Posted by: mykopop | Saterdag 21 November 2009

What Poets Need – Finuala Dowling

Mag ek maar in Afrikaans iets skryf oor ‘n Engelse boek? Ek lees mos nie eintlik Engels nie en het toevallig op hierdie boek en skrywer afgekom.  Ek het intussen Finuala Dowling se ander roman  Flyleaf ook in die hande gekry en kyk uit vir haar twee digbundels I Flying en Notes from the Dementia Ward.

Die hoofkarakter en verteller John Carson, ‘n digter wat in Kalkbaai woon.  (Terloops, Finuala Dowling woon self daar.)  Hy het sy twee jaar diensplig gedoen en daarna vir ‘n uitgewery gewerk. Mettertyd het hy ‘n digbundel gepubliseer gekry.  Nadat hy die werk by die uitgewery verloor het, het hy vir ‘n jaar op ‘n plaas gewerk vir Theresa, wat blomme kweek vir die oorsese mark.

Terwyl hy op die plaas gewerk het, het hy Theresa aan digkuns begin bekend stel.  Na die tyd het hulle begin korrespondeer en ‘n verhouding het ontstaan, maar sy wou nie haar man, Theo, verlaat nie.  Die storie draai in ‘n groot mate om die korrespondensie tussen hulle.

Sy grootste probleem is egter geld.  Op die oomblik is sy enigste inkomste ‘n toekenning wat periodiek gegee word vir ‘n skrywer vir die saamstel van ‘n poësiejoernaal  The Unofficial View.  Die huis wat hy en sy suster Beth van hulle ouers geërf het, het dringend duisende rande se instandhouding nodig.  Sy (geskeide) suster gaan werk vir ‘n tyd in Johannesburg en los hom alleen om na haar dogterjie Sal om te sien.  Om by te dra tot sy  probleme, ontwikkel Sal ‘n anoreksieprobleem.

Daar is nog ‘n interessante karakter, Mrs. Cloete, wat hulle kothuis bewoon.  Sy help hom later om van die gedigte vir die joernaal te kies, ‘n taak wat vir hom nie altyd maklik is nie omdat hy baie van hulle persoonlik ken en onvermydelik bevooroordeeld is.  Een van hierdie digters se naam is Vusi Gunguluza, ‘n rapper-tipe, wie se gedigte eintlik net impromptu ontstaan.  Hier is so ‘n stukkie van sy gedig:

Give the poet what he needs
certain sad repeated beats
on which he feeds
give the poet what he needs
some slow anthem’s lead
the spirit freed.

(Ek kan nie onthou of daar genoem word of Vusi dreadlocks het of nie, ek kan hom vir my so voorstel.  Ek weet ook nie of Finaula Dowling met hierdie slow anthem enige visioene gehad het oor ‘n singery by ‘n seker rugbywedstryd nie!)

By die bekendstelling van The Unofficial View lewer John Carson ‘n kort toespraak en sê o.a.  “The poet is a lonely person, feels always that the team has been picked already and that he has been left out. Perforce, he becomes an eavesdropper, a spy.  He rejoices in his solitude. Loathes his solitude. Pariah, he calls himself, loathsome outcast.” Ek weet nou nie of dit waar is van alle digters nie, maar miskien wel vir periodes?

John Carson (soos Finuala Dowling) is ‘n woordkenner, hou dus maar die woordeboek naby, jy sal bv woorde soos septuagenarian aantref, in so ‘n mate dat Sal se terapeut hom oor die vingers raps oor hy sg. haar na die intellektuele vlak van die volwassene wil verhef.

Ek was bietjie verras deur die skrywer se gebruik van Afrikaans oral in die boek, bv. op bl. 47 haal sy Jan F.E. Cilliers se gedig Dis Al aan.  John se herinneringe aan sy tyd in die weermag sorg egter vir heelwat “volwasse taal”.  Growwe taal en erotiek kom ook elders voor, maar beslis so dat dit nie steurend of oorheersend is nie.

In die geheel gesien, vir my ‘n heerlike boek, die tipe boek wat ek dink digters nodig het!  Ek is nog lank nie daaarmee klaar nie.

Finuala Dowling

Foto: www.flickr.com/photos/booksa/2563863215/

What Poets Need kan bestel word by Kalahari.net.

Notas:

Vusi – bl. 67, 132-134
Septuagenarian – bl. 150.
Toespraak – bl. 215-216


Responses

  1. Dankie vir die bekendstelling van hierdie boek. Waar’s my inkopielysie nou weer?

  2. Omtrent ‘n lekker lusmaker… klink soos ‘n boek wat ek MOET he^!

  3. Dit klink na ‘n oulike boek. Dankie!


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: