Posted by: mykopop | Sondag 7 Augustus 2011

Van toeka tot nou!

Ek kon so pas nie mooi onthou presies hoe om op my blog aan te teken om ‘n nuwe inskrywing te maak nie! Ja, dis was my langste afwesigheid tot dusver.  Die een rede daarvoor is dat ek nou al vir ‘n tyd lank net nie kan dink aan iets wat die moeite werd is om spesifiek hier te deel nie. Facebook vervul nogal die behoefte om klein daaglikse dingetjies te deel.  Nog ‘n rede is dat ek nogal besig was!

Ek wil egter nog skryf, dit pla my net soms dat hier op WordPress daar geen moontlikheid van vergoeding is nie.  Dis regtig nie dat dit vir my nou net oor geld gaan nie, allermins.   Ja, ek dink WordPress het ‘n soort van winsdeling,  maar dan moet jy regtig duisende besoeke ontvang en ‘n ooreenkoms met hulle aangaan.  In teenstelling daarmee is dit baie makliker om Google Adsense advertensie te plaas op ‘n Blogger/Blogspot blog.  Ek het ‘n paar blogs oor spesifieke onderwerpe daar begin. Selfs met net ‘n paar inskrywings is daar al ‘n paar rand wat wag vir my – sodra daar R1000 is, betaal hulle dit uit.  Ek gaan nog blogs daar begin oor ‘n verskeidenheid van onderwerpe.

“My Kop Op ‘n Blok” sal egter aangaan. As ek die dag iets het wat spesifiek hier pas sal ek dit hier plaas.  Ek dink ek gaan nie meer lang inskrywings oor ‘n boek wat ek gelees het of ‘n CD wat ek gekoop het nie. Miskien net ‘n paragrafie of so om te sê hoe ek dit gevind het, dan kan mense nog steeds saam gesels.

Soos ek gesê het, ek was nogal bedrywig die laaste tyd. Eerstens het ek geld gespaar van laas jaar af vir ‘n paar goed wat ek graag wou doen.  Ek het toe besluit om so net na die Paasnaweek die dinge een vir een aan te pak.  Ook maar goed, want elkeen was so ‘n klein fiasko op sy eie.

Die eerste was om ‘n songeiser te laat installeer om die stygende elektrisiteitstariewe bietjie te probeer versag.  Dit was darem nie so ‘n groot fiasko nie, ek het ‘n bietjie van ‘n struweling met die verskaffer gehad, maar dis darem opgelos.  Die geiser lewer nie werklik vir ons genoeg warm water nie, gelukkig is daar nog ‘n ander geiser in die huis. Ek glo in die somer gaan die son genoeg warm water lewer sonder dat ons krag hoef te gebruik – solank die son skyn!  (Ek sal die voorafbetaalde kragmeter wat City Power omtrent op dieselfde tyd wederregtelik vir my geïnstalleer het en die gesukkel en bakleiery daarmee saam maar liewer uitlaat!)

Nommer twee was ‘n digitale klavier.  Ons ou klavier is al jare lank uit stemming, ek sien nie kans om aanmekaar te betaal vir stemmings nie, dus het ek die bietjie wat ek al geleer het heeltemal verloor.  Ek het besluit op die Yamaha YDP-161. Dit sou ‘n week neem om af te lewer. Na ek dit bestel en klaar betaal het word ek toe meegedeel dit sal ‘n maand vat, wil ek nie liewer ‘n ander model vir nog R1000 meer vat nie? Nee dankie, ek het twee weke navorsing gedoen voor ek besluit het!  Ek sou die maand wag.  Toe vat dit wonderbaarlik minder as twee weke.  Ek is baie gelukkig daarmee en probeer nou elke dag ‘n paar minute oefen.

Volgende aan die beurt – ek wou graag ‘n ouerige karavaan koop, vir so R15000 verkieslik.  Nadat ons bietjie rondgekyk het sien ons toe ons sal maar die prys bietjie moet verhoog.  Ons kry toe ‘n 1986-model vir R20000 by ‘n besigheid in Vanderbylpark.  So meer as twee weke gelede het ons gaan kyk na twee karavane en op die spesifieke Gypsey CI Caravette 6 besluit. Die Vrydag het ons die geld inbetaal en hom gaan haal. Die verkoopsdame het belowe dat ons in die volgende week die “papiere” sal kry. By die huis gekom, kom ons toe ook agter ons het hom onwettig tot daar gesleep, hy het nie eens ‘n lisensieskyfie op nie. Toe begin ek die padwaardigheidsertifikaat wat vir my gegee is ook betwyfel.  Intussen is die skyfie nou vir ons gefaks, maar het in 2008 al verval!  Nou is ons belowe die eienaar het vir ‘n duplikaat van die registrasiesertifikaat aansoek gedoen, maar dit sal 4 werksdae vat.  Waarvan Dinsdag dalk een is, en Dinsdag is ‘n vakansiedag!  Ek hoop nie dat ek hier met regsaksie moet begin nie.  Ek wil graag die karavaan hê!

Nou bly daar van die spaargeldjies nog vir een ding oor. Ek soek ‘n “Full HD LED TV”, dit moet groter as 32″ wees, en die enigste name waarna ek kyk is LG, Samsung en Sony. Kan iemand my sê waar ek een kan koop vir minder as R6500. En sonder probleme asseblief!

Soos my ou maters reeds weet, ek het laasjaar kunslesse geneem. Ek werk maar stadig, maar maak darem nog nou en dan ‘n doek klaar. Ek wil graag hier in die kantkolom ‘n bladsy met my kunswerke sit (hulle is reeds op Facebook) en ook ‘n bladsy met ‘n lys van boeke wat ek gelees het, wat ek elke keer kan aanvul.

Ek hoop ek kry tyd!


Kategorieë

%d bloggers like this: