, maar daar is ook nadele waaroor jy moet dink. As jy tans 5 TV-stelle in die huis het, kan elkeen self besluit na watter kanaal hy/sy wil kyk. Jy kan wel die analoogsein wat by die digitale dekodeerder kom versprei na al 5 stelle, maar hulle kan dan net kyk na die een kanaal wat op die dekodeerder gekies is. (Ek weet nog nie of “dual-view” dekodeerders beskikbaar sal wees nie.) As jy tans ‘n DVD-opnemer besit soos ek, dit is ‘n mooi digitale masjien, maar die ontvangs is analoog. Dus, wanneer die analooguitsendigs afgeskakel word, sal die DVD-opnemer ook maar net kan deel in daardie een kanaal waarop die dekodeerder gestel is! (Is dit nou nog die moeite werd om so een te koop?)

‘n Bietije taal:

  1. In teenstelling met DStv wat via satelliet gestuur word, praat ons nou van “digitale terestriële” uitsending, m.a.w. uitsendings van aardgebonde uitsaaitorings, s.g. “Digital Terestrial Transmissions (DTT)”. Die standaard wat vir Suid-Afrika gekies is, word genoem DVB-T, wat deur die Europese liggaam DVB ontwikkel is. Let op dat daar ook alreeds ‘n verbeterde DVB-T2 standaard bestaan.
  2. Wat is die verskil tussen ‘n analoog en ‘n digitale TV-stel? Die TV-stelle wat ons nou gebruik ontvang die huidige analoogsein. As jou TV-stel ‘n sg. AV inset het – die sein op daardie koppelvlak is eintlik die analoogvideosein. In die videosein kan die spanning enige waarde tussen 0 Volt en 0.7 Volt aanneem, waar eersgenoemde swart verteenwoordig en lg. wit, met verskillende vlakke van grys tussen-in. Om dit oor die lug te stuur, word die videosein op ‘n radiofrekwensiesein (RF) gemoduleer. In die digitale stelsel bestaan die video net uit ‘n stroom nulle en ene. ‘n Aantal kanale word dan saamgevoeg in ‘n sg. multipleks, die multipleks word dan op ‘n RF-sein gemoduleer. Die aantal TV-kanale in die multipleks gebruik dus dieselfde RF-bandwydte as een analoog TV-kanaal. Jy behoort dit te kan ontvang met dieselfde antenna wat jy tans gebruik.
  3. Vir die nuwe stelsel sal jy ‘n dekodeerder moet kry (dikwels genoem ‘n STB – “set-top-box”, d.w.s. dit staan bo-op jou TV stel). By ‘n digitale TV-stel is die dekodeerder in die TV ingebou. Dit sou riskant wees om nou so ‘n TV te koop, aangesien jy nie weet of die ingeboude dekodeerder aanpasbaar met die uitsendings sal wees nie. Die STB skakel die sein om in ‘n analoogsein, dus kan jy nog jou ou TV gebruik. Benewens ‘n STB is daar ander toestelle wat mens tans al reeds kan koop of invoer, bv. PCI-kaarte vir rekenaars of USB toestelletjies wat jy aan ‘n rekenaar kan koppel. Alhoewel hulle voldoen aan die DVB-T standaard sal jy, as jy nou so iets gaan koop, maar moet wag en sien presies hoe aanpasbaar hulle by die Suid-Afrikaanse seine sal wees.
  4. Daar is verskriklik baie “hype” i.v.m. HDTV (hoë definisie TV), jy sal bv. hoor van “HD ready” en “Full HD”. Daar is verskillende standaarde. Dit lyk my die konsensus is dat ‘n stel wat 1080p kan hanteer beskou word as “Full HD” en die wat net die laer standaarde soos 1080i en 720p kan hanteer na verwys word as “HD ready.
  5. Die kompressie-standaard wat gebruik sal word is MPEG-4, in ISO-staandaard, in teenstelling met MPEG-2 wat tans vir digitale satellietuitsendings gebruik word. Kyk bietjie op die Wikipedia MPEG-4 artikel. Dit is ‘n baie wye standaard wat uit niks minder as 23 dele bestaan. Die een wat vir uitsaaivideo gebruik word is deel 10, “Advanced Video Coding (AVC)”, ook bekend as H.264.
  6. Die oudio-kompressiemetode sal “Advanced Audio Coding (AAC)” wees. Ek hoor daar word ook al gepraat van AAC+ of HE-AAC. Net soos ‘n digitale satellietdekodeerder, sal die DTT STB ook radiokanale kan hanteer as dit beskikbaar is in die multipleks.
  7. Nog ‘n ding wat aan die kom is, is mobiele TV. Dit word gebaseer op nog ‘n DVB standaard, DVB-H, waar die H staan vir “Handheld”. Dit kan ontvang word op (duur?) selfone wat aanpasbaar met die standaard is.

Die ontvanger wat ek graag in my huis sal wil sien is een wat kan koppel aan my tuisnetwerk en dit moet verskeie kanale tegelyk kan ontvang. Dan kan mens bv. enige plek met ‘n rekenaar op die netwerk kyk na die kanaal van jou keuse. Verder behoort ‘n mens ‘n heelwat goedkoper IP-STB by elke TV-stel kan sit sodat die TV-stel ‘n kanaal van die hoofdekodeerder kan aanvra.

Lekker herkou hieraan!


Responses

  1. Dankie hiervoor. Ek verstaan nie ‘n dooie duit nie, maar voel effe slimmer nadat ek die nou gelees het.😉

  2. gelukkig is dit nog lank om aan te kou teen daai tyd is almal gewoond daaraan

  3. Eish ek probeer so hard uitmaak, maar my enigste breinsel wil nie lekker werk nie!!

  4. Aag nee wat ou Christoffel. Ek het nou net die CD speler baasgeraak, nou ko’ neuk jy weer met die onuitspreekbaarhede. 🙂
    Altyd plek vir ouens soos jy, ne! Dis net ‘n vrou soos ek wat eerder in die son op die landy se roofrack wil skuinsle en wil vergeet van die tegnologie. Dis soms net te rond vir my plat koppie.


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: