Posted by: mykopop | Woensdag 12 Augustus 2009

Kubermens – Eveleen Castelyn

Kubermens

Toe hierdie digbundel in 1999 verskyn het, het ek beslis nog nie ‘n kuberlewe gehad nie, wel al by die werk, maar internet by die huis – veral ‘altyd-aan’ internet – was eenvoudig te duur.  Dit was dus vir my verassend om die bundel tweedehands raak te loop en die datum van publikasie voorin te sien.  Nou is dit vir my nog meer verstommend om te sien dat dit geskryf is deur iemand wat in 1928 gebore is!

“Eveleen C@stelyn”, spel sy haar naam op die voorblad.  Die voorbladontwerp is nie baie verbeeldingryk nie, as ek dink aan voorblaaie van wiskunde- en rekenaarwetenskaphandboeke wat ek gehad het, met een of ander konstruksie van nulle en ene of blokkies wat uitmekaarval.  Maar ek het die tweedehandse bundeltjie uit die rak in die boekwinkel gehaal, na die inhoudsopgawe en eerste paar gedigte gekyk, en ek kon dit nie weer terugsit nie.

Die bundel bestaan uit vyf afdelings, maar begin eers met ‘n inleidende gedig,

MITES VAN DIE HEELAL

I have.. a terrible need… shall I say the
word? … of religionl. Then I go out at
night and paint the stars.
Vincent van Gogh

sterrekundiges in digterlike
wit jasse skryf poëtiese
mites en sprokies van die Heelal
maak somme
met kwantummeganika
en soek
in hulle wildste drome
na die boustene van atome:
leptons en elektrone
en kwarke het se geure:
“op, af, sjarme, vreemd
waarheid en skoonheid”
….

I, Kuberruimte, bestaan uit net drie gedigte. Die reus van IBM, oor die skaakspelle van Deep Blue teen Kasparov.  ‘n Diep stem kom uit sy binneste:  / my hart is potblou verkluim / diepblou soos ‘n blok ys gevries – / ek is vreesloos en boos / vreesloos en boos . . . Jernigan, die Sigbare Man, oor die veroordeelde moordenaar Joseph Paul Jernigan wat sy liggaam tot beskikking van die wetenskap gestel het om te dien om data vir driedimensionele beelde van die menslike liggaam beskikbaar te stel.   Rekenaarbeelde van sy liggaam kan bv. hier besigtig word. Kuberkomponis: Uit die EMI-rekenaar / kom die klassieke klanke / van Johann Sebastian Bach … Kuberkomponis EMI / het geen passie of geheue nie / ken geen vreugde,  liefde eensaamheid / of diep gevoelens nie.

II, “As die mens God speel”, bestaan ook net uit drie gedigte.  Die aarde treur, dit verwelk, gaan oor die gooi van die eerste atoombom: Die Enola Gay draai / skerp om, duik weg / van die hel / waarin hulle afkyk // die medevlieënier / skryf in sy dagblog // “Here, wat het ons gedoen”.  Tjernovil, oor die Russiese kernreaktor wat ontplof het.

Gestorwe planeet:

Aerosolkannetjies pons gaatjies
in die dun osoondoek rondom


Menslike faeces in die bergstrome:
reviere mond uit in ‘n riool-
oseaan, perdjies met blink
gekamde olieswart kuiwe
en skuimende rasende bekke
slaan dood neer, gevrekte visse
en voëls soos skulpe uitgespoel
op die strande, sing die swanesang
van ‘n verlore paradys

gestorwe planeet
gemaak met mensehande

III, E-pos, klink baie belowend gesien die tema van die bundel, maar ongelukkig begin die tema hiervandaan heeltemal degenereer.  Ek het eenkeer ‘n praatjie van Prof. Hans du Plessis oor kreatiewe skryfwerk bygewoon, waarin hy gesê het mense stel nie belang in jou persoonlike intriges nie, jy moet dit “vertaal”.   Hier maak die skryfster haar dalk hier en daar skuldig aan die oortreding van daardie reël, bv. in “Voorbode” wat blykbaar gaan oor die dood van ‘n familielid.  Nie dat daar iets mee verkeerd is nie, sulke gedigte kan dikwels baie beteken vir mense in soortgelyke omstandighede, neem bv. die twee (mooi) gedigte, Swaar Week en Gekweste wat handel oor borskanker. (Haar eie, wonder mens?)

Niks skakel egter regtig vreeslik in by die e-pos of kuber-idee nie.  Tog is daar hartroerende gedigte soos Huis in ‘n Boks en ‘n Boemelende Kersfees, wat miskien tog iets oor die mense van ons tyd sê.  Sao Paulo van ver af gesien (1997), waar Villeneuve wen / in ‘n Williams Renault is nogal vir my spesiaal – ek het eers in 2000 begin Formule 1 kyk, maar daarna het Jacques Villeneuve nog ‘n hele paar jaar gery en sy troetelnaam by ons was Willeneef.  Gesien al die tegnologie wat gebruik word in F1 pas dit seker in die tema? Daar is ook ‘n gedig wat ‘n parodie is op Elisabeth Eybers se gedig Maria, Onze Lieve Vrouwe Gasthuis (vir Biddy), In die fleur van jou lewe / skryf jy ‘n gedig oor Maria / nooi van Nasaret: / ‘n Engel het dit self gebring / en sy het ‘n lofsang / tot God’s eer gesing; / toe bure-agterdog haar pla / en Josef haar wou skei, ens.  As ek hiervan geweet het sou ek dit liewer aangehaal het by die dood van Elisabeth Eybers.

IV, Westransvaal Blues, bestaan uit 9 kort verse waarvan 8 kwatryne en een vyfreëlige vers, almal oulik, maar met geen verband met die tema Kubermens wat ek kan raaksien nie.

VI, Tankas , ‘n twintigtal tankas.  ‘n Tanka is ‘n vyfreëlige versvorm van Japanese oorsprong soos die Haikoe, in hierdie geval met ‘n lettergreeppatroon van 5-7-5-7-7.   Weereens is die gediggies baie mooi maar meestal sonder verband met die bundeleenheid, behalwe miskien hierdie een:

die hadidas roep
skreeuende telefone
in hospitale,
duiwe koer besetseine
op ongevalle-lyne

Die tema in I en II blyk meer te omvat as net nie mens in die kuberruim, maar ook in die algemeen die mens en tegnologie.  Dis jammer dat die interessante tema so gou in die boek doodloop, miskien sou dit beter gewees het as die bundel ‘n meer oorkoepelende naam gegee was, met afdelings I en II saamgegroepeer onder die opskrif Kubermens, miskien uitgebou met van die ander gedigte wat dalk wel inpas.  Of was daar dalk, toe die kuberruim nog relatief nuut was in 1999, net eenvoudig nie tyd om meer aandag aan die samestelling van die bundel te gee nie, uit vrees dat iemand anders eerste op die rakke is met ‘n soortgelyke idee?

Desondanks die effense probleem met die bundel-idee, is dit ‘n lekker bundeltjie wat mens maklik in ‘n halfuur of so kan deurlees.  Dis jammer dis glad nie op die oomblik in die handel beskikbaar nie, maar dalk kan jy soos ek ‘n tweedehandse kopie in die hande kry, of in ‘n biblioteek.

Verwysings:

castelyn-eveleen

Eveleen Castelyn, 1928-2004  (Foto: Vuurklip)

‘n Kort biografie is hier beskikbaar.
Joan Hamibidge skryf in Litnet,  Bon Voyage, Eveleen Castelyn op 13 Desember 2004:


Dalk sal ons minder bly uitstel,
leef vir die tevergeefse oomblik,
op ‘n soekende kuberreis
tot stilte kom.
As jy vanaand vir Cas sien,
jou Sjinese mandaryn,
sê vir hom ek bewaar
sy bottel Franse sjampanje
net tot en met sonsopkoms. Op
‘n vol en gulle samesyn.

Ek weet nie wie die Cas is na wie Hambidge verwys nie, toevallig haal Cas Vos ook Jernigan, die Sigbare Man aan.


Responses

  1. Die uurglasie op die voorblad is nie deel van die boek se voorblad nie, dis ‘n kuberglasie wat vanself daar verskyn het!😆

  2. haha,,ek wou net iets oor daardie uurglasie gesê het! lol! Verder stem ek saam dat die voorblad meer kreatief kon wees, ek wou ook nogal dieselfde sê as wat jy gesê het oor die titel, dat dit eerste gegaps is en verder niks met die inhoud verband hou nie. Ek sou graag wou weet waarom sy dan so ‘n titel gekies het, dalk het haar idees wat verband hou met die titel vroeg “opgedroog”, daarom dat die res nie verband hou met die titel nie, mens sal ook nie weet nie. Sy het haar nogal gebind met so ‘n titel.


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: