Posted by: mykopop | Sondag 7 Februarie 2010

Katvoet – Riana Scheepers

Hierdie versameling kortverhale is ‘n slag iets anders.  Die verhale is nie jou gewone kortverhaal wat van punt A na punt B beweeg nie, die karakters dikwels naamloos.  Ek dink om die boek te kan geniet, moet jy ook bereid wees om ‘n bietjie jou eie verbeelding in te span.

Afgesien van ‘n paar losstaande verhale is daar verhale wat in  groepe saamhoort.  Dis moeilik om te sê drie of vier groepe, omdat daar temas is wat oorvleuel.  Sy skryf van ‘n oupa en ouma wat sendingwerk gedoen het, van ‘n pa wat afgeskeep is sodat hy ‘n jaar teruggehou is voordat hy kon skooltoe gaan, omdat hy sy eie moedertaal nie kon praat nie.  Daar is stories  oor ‘n vrou wat saam met haar man ‘n plaas in die Tankwa-Karoo gekoop het, en ‘n paar waar die vrou saam met haar man ‘n wynplaas in die Boland bedryf.  In lg. groep gaan dit baie oor die hartseer in die lewens van die bruin plaaswerkers, bv. in die verhaal  Ry, en ry, en ry,  oor die omstandighede waarin jong meisietjies so maklik gemolesteer en verkrag kan word.

Ek wil amper sê mens kan met vrug eers die bladsy agter in die boek oor Riana Scheepers lees, en daarna die vertelling, Ons wat so gewoon leef, wat inligting oor haar familie gee en waar ván die gegewens in van die ander verhale herhaal word.  Sy het die vermoë om mens te laat wonder of alles verbeelding is, of watter van die gebeurtenisse en gegewens outobiografies is.

Katte duik kort-kort in die verhale op, daar word dikwels ‘n parallel getrek tussen die soepelheid van die kat en die sensualiteit van die vrou.   Soos reeds op die voorblad gesien kan word,  maak erotiek ‘n deel uit van die boek, nie op ‘n onsmaaklike manier nie, ek noem dit ter wille van lesers wat sensitief is daaroor, slaan miskien die verhaal Kris oor.  Sover ek weet is die titelverhaal Katvoet redelik losstaande van enige ander verhale – ek dink as jy nie lus is vir die hele boek nie, lees daardie verhaal, dis baie verteenwoordigend van die styl van die hele boek.  Nog ‘n besonderse verhaal is Man In Die Tuin, ek  dink iemand behoort dit in ‘n kerk by nagmaaldiens voor te lees.

Daar is ook verhale wat mens op reis neem na Europese lande, nl. Amulet teen die koue en Drenkeling.

Foute?  Ek kan nie sê ek is 100% seker nie, maar ek het self op my dae roomafskeier gedraai.  Op bl. 19 sê sy die slinger beweeg soos ‘n pendulum van ‘n klok heen en weer. In my ondervinding is dit nie moontlik nie, maar mens het dalk verskillende make en modelle gekry.  In die storie Ry, en ry, en ry, bl. 101 word Lukas voorwaardelik aangestel en kan eers na 3 maande op die plaas kom bly.  Maar dan later as hy wil kom geld leen op bl. 105, sê die man vir hom “Jy werk nog nie eens ‘n maand op die plaas nie.”  Mens verstaan  dat hy en sy gesin uit jammerte vroeër toegelaat kon gewees het om in te trek, maar die verskil tussen 3 maande en minder as ‘n maand is ‘n bietjie te groot.

Resensies:
John Kannemeyer in Rapport. Hy help my uit met iets wat ek nie in woorde kon stel nie: Opsetlike mistifikasie. As ’n mens die slot van     “Smirre” nog as ’n opsetlike mistifikasie aanvoel …
Stefnie Cilliers in Volksblad: Hier is absoluut niks voorspelbaar in die hele boek nie …
Joan Hambidge in Die Burger: In hierdie bundel word die twee ­pole in haar vertelkuns versoen.
Kannemeyer en Hambidge spreek albei negatiewe kommentaar uit oor Man In Die Tuin, ek weet egter nie hoe die skrywer dieselfde effek  anders kon bereik het nie.  Ek is miskien te naïef, maar vir my is die verhaal goed net soos dit is.

In die laaste vertelling, Ons wat so gewoon leef, lees ons:

Ek het my doodgeskaam.  Vir elkeen.  Vir elke een van hulle.
My Ma het in ‘n boom geklim en  ure daar gesit en boek lees.
….
Ons het sommer niks geword.
Ek dink wat my kleinkinders eendag sal kan vertel; van my, van ons wat so dood en gewoon leef.

Ek dink as daar een mens is wat haar nie dáároor hoef te bekommer nie, dan is dit Riana Scheepers!


Responses

  1. Dis pragtige verhale. Doodgewone mense wat ongewone lewens leef en eenvoudige goeie dinge en minder goeie dinge en soms uiters erg dinge doen. Vir my is die lekkerste die on-akademiese toeganklike styl wat grense oorbrug, haar liefde vir die natuur en die see en ons droë land wat skielik kan blom ook en vir kinders en tieners met hulle angs en ook vir grootmense, haar verlede as plaaskind wat sy inweef in haar kreatiewe vertellings, haar oorgang so gemaklik na die magiese en mitiese, haar aardse gevoel van vrouens wat eens baie na aan die aarde, die duine en die see kon leef, haar vreugde om dit alles vroulik te kan beskryf en bo alles haar lewensblyheid oor die waarnemings fynere talent om so oulik te kan skryf. Die Kris verhaalkie is werklik meer gewaagd en mens wonder waar sy daaran kom. Intense liefde gaan gepaard met intense pyn? Katvoet.. laat my ook besef om katvoet te loop, geruisloos en vol grasie, stil en fraai. Soos ‘n hasie.

  2. Dankie vir die uitleg oor hierdie boek… ek weet al ‘n geruime tyd van “Katvoet” .. maar so kom ek nie daarby uit om dit gelees te kry nie…
    My nuuskierigheid is geprikkel! …


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: