Posted by: mykopop | Sondag 18 Oktober 2009

Mathys is nog Mathys!

Mathys Roets se konsert wat ons gisteraand bygewoon het, het ‘n bietjie rampspoedig begin.  Dit was veronderstel om om 19:00 te begin.  Omtrent 10 oor 7 het die dominee van die kerk waar dit aangebied is (NG Constantia Kruin) op die verhoog gegaan en aangekondig dat Mathys se vlug van Kimberley af vertraag is.   Soos julle weet is die paaie van die lughawe af in Gauteng ook ‘n gemors op die oomblik.  Weens ‘n donderstorm hier in Gauteng kon die vliegtuig nie betyds hier opstyg vir die vlug soontoe nie, gevolglik is die vlug van daar af ook vertraag.

Die konsert het dus omtrent ‘n uur later begin, maar die wag was die moeite werd!  Ek is nou jammer dat ek al weer nie ‘n kamera saamgevat het nie,  ek is al so gewoond aan teaters waar kamera’s streng verbode is, ek moes gedink het in ‘n kerksaal sou ek darem ‘n paar foto’s kon neem, ‘n paar ander mense het.  Die foto’s van Mathys en Mauritz hierbo is uit die Vrydag die 13de DVD.

Mathys het die konsert begin met Hello Again van Neil Diamond.  Daarna het hy een ander liedjie gesing, ek dink van Stef Kruger en toe Droomvrou van Lucas Maree.  Voor hy Droomvrou gesing het, het hy eers vertel hoe Lucas elke dag in die hospitaal vir hom kom kuier het.  Hy sê hy het gedink Lucas is darem verskriklik gaaf om elke dat van Bloemfontein af Pretoria toe te ry om vir hom te kom kuier.  Eers na omtrent ‘n week het hy agtergekom hy is in die hospitaal in Bloemfontein!

Saam met Mathys op die verhoog was Matthys Maree op klawers, Mauritz Lotz op kitaar en Rozelle Blackie (Cut Glass) het die agtergrondsang gedoen.  In die meer as ‘n uur wat ons vir die konsert gewag het, het die Afrifrans CD waarby Matthys Maree betrokke was omtrent een en ‘n half keer deurgespeel.  Dit bly puik, so as jy dit nog nie het nie en van die klank van die Franse taal hou, kry dit!

Met Mathys Roets se stem is daar gelukkig niks verkeerd nie.  Soos ek al baie gesê het, ek hou meer van liedjieskrywersangers, maar Mathys het so ‘n diep, ryk stem wat mens laat besef daar is mense wat net sanger hoef te wees. In my kommentaar op sy Vrydag die 13de DVD, het ek gekla dat hy darem so nou en dan die kitaar self kon opneem, al het hy die beste kitaarspeler in die wêreld agter hom.  Dit het hy inderdaad gisteraand gedoen, en ek moet sê, gelykstaande aan Mathys se heerlike sang is hy en Mauritz se kitaarspel saam nog ‘n ander groot lekkerte.

Hy het ‘n goeie mengsel gesing van liedjies van Leonard Cohen, Cat Stevens en Afrikaanse liedjies van sy vorige CD’s.  Hy beplan om volgende jaar ‘n CD vry te stel met damesname, soos hy gesê het, Lisa, Lisa, Suzanne, Mary, Mary en Mary!  Hy het ons dan ook ‘n voorsmakie gegeen met Sad Lisa (Cat Stevens), Lisa se Klavier,  Suzanne (Leonard Cohen) en Oh Mary van Neil Diamond se 12 Songs album.  In laasgenoemde het Rozelle Blackie nogal lekker die geleentheid gekry om ‘n duet te sing, nie net agtergrond nie – wat ‘n lieflike stem het sy nie!

Na die eerste ‘vals’ afsluiting, is die konsert in die kerk heel gepas afgesluit met Gebed van Koos du Plessis.

As jy kans kry, gaan kyk vir Mathys – jy sal nie spyt wees nie.


Responses

  1. Ek’s bly Mathys is terug en dat hy die pad met soveel moed stap! Dankie vir hierdie terugvoer.

  2. Ek hou van sy musiek, maar die neiging om liedjies van ander kunstenaars te sing raak bietjie..? Dis ok as hulle een of twee liedjies van ‘n ander sing, maar om elke ou se liedjies te sing (soos Steve wat “hulde bring”) – raak dit nie bietjie “erg” nie. Later sit mens met CD’s van almal en al die liedjies dieselfde, maar net ‘n ander sanger wat dit sing. (OK, ek weet ek oordryf dalk hier, maar darem…)

  3. Ou Chris, ek is doodseker jy het vir ons ‘n lekkerte daar uit jou hartswereld…

    http://skoor.wordpress.com/2009/10/29/ek-spook-jy-spook/


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: