Posted by: mykopop | Vrydag 12 November 2010

Sal ons nuwe vriende ooit vergeet?

Hier is geen foto nie.  Soos jy kan sien.   Ek het my kamera saamgevat, hom baie in my skik uitgehaal toe die mense begin praat, aangeskakel, en agtergekom daar is nie ‘n geheue-kaartjie in nie, omdat ek dit gister saamgevat het werk toe om daar foto’s af te laai.  Maar wat, daar is baie foto’s op die net van Essie Honiball en Anoeschka von Meck.

Dis waar ons gisteraand was, by die bekendstelling van twee boeke – ‘n Nuwe uitgawe van Essie Honiball se boek, nou genoem Ek lewe van vrugte – vandag, en Anoeschka von Meck se nuwe boek Die Ontwaking, ‘n biografie van Essie Honiball.   Anoeschka het vertel dat die boek handel oor die vier groot verhoudings in Essie se lewe, dis nou met die twee mans met wie sy getroud was, en die ander twee sal ons moet sien.

Die geleentheid het die vorm van ‘n baie gesellige huisbyeenkoms aangeneem, met vrugte as verversings, en is plaaslik in die Wesrand gereël deur Chrisna van Rensburg van Kakkerlak Uitgewers.  (Amper sê ek nou Kokkerot!)  Die twee boeke word uitgegee deur Benedic Uitgewers, van hulle kant was daar Nico Elema en Johan Nel.  Nico se sy van word amper net soos Malema gespel, vandaar my amperse fout met die Kakkerlak!  Ek het lekker gesels met Johan Nel, wat van Keimoes in my geweste kom, en eers na die tyd uitgevind hy is die skrywer van Piet Kokkewiet, Kokkewiet en ander verhale, onder die skuilnaam Ben Lindeman. Ek het wel die praatjie met hom oor die boek op RSG geluister maar kon nie so vinnig die kloutjie by die oor bring nie.

Na ‘n baie interessante gesprek tussen Nico en die twee skrywers, met bydraes deur Johan ook, het ons kans gekry om met die twee skrywers te gesels.

Daardie tannie Essie se verstand is op haar 86 jaar nog so skerp. Ons het lekker met haar gesels, vir hoe lank, soos ou familie.  Een ding wat ek by haar wou weet is hoe hulle haar wyle man T.O. Honiball aangespreek het.  Sy sê n.a.v. sy tweede naam, Ochse, het hulle hom Oskie genoem. (Dis nou as ek mooi reg verstaan het.)  Die naam, terloops, sê sy het sy ouers hom mee gedoop ter ere van ‘n dame wat nooit kinders van haar eie gehad het nie.  Die Amerikaners het hom glo Tom genoem.  Dit was werklik ‘n voorreg om iemand soos tannie Essie te ontmoet, ek hoop dit was nie die laaste sien nie.

Met Anoeschka het ons ook gou “common ground” gevind toe sy agterkom ons kom van Upington af en ons vertel het dat haar ouers tot ‘n paar jaar gelede grond gehad het by Grootdrink, seker ‘n skrale 10 km van waar ek grootgeword het!  Nadat sy tydens die bespreking haar Happiness storie vertel het (die moet jy self hoor), kon ek haar met smaak bekend stel aan Stef Bos se liedjie Gelukkig waarop hy deur Die Februarie Susters bygestaan word.  Sy sal vandag die CD gaan koop!  Anoeschka is ‘n fantastiese mens om mee te gesels, ek kan nie wag om haar boek te lees nie.

Nodeloos om te sê, ons is huis toe, met albei boeke, geteken.  Tannie Essie het ‘n pragtige boodskappie vir ons ingeskryf, en terwyl Anoeschka besig was om die hele voorste binneblad vir ons vol te skryf, het een van die omstanders gevra of sy nou vir ons nog ‘n boek skryf!


Responses

  1. Ek self ‘n ou Upingtonner. Ek geniet jou blog!

  2. Ek het dieselfde ding verlede Saterdag oorgekom – op my ander blog daarvan geskryf – gaan na die Roald Dahl museum en neem my kamera saam – net om agter te kom dat die kaart steeds in die rekenaar by die huis is! Gelukkig het manlief toe maar ‘n met sy selfoon geneem wat ek afgeneem wou hê, maar nou ja – gelukkig gaan ek die 10de Des weer soontoe met ‘n uitstappie.🙂 Julle was gelukkig.

  3. Welkom Hx, ek het vinnig na jou blog ook geloer, not too shabby! ‘n Upingtonner kan ook nie anders nie, of hoe?

    Hi Nikita, gaan dit goed? Ek dink ek moet een van daai kaartjies in elke kar versteek, die ergste is ek was nogal so seker die batterye is gelaai! Maar wat, dis nou ook nie die ergste nie, iemand op Boekemakranka het gesê dis sal in elk geval op my brein se album bly, so is dit, ek sal die aand nooit vergeet nie. Hier is ‘n hele klomp boeke wat ek gekoop en nog nie gelees het nie, nou het ek net ‘n gevoel iewers gaan hier ‘n boek voor in die tou indruk!

  4. hi Kop, besig soos altyd en aan die gang. Groete daar vir jou. [raak nou lekker koud die kant!]


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: