Posted by: mykopop | Donderdag 10 September 2009

Wonderdade van Staal Burger en ander verhale

wonderdade-van-staal-burger-voor

Fanus Rautenbach, Afrikaanse Radiolegende van die 20ste eeu, soos gekies deur 27,000 luisteraars. (Presies wat dit beteken weet ek nie.)  Ek is oud genoeg dat ek grootgeword het met die Staal Burger radiovervolgverhaal wat van 1961 tot 1974 uitgesaal is.  Ek kon dus nie die versoeking weerstaan om hierdie boekie aan te skaf nie

Fanus gebruik hier en daar woorde wat vandag miskien ongewoon is, die eerste storie begin bv. met “La’k julle biele iets vertel”.  Ek het die woord “biele” nog nêrens anders gehoor nie en my HAT gee dit nie aan nie.  Mens moet egter onthou dat Fanus self skepper van menige nuwe woord is,  ek weet bv. dat hy die skepper van “vonkpos” is.  Dis egter nie vir my hinderlik nie, ek dink ook nie dit behoort kinders van vandag te verhinder om dit te lees nie, veral met ‘n bietjie leiding van Oupa of Ouma kan dit hulle nogal heelwat insig gee in hoe dinge destyds was.

Fanus skryf aan die begin van een van die Staal Burger-stories, Diamante is dodelik: Julle kan nou vir my briewe skryf uit Stellenbosch en beswaar maak omdat Staal Burger nie ‘n kultuurbydrae is nie en julle kan uit Delmas uit skryf en sê dat daar nooit in die geskiedenis so ‘n held voorgestel is soos hierdie Staal Burger nie – ek laat my glad nie daardeur beinvloed nie. Fanus het dus Staal Burger bedoel as ligte vermaak, nie as hoge kultuur nie, maar mettertyd het dit vir my wel kultuur geword.

In dieselfde storie, waarin Bennie en Sarie teen haar pa se sin trou en wegloop, en met die trein verder ry as die stasie waarvoor hulle ‘n kaartjie het, snel Staal Burger hulle te hulp waar hulle in ‘n lëe kompartement wegkruip en dan ontdek dat daar ‘n man se hand onder die bank uitsteek.  Hier is so ‘n stukkie van die dialoog:

“Staal Burger,” sug Sarie, “ek kan dit nie glo nie.  Die man onder die bank … is hy … is hy?”
“Ja, hy is,” sug Staal.

En dan eindig die storie so:

“Jislaaik, Meneer het die twee ouens hard geslaan,” herhaal Willem.  “Dink Meneer hulle is…?”
“Nee, hulle is nie, Willem.  Maar hulle is amper …”

Voornemede kopers moet net daarvan bewus wees dat daar twee boeke is wat amper dieselfde lyk, hierdie een bevat 7 Staal Burger-verhale en 9 ander kortverhale.  Die ander boek bevat net Staal Burger-stories, ‘n resensie deur Stoffel Cilliers is beskikbaar in Beeld.  As jy graag wil hoor hoe Staal Burger geklink het, kyk by RSG se Klank Afgestof,  kyk net mooi, daar is twee seksies, Staal Burger 1 en 2.  Daar is 4 kort klanksnitte wat jy kan aflaai deur te regskliek op mp3.  Daar vertel Fanus ook waar Staal Burger vandaan kom:

Die hele ding het beginne met Anna Neethling-Pohl. Sy was in ‘n vergadering, in ‘n programkonferensie, in Commisionerstraat nog, en ek kom so, ek kom uit en sy kom in en sy sê: “Hey, jy moet vir my ‘n vervolgverhaal vir die jeug skryf.” Sy sê: “Maak dit so lekker held, ‘n held wat vir niks skrik nie.” En ek het destyds The Saint gelees, en ek sê vir haar: “Ja, so ‘n karakter”, en ek verduidelik vir haar wat ek wil hê. Ek sê: “Ons noem hom Ysterman”. Sy sê: “Nee nie Yster nie, ons noem hom Staal, en ‘n van, wat is die manlikste van wat jy aan kan dink?”, en ek sê: “Burger, Staal Burger”.

Behalwe die twee boeke van Fanus is daar op die oomblik nog een op die rak:  Fanus Onthou En Sebastian Lieg In die Mou.   Ek het onlangs na ‘n onderhoud met Fanus in Leeskring op RSG geluister oor hierdie boek en omtrent aan sy lippe gehang.  Die program is hier beskikbaar.

Fanus Rautenbach

Foto: Voorblad van Liewe Oom Draadloos, 1991

Alhoewel humor duidelik Fanus se forté is, skryf hy ook meer ernstige dinge.  Kyk bv. op Laurika Rauch se album ‘n Jaar in my lewe, na die vertaling Moenie weggaan nie, wat hy gemaak het van Jacques Brel se Ne Me Quitte Pas.   Hy word nog in hierdie maand 81 en skryf nog steeds op Litnet, die mees onlangse skrywe van hom wat ek kon opspoor is geplaas op 5 Augustus, sommer nou-die-dag, getiteld Kitsch en die moderne penarie.


Responses

  1. Ek stem saam dat hy ‘n radiolegende is. Hy moet eintlik ook ‘n tipe van ‘n volks-“held” wees. hahaha… almal het darem altyd hom baie geniet en was daar weer so iemand soos hy (of is daar?) nee, ek glo nie.🙂


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: