Posted by: mykopop | Maandag 4 Junie 2012

Van Ordentlike Orrel na Rumoerige Roxette

Die afgelope twee Sondag-aande het ons lewendige konserte bygewoon.

Die eerste een was ‘n konsert van Gordon Stewart, ‘n baie bekende orrelis van Skotland, in die St. George’s Anglikaanse kerk in Parktown.  Ek het so amper 2 maande gelede die berig op beeld se webwerf gesien oor die nuwe Rieger orrel wat in die kerk geïnstalleer is.  Met die foto van die orrel daarby was ek ‘hooked’ en het twee kaartjies gaan koop.  Ek het natuurlik gewonder waar ‘n kerk deesdae geld kry vir so ‘n orrel, maar later gelees dat die Oppenheimers die geld beskikbaar gestel het,  amper 4 jaar gelede al – dis hoe lank die firma van Oostenryk se waglys is.

Die orrel is soos gewoonlik agter in die kerk, die orrelis sit op die kerk se vloer, nie op ‘n galery nie.  Daar was ‘n video-kamera op hom gerig, met ‘n groot skerm (tru-projeksie dink ek) van die baie goeie kwaliteit nie, maar heel voldoende, voor in die kerk.  Dit was dus jammer dat mens nie die orrelis direk kan sien nie, maar ten minste weet jy jy hoor die orrel se klank direk sonder enige elektroniese tegnieke.   Die outydse skoonheid van die ou kerk het natuurlik ook baie gedoen om dit spesiaal te maak.

Stewart is ‘n uitstekende orrelis, dit was veral opwindend om te kyk hoe hy ook met sy voete speel, met skoene wat hy glo koop by ‘n plek wat meesal deur dansers besoek word.  Hoe mens dit regkry om met jou vier ledemate vier verskillende dinge op een tyd te doen gaan my verstand te bowe.   Oor een spesifieke werk, die Elfentanz (Dance of the Elves) het hy opgemerk dat toe hy dit begin instudeer het, as hy vir omtrent ‘n uur daaraan geoefen het, kon hy nie normaal loop nie.  Hy sê ook toe hy in Australië daaraan begin oefen het, het sy omblaaier na ‘n rukke gesê, “I don’t hear any elephants in there…”

Die man is baie energiek en vol grappies, na omtrent elke tweede item het hy gedraf tot voor in die kerk om eers te praat en grappies te vertel.  Hy vertel dat sy pa ‘n predikant was en op ‘n aand laat in die donker op pad na die pastorie amper ‘n man van sy fiets afgery het.  Die fiets was sonder weerkaatsers.   Hy vra toe of die ou oraait is, die ou sê ja, maar hy is ‘n bietjie “shaken”. Hy gee toe vir hom sy kaartjie en sê, bel my môre as dit nodig is.  Later besef hy toe hy het vir die man ‘n kaartjie gegee wat sê:  “The Reverend James Stewart is sorry he missed you today, but will try again tomorrow.”

Daar was natuurlik heelwat werke van bekende orrel-komponiste, Purcell, Stanley, Bach, Mendelsohn en Widor.  Daarbenewens was daar ‘n aantal komponiste wat vir my minder bekend is, M. Festing, Lefébure-Wely,  W.T. Best, Bernard Johnson (Elfentanz) en Louis Vierne.  Die werk van Best, terloops, was variasies op God save the Queen, natuurlik vir die jubileumjaar.

***

Die ander konsert was gisteraand in die Coca-Cola Dome, te wete die Sweedse groep Roxette, wat die kinders as ‘n familie-aand georganiseer het.  Nou moet ek sê dat ek die meeste van die tyd die naweek met ‘n grieperigheid in die bed deurgebring het, so as ek dit minder geniet het was dit miskien daaraan te wyte.  Big Concerts het vir my die konsert swak afgeskop deur ‘n DJ as “support act” aan te wys, i.p.v. ‘n plaaslike kunstenaar wat ‘n ordentlike voorkonsert kon gegee het.   Ook die feit dat daar net twee “groot” skerms was, naby genoeg vir die mense wat in elk geval op die verhoog kon sien, het my laat dink dat daar op ‘n “shoe-string budget” gewerk is.

Eintlik ken ek Roxette se musiek maar swak, hulle het weggeval  met Dressed for Success.  Daarna was daar maar ‘n hele klomp liedjies wat ek nie geken het nie en wat vir my bra emosieloos was.  Deur die aand was daar darem so ‘n vyftal  liedjies wat vir my meer bekend was, met so ‘n effense opstuwing van opgewondenheid  toe hulle Joyride gesing het.  Hulle het nie vir my daarin geslaag om die gehoor op te sweep soos wat ek Neil Diamond laasjaar sien doen het nie.   As ek hom 10/10 moet gee vir daardie aspek, twyfel ek of ek hulle meer as 2 of 3 uit 10 kan gee.

Teen R175 vir die orrelkonsert en R350 vir Roxette (snaaks die een een deel mooi 2 keer in die ander een in), dink ek ek weet watter een ek sou wou oorhê!


Responses

  1. Eerder die orrel een🙂

  2. Ek dink ek weet ook watter een….😉

  3. 😯 Ek het nie geweet Roxette bestaan nog nie!

  4. Sjoe daai orrel lyk ongelooflik! En ek is seker hy het daarop geklink ook!

  5. Ek het meer teenstand verwag na my nogal negatiewe stellings oor Roxette! Lyk my almal is dit eens dat die orreluitvoering ‘n beter opsie was. Ja-nee, daardie instrument het ‘n fantastiese klank.

    Ek sien toe agterna Roxette het O.R. Tambo-lughawe so gekap oor hulle ‘n bietjie moes wag. Dit nadat ek anderhalfuur na ‘n DJ moes sit en luister om vir hulle te wag!

    Ek het my e-pos adres opgegee by St. Georges, hulle het my laat weet daar is Sondag om 17:15 ‘n halfuurkonsert deur Hentus van Rooyen, gratis so ver ek kan sien. Met ‘n 10-15 breek daarna vir mense wat dalk nie die Choral Evensong wil bywoon nie.

  6. Sies dis lelik. Dis net oor jy nie ‘n fan is nie. Jy kon net gesê het nee dankie jy wil nie gaan nie. Ek haat ook konserte waar ek nie die liedjies ken nie, dis hoekom ek net na konserte gaan waar ek al die liedjies ken. So hoekom het jy gegaan? Ons almal het ons gate uit geniet!


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: