Posted by: mykopop | Donderdag 13 Januarie 2011

2010 Vakansie in 10 kiekies

Die dag na ons by Dwarskersbos aangekom het, moes ons vir die dag Kaap toe.  Met die terugrit, laat die namiddag, het ons besluit om ‘n draai by Bloubergstrand te maak en sommer daar te eet.  Van die balkon van die restaurant af het ons later nog ‘n paar mooi foto’s gekry van die onvergeetlike sonsondergang.  Die vorige keer toe ek my kamera moes skuins draai om iets in te kry was dit ook ‘n skip, dit was op die Donou in Bratislava.  Ek het onlangs gelees mens noem dit ‘n “Dutch angle”.   Miskien het Herrie gewens hy het ‘n kamera toe onse Jan van Riebeeck se vlootjie daar aankom!

Die plan was oorspronklik om sommer op pad terug van die Kaap af by Darling en Yzerfontein aan te doen.  Die kuiertjie by Bloubergstrand die vorige aand het egter te lank geword, dus moes ons die volgende dag weer amper 100 km suid ry.  Ons het nie bespreek vir ‘n show van Tannie Evita nie, net koeksisters en koffie in die restaurant gehad en haar Kossie Sikelela kookboek gekoop.  Mooi kat, net effens jammer van die swart oogklap.

Ek het altyd gehoor Yzerfontein is een van die mooiste plekkies aan die Weskus.  Dis waar ja, maar ek sou graag outentieke vissershuisies wou sien, ongelukkig het ons nie tyd gehad om die buitewyke te verken nie.  Ons het heelwat tyd op die breekwater gespandeer, dis van daar wat hierdie foto geneem is.  Daar was ‘n skool dolfyne waarvan ons talle foto’s probeer neem het, maar ‘n werklike mooi een het my ontwyk.  Hierdie een van die bootjie wat inkom doen dit darem vir my.

Langebaan.  Die Alabama Launch site is in die dorp.  Ons het rondgesnuffel by ‘n boekwinkel en die biblioteek waar uitverkopings aan die gang was.  Ek het ook rondgeloer in die Bay Gallery,  skilderye waarvan ek gehou het was van Gerda Claassen.  Tot my spyt het ons gesien ons gaan nie tyd hê om in die natuurreservaat in te gaan nie, ons het net voor die hek gaan omdraai net om darem ‘n idee te kry.  Ek voel dus ek het nog nie Langebaan werklik gesien nie.   As jy ooit soontoe gaan, moet net nie Pancakes Galore misloop nie!

By Saldanhabaai was ek baie hartseer om die Meresteijn Restaurant te sien wat toegemaak het.  (Ek wonder nou as dit nog oop was of dit so ‘n onmiddelike aantrekkingskrag sou gehad het.)  Ek het bietjie rondgesoek en uitgevind dat die restaurant vernoem is na ‘n skip, die Meresteijn, wat in 1702 op Jutteneiland by Saldanha gestrand het.  Daar was ‘n groot klomp munte aan boord, die is eers in 1971 uitgehaal en vir ‘n huis verruil aan Kommandeur Wicht, destyds eienaar van die restaurant.  Dit lyk vir my of die restaurant dalk later voortbestaan het by ‘n ander adres, maar of dit vandag nog oop is kan ek nie uitvind nie, twee telefoonnommers wat ek gekry het bestaan nie meer nie.  Lees meer by die Wicht Family Book.

Tietiesbaai, naby Paternoster.  Daar is ‘n natuurreservaat waar net met tente en woonwaens gekampeer word.  Ek dink die skrywer Pieter Pieterse het baie tyd hier deurgebring. Eendag wil ek ook daar gaan kamp!

Paternoster.  Weereens, ek sou graag iewers foto’s wou neem van hoe dit lank gelede was, maar mens moet seker aanvaar die verlede is verby.  Ons het die Sondag begin rondry en gehoop ons sal iewers sonder bespreking ‘n eetplek kan kry, maar dit was nie die geval op Paternoster nie, die restaurante kon ons nie een help nie! Onthou dus maar, bespreek!

Bote in St Helenabaai se hawe.

Laaiplek.  Die see, die strand, die kinders wat speel, die geboue en die seemeeue op die sand, alles vorm vir my ‘n mooi geheel.  Daar kon gerus ‘n paar wolke gewees het!

Nog ‘n fantastiese sonsondergang by Dwarskersbos.   Soos mens op die foto kan sien, anders as wat mens verwag het nadat jy aanvanklik vlugtig na die kaart gekyk het, gaan die son nie oor die see onder nie.   Daarvoor moet mens blykbaar by St Helenabaai rond wees, daar is glo ‘n plek wat een van die min plekke ter wêreld is waar die son oor dieselfde see opkom en ondergaan.

Hierdie keer het ons ‘n huisie in die kompleks “Op ‘n Slakkepas” gehuur, baie lekker, maar net ‘n paar dae kos jou sommer ‘n klein fortuintjie.   Daar is ‘n woonwapark op Dwarskersbos, en hoewel ons nooit daar ingegaan het nie, verwag ek dat dit redelik netjies en skoon is, te oordeel aan die mense wat ons daar sien in en uitgaan het en die toestand van die strand.

Daar is natuurlik baie meer foto’s geneem, ook nog plekke waar ons was. Van daar af het ons die pad gevat oor Elandsbaai na Lambertsbaai.  Elandsbaai is baie mooi, ongelukkig het ek nou gehoor van iemand wat die vakansie by die woonwapark daar aangekom het en dit in so ‘n toestand gevind het dat hulle moes uitwyk hoër op teen die Weskus.

Miskien, as ek niks anders het om oor te gesels nie, gebruik ek nog van die foto’s verder in hierdie jaar!


Responses

  1. Ai tog! Hoe verling Anna se hart nou terug Weskus toe. Ons het vir ‘n lang tyd daar gewoon… in die dae voordat die Weskus “makgemaak” was. In die Merensteijn het ons baie ure omgekuier en ons voetspore gelos op al die plekke wat jy so mooi met jou kamera vasgevang het. Die Weskus hou ‘n baie spesiale plek in my hart. Van my gelukkigste dae was daar deurgebring en ek verlang gereeld terug. Net jammer jy was nie lank genoeg daar om die mense van die Weskus te leer ken nie, want dit is waar die eintlike bekoring en waarde van die Weskus is.

    • Nie “verling” nie man! “Verlang”!

  2. Mooi! Lyk of julle meestal goeie weer gehad het? Die lug is oral mooi blou.

  3. Sjoe! Jou fotos is pragtig. Lyk of jy so effe afskeep kuiertjie gehad het; jy sal maar weer moet kom. Baie hartseer van Merenstein. Ek het nog my huweliksonthaal daar gehou. Elke keer as ek daar verby gaan maak dit maar seer om die plek so te sien. Van Paternoster het ek gelukkig herrinneringe hoe dit was voor dit opgedollie is. Die hele karakter het verander.

  4. Jaloersmaak foto’s! :mr green:

  5. Stunning foties!

  6. Dankie vir al julle kommentaar. Ons het werklik lieflike weer gehad, die seewater by Dwarskersbos was warmer as by Hermanus. Dit was net te kort, maar ek hoop om eendag nog baie daar te kuier.

  7. Mooi fotos en woorde!! Al was dit kort klink dit my julle het steeds baie ingepas… lekker! Sal graag nog van die fotos wil sien…


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: