Posted by: mykopop | Maandag 16 April 2012

Op My Boeketafel (April 2012)

Bitter Heuning    deur  Hermione Suttner (2011)
Die boek speel in die Sandveld en aan die Weskus (Velddrif) af, en draai ook in die Sederberge (dink ek) met ‘n mislukte tog na die Namakwalandse kopermyne.   Die verhaal is meesleurend maar hou baie hartseer in.  Die feit dat dit deels op ‘n ware verhaal gebaseer is het seker gemaak dat die skryfster nie anders kon nie.  Mens word vinnig geboei deur die geboorte van die dogtertjie op see, en ook ‘n klavier wat in ‘n krat ongeskonde uitspoel en so in die familie beland. (Laat my dink aan The Piano.)   Plek-plek het dit vir my gevoel asof daar bietjie met detail aangekarring word, amper soos ou tannies wat alles van hulle operasies wil vertel, maar dit was nie te pynlik nie,  die beskrywing van die lewenswyse in die tyd en plek vergoed daarvoor.
Wat ook merkwaardig is, is die feit dat die skryfster se pa Russies en haar ma Pools was en sy self is op Kamieskroon gebore.  Die boek is ‘n Engels geskryf en vertaal deur Linda Rode.  Daar is ‘n goeie opsommende resensie deur Rachelle Greeff.

Kampvuurstories deur Pieter W. Grobbelaar (2011)
Lagstories, liegstories, jagstories spookstories – enige kort Suid-Afrikaanse storietjie waaraan jy kan dink.  Almal lekker kortertjies.   Ek het nie die boek by my op die oomblik nie, een storie wat my nogal gefasineer het, gaan oor ‘n Boerekryger in een van die krygsgevangenekampe, Ceylon as ek reg onthou.  Ek dink die storie se naam is ‘n Man genaamd Mot.  ‘n Heerlike ontspannende boek.

 

 

Nou’s die Kaap weer Hollands deur Andre le Roux du Toit (1982)
Die eerste bundel kortverhale van onse Koos Kombuis.    Die stofomslagnotas sê: “Sommige van die verhale in die bundel het baie aandag getrek in tydskrifte,  en die opbeurende noot waarop hulle eindig, skep die indruk dat die Kaap inderdaad nou weer Hollands is.   Meesterlik!

 

 

Dalk gaan niks verlore nie deur Hennie Aucamp      (1992)
‘n Uiteenlopende aantal geskrifte, soms mymeringe, wat in publikasies soos Tydskrif vir Letterkunde, Vrye Weekblad, de Kat ens. verskyn het.    Ek het gehou van “Die baadjie sonder einde”, wat amper in Pieter W. Grobbelaar se boek opgeneem kon gewees het.  Ek was gefassineer deur  “Portret van ‘n verteller” oor Rina B en die briefie wat sy gelos het toe sy aan kanker oorlede is.

 

 

Verweerskrif deur Antjie Krog
Synde ‘n digbundel is ek nog nie heeltemal klaar met die boek nie.  Is mens ooit klaar met ‘n digbundel?   Ek weet natuurlik al lankal van die bundel en sover ek geweet het gaan dit oor die aftakeling en verweer van die liggaam.  Toe ek soek vir ‘n prentjie van die boek op die internet spring daar ook een van Malema na vore, met ‘n berig oor ‘n verweerskrif wat hy voor ‘n sekere datum moes inhandig.  Dus ook ‘n regsdokument, seker van daar dat Krog die woord gekry en dit ‘n tweede betekenis gegee het.  Maar die boek gaan ook oor verweer teen die verweer en aftakeling.  Op bl. 31, waar “Oupa en Ouma” op die stoep sit “met hulle loslippige knypspiere” het ek gewonder wanneer presies Ian Wessels van RSG die woorde Loslip en Loslippig bedink het.  En op bl. 45 in huwelikslied 5, of Steve Hofmeyr ook gelees het: “hou my hand vas, waarmaker / met die ewigdurende oë, soos altyd.”


Responses

  1. Die enigste een van die boeke op jou boekrak wat ek “klaar” gelees het is Verweerskrif. Die gedigte is aangrypend, maar Antjie Krog is ‘n meesterdigter, dus het ek niks anders verwag nie. Die ander lyk ook interessant, veral Pieter W. Grobbelaar se Kampvuurstories.

  2. Dankie vir al die vertel oor die boeke! Ek het dit baie geniet. Baie interesant veral die raaksien van ‘loslippig’ en ‘waarmaker’😉

  3. Ai Kop – ek is mos verslaaf aan boeke en inskrywings soos hierdie maak dit net nog moeiliker vir my😉

  4. […] Kop op ‘n blok – wat my altyd laat boekwinkel toe hardloop […]


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: