Posted by: mykopop | Saterdag 9 Januarie 2010

Khamkirri-kuier

Ons het besluit ons is lus om in Desember 2009 weer Augrabies te ervaar, soos twee jaar gelede.  Gelukkig kom die besluit toe bietjie laat, en ons kon nie weer slaapplek in die park kry nie.  Gelukkig, want toe is hierdie vakansie nie net ‘n afskrif van die vorige een nie – ons ontdek toe Khamkirri!   “Plek van die Luiperd”  – ‘n vakansieoord aan die ander kant van die rivier (Noordekant) as die Augrabies Nasionale Park.  Dis presies regoor die rivier van die dorpie Augrabies, 10 km rivier op van die waterval af. Dit is so 50 km van Kakamas af waarvan 30 grondpad.  Om by die waterval te kom moet jy teruggaan  Kakamas toe en dan weer rivier af, seker so 110 km in totaal.

Só lyk Hut No. 1 waar ons gebly het.  Dis nogal lekker primitief – veral die hoeveelheid skottelgoed wat verskaf word is bietjie min, wat miskien die voordeel inhou – as jy nie ‘n glas was nie, is daar nie een nie!  Daar is darem ‘n warm stort, ‘n yskassie en ‘n dakwaaier.  Die eerste aand het ons al met ‘n paar goggos kennis gemaak: ‘n Skerpioen, ‘n wurm wat dink hy’s snaaks en later selfs rotte wat ons kos wou kom steel.

Die bootjie wat mense oorvat dorp toe is baie fotogenies.  Let mooi op na die rivier:  die hoofstroom kom van links, en van die ander kant sluit nog ‘n sytak wat om ‘n groot eiland gaan aan.  Ek het later gesien daar wei beeste op die eiland.

Daar is ‘n klein riviertjie, droog op die oomblik, wat by die Oranje aansluit.  Die voetbrug moet oorgesteek word om elke keer as jy van die hutte na die kantoor of restaurant toe wil gaan.

Die Vrydag is ons Augrabies toe, vroeg die môre, want ons het gehoor hulle laat net 150 dagbesoekers toe.

Al was mens nou al hoeveel keer daar – jy kom nie terug sonder nóg foto’s van die val nie!

Is dit ‘n reier?  As jy mooi kyk, lyk dit of hy die rots vir ‘n spesifieke doel gebruik …

As jy ‘n paar miljoen jaar oud is kan jy seker verwag om ‘n paar plooie te hê.

Somewhere, under the rainbow?

Daar onder bruis en kolk die water, mens kan ure daarna staar.

Sien jy iemand daar?

Jan Spies se een Cremora-advertensie het mos begin met ” ‘n Vies kerel …”  Ek wonder of ‘n mens ‘n storie kan begin met ” ‘n Vies rots vertel my die ander dag …”

Ek het al baie gehoor van Sakkie se Arkie in Upington.  Net omdat die bussie so mooi rooi is en om die skakel te onthou het ek dit afgeneem.  Gaan kyk bietjie by www.arkie.co.za – baie mooi foto’s daar!

Ons het weer deur die wildkamp gaan ry, maar die diere het hulle nogal skaars gehou. Twee jaar gelede het ek ‘n foto gewys van ‘n kokerboom wat lyk of hy deur die kameelperde gevreet is.  Ons het die kameelperde naby die rivier gekry – in hierdie foto wat ek in die veld geneem het, sien mens minstens 6 dooie kokerbome.

Hierdie keer het ek ‘n draai by die sg. Maanrots gaan maak.  Ek het ‘n klein GPS saamgedra toe ek opgestap het, ek dink dis so 400 m se stap van die stilhouplek tot heel bo.  Die GPS koördinaat is S 28.59775 E 20.31834.

Nadat ons 2 jaar gelede by Ararat foto’s geneem het, is daar intussen dekke en versperrings aangebring.  Mens wonder nogal wat moet voorrang geniet – mense wat nie self weet hoe om versigtig te wees nie, of die bewaring van ‘n natuurwonder soos dit was?

By Augrabies dorp

Ons het weer deur die dorpie Augrabies gery, eintlik wou ek die Khamkirri-bootjie se landingsplek gaan soek.  Tussen die dorpie en die landingsplek het ek hierdie foto in die lande geneem, met Renosterkop in die agtergrond.

Terug op Khamkirri

Saterdagoggend het ek en Tharina op ‘n rit gegaan in Khamkirri se wildkampie met vierwielmotorfietse.

Met die motorfietsrit het ek gesien die rivier boontoe van die kamp is ‘n paradys vir ‘n óú rivierkind.  Aangesien ons vir die namiddag reeds ander planne gehad het en daar nie meer tyd sou wees nie, het ek op die hitte van die middag op ‘n staptog gegaan en met ‘n paar fotos teruggekom. Die baie rotse wat hier in die rivier gesien word is deel van ‘n eiland.  Mens kan amper nie ‘n foto neem sonder om Renosterkop aan die ander kant daarin te hê nie.

Hier kan minstens 2 watervoëls gesien word, en ‘n systroom wat om ‘n eiland kom.

In die aande is dit lekker om voor die braai ‘n drankie te geniet op die houtdek by die Khamkirri Castle Corner.

Met ‘n wonderlike uitsig oor die rivier!

Ons was die Saterdagnamiddag op ‘n wildrit, dit is op ‘n plaas met die naam Tierkop ‘n klompie kilometer van Khamkirri af.  Die diere was meestal ver, maar miskien sal ek later ‘n paar foto’s daarvan plaas.


Responses

  1. Ek weet nie of dit net ek is nie, maar ek kan nie al die foto’s sien nie? 🙄

    In elk geval, wat ‘sigbaar’ is…baie mooi! (Nou wonder ek net oor die ander en wat ek mis!) 😉

  2. Dankie Vlam, ek hoop dis nou reg! WordPress se WYSINWYG editor! Snaaks, as ek na my blog se skakel gegaan het is die prentjies reg. As ek egter na die skakel van hierdie skrywe gegaan het was party prentjies nie daar nie.

    Ek dink dit het gebeur omdat ek eers al die prentjies “insert” het toe toe ge-cut en past het om hulle op die regte plekke te kry. So leer mens!

  3. Heiden, is dit al TWEE jaar sedert julle vorige vakansie?? Ek onthou jou foto’s van daardie keer, en het gespring om hierdie te kom kyk! 😆

    Al die foto’s is nou reg, dankie. En dis voorwaar pragtig!! So vakansie moet regtig iets vir die siel doen.

  4. Lyk of dit ‘n baie aangename tyd was! Dankie vir die foto’s.

  5. Ek dink ek sien ET se oupa in daardie rots!lol…ek glo hierdie vakansie was heerlik, weg van die woel en krioel en ek kan al die stilte hoor. As jy praat van “hut” dan dink ek aan die klompie staproetes wat ons deurgemaak het met “hutte” en ook net die basiese geriewe – en dit wat jy saamgedra het. Sjoe, warm water is altyd ‘n bonus..ek gee vir niks anders om nie, daar moet net ten minste warm water wees.🙂 – maar moet se ek was al op plekke sonder warm water. – baie…as ek net aan die Drakensberge dink! (staproetes)

  6. GORGEOUS pictures! I’m so sorry I was unable to read anything (except the “under the rainbow” remark) — it would have added immeasurably to my appreciation. Still, the pictures were lovely all by themselves. Thank you so much for sharing!!

  7. Hi Anda, thanks for commenting here! For the rest of you guys, Anda is a chess.com friend from Roslyn PA in the USA. For all other English readers, I have translated this post into English on chess.com, just find me there as Kop.

    Haai die res van julle! Ja Nikita,😆 dit lyk omtrent soos ET se oupa, maar sien jy iets in die ander foto bo hom?

  8. Kop, ek het gekyk en gekyk, die “foto bo hom” meen die een waar die water kolk en draai, ek dog jy meen in die boom op die een wat ek se ET se “oupa” is . Ek kan niks sien nie, weet nie of die lig hier dalk te swak is nie.🙂 Die ET-foto sien ek ‘n ligblou “iets” – baie liggies, amper kat-agtig soos die groot katte – ‘n gedaante? Nee, jy sal moet help.🙂

  9. Nee, die foto tussen die water wat kolk en ET – die een waarby ek gevra het “Sien jy iemand daar?”

    As niemand dit sien nie sal ek ‘n skets moet maak!

    • Kop, dis juis my ET-rots!🙂 Die een met die boompie voor hom. So bietjie regs van daardie groot ET-rots (die water-kolk foto is net reg bo hom en Jan Spies -byskrif by die volgende foto) sien ek ‘n bonkige “figuur” – weet nie of dit dit is wat ek moet sien nie! Toe, kom nou uit daarmee!🙂

  10. Kyk my volgende inskrywing, Nikita!😆

  11. 🙂 Nou moet jy NOG ‘n inskrywing maak!

  12. Hoe het jy in die hitte gehou? Ek was `n jaar terug in Desember in Upington vir `n troue en ek het amper gedooi!

  13. Jou lucky derduiwel. Alweer!

    Geen Landies vanjaar raakgery nie??

  14. @Corli: Nee wat dis maklik, jy moet net goed slaap in die nag, as jy soos ek nie van ‘n lugversorger hou nie, dan in ‘n klein tentjie, vroeg na bed en vroeg daaruit, slaap soos ‘n klip, dan kom jy maklik deur die dag. Khamkirri se hutte is nie so warm as mens die seile oopmaak nie.

    @Skoor: Kan jy glo, nie een nie! Ek wonder waar is hulle, almal opgeroes in die scrapyards?


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: