In Februarie laasjaar, nadat die Vaalrivier in vloed was, het ek ‘n stukkie geskryf – “Eiland Omver”. Dit was nadat iemand ons laat weet het “die eiland het omgeval”, wat ek nie so lekker wou glo nie! Hierdie jaar was daar weer ‘n vloed in Februarie, en ons het in Maart weer daar uitgekom. Hier is ‘n paar foto’s net om te wys hoe dit nou daar lyk.
Die “wortelbasis” van die omgevalle boom is nog steeds duidelik sigbaar, ek wonder hoe lank dit nog sal vat om te verweer. Ongelukkig is daar nou ‘n paar lelike plastieksakke wat daarin verstrengel geraak het. Dit lyk darem of daar nou ‘n nuwe eiland besig is om vorm aan te neem.
Hengelaars het heeldag op die stukkie eiland gesit en probeer visvang, selfs tot sononder.
Plaas dat hulle liewer die plastieksakke opruim terwyl hulle daar is!
Ons het weer ‘n draai by Vaaloewer ook gaan maak – op pad soontoe sien ek toe toe pragtige kosmosblomme langs die pad, stop toe met die terugrit en pluk ‘n bossie. Hulle het egter binne sekondes verlep en ons het nie ‘n houer met water by ons gehad nie! Terug by die huisie het ons hulle onmiddellik in water gesit. Na ‘n paar minute het hulle weer opgestaan en ons vreugde verskaf vir die res van die naweek.
Die titel het ek natuurlik gesteel uit Chris Chameleon se liedjie “Eiland”:
op hierdie rots
van stof en beton
en aalwyn assegaai
en die groot groot son
dobber ons op
ons eie eilande rond
met voete vas in die sand geanker
ontkom ons nie die sleur van die branders
nie al is ons te lande
in lief en leed
se diep diep see
jy op jou eiland
ek op my eiland
elk op n stukkie klip
klippie in die see
van lief en leed
Kry die hele liriek en luister hier.
Die kano het my laat besef hoe “groot” die omgevalle eiland werklik is.
dankie, dit was nou regtig interessant!!
By: toortsie on Maandag 2 Mei 2011
at 8:47
Ek is mal oor die kosmosse! Wens hier was van hulle in die Kaap ook.
By: Son on Dinsdag 3 Mei 2011
at 19:17
Hierdie ‘eiland’ laat my dink aan ons ou plaasdam. Daar was in die een hoek [so effe weg van die kant] amper so iets soos ‘n ‘eiland’ [ons het dit in werklikheid die eiland genoem!] – ons het as kinders met die foxterrrier in die dam gespeel, ingehardloop met die hond agterna en geswem tot by die ‘eiland’. Die hond het meeste van die tyd so halfpad omgedraai, want hy’t moeg geword. Jou foto’s is mooi! Kosmosse was volop in die omgewing waar ek groot geword het, selfs langs die plaaspad, ons het altyd dit in oorvloed gehad – ek het selfs ‘n vriend [gedurende studentejare] se ma [sy’t geskilder] gevra vir ‘n kosmos en dis ‘n besonderse skildery. Ek’s baie erg oor kosmosse en hierdie foto van jou is pragtig. [met die steenmuur as agtergrond, dit laat dit so ‘in die natuur’ lyk.][sjoe, ek het omtrent ‘n spul hakies hier gebruik! lol]
By: Nikita on Saterdag 7 Mei 2011
at 12:30
Dankie vir die inloer almal. [Tussen hakies, Nikita, ek dink as ek volgende keer ‘n kano in die hande kan kry gaan ek daardie wortels takel en die natuur so bietjie aanhelp! ]
By: mykopop on Saterdag 7 Mei 2011
at 13:47
Kom wys ons die resultate van voor en na – sodra jy dit gedoen het. [tussen hakies, moenie vergeet dat daar dalk doringtakke op die bodem mag le nie…haha…- ek wou maar net iets tussen hakies plaas lol]
By: Nikita on Sondag 8 Mei 2011
at 17:21
[…] die rivier en die voëls gesit en kyk. N.a.v. twee van my vorige inskrywings, Eiland Omver en Ek En My Eiland wil ek darem net met ‘n foto of twee wys hoe dit met die eiland […]
By: Rivier o rivier « My Kop Op 'n Blok! on Sondag 26 Februarie 2012
at 20:51