Posted by: mykopop | Woensdag 29 Julie 2009

30 nagte in Amsterdam – Etienne van Heerden

30-nagte-in-amsterdam-voor

Sonder om die storie vir jou te bederf, wil ek graag ‘n bietjie oor hierdie boek vertel.

30 Nagte in Amsterstam is die verhaal van Henk de Melker, museum-assistent van Somerset-Oos wat na Amsterdam moet reis, omdat hy die huis van sy lankverdwene tante Zan geërf het. Aldus Tafelberg se katalogusbeskrywing.  Daarenteen begin die lokteks in die voorste flap met ‘n paragraaf oor Zan de Melker.  Die boek is amper meer haar verhaal as die van Henk.   Die voorbladfoto is briljant – hoe verder mens lees, hoe meer wórd die meisie op die brug Zan de Melker.

Gewoonlik word ‘n boek geklassifiseer as ‘n “eerste-persoons-” of “derde-persoons-boek”.   Met hierdie boek is albei die geval.  Hoofstuk 1 begin met ‘n skim-verteller wat oor Henk vertel.  In die volgende hoofstuk is Zan self die verteller.  Minstens die eerste paar hoofstukke ruil so heen en weer tussen die twee hoofkarakters, daarna nog steeds, maar partykeer kry een van hulle twee hoofstukke na mekaar.  Hoofstuk 49 is vir my bietjie anders in die patroon. (Ek kan nou nie meer daaroor sê sonder om te veel uit te blaker nie.)

Ma Olivier (Olivijê) woon in die 1960’s in Somersetstraat in Graaf-Reinet met haar volwasse dogter Susan of Zan de Melker, asook haar kleinseun Henkie de Melker om hom die voordeel van die dorpskool te gee.  Ma Olivier is matriarg wat na die wel en weë van die de Melker-familie omsien vanaf die sogenaamde Aansienlikheidslessenaar.

Zan ly aan epilepsie en het geen inhibisies nie.  Sy raak betrokke by die Beweging, meer spesifiek die Sobukwe-sel.  Haar een broer (Henkie se pa) ly aan erge depressie en boer namens die familie op die familieplaas met sy Engelse vrou Dorrit.  Daar is nog ‘n broer wat in Pretoria woon.

Die volwasse Henk skryf as museumassistent vervelige monografieë oor geskiedkundige randfigure.  Hy ontwikkel ‘n intense belangstelling in Cornelius van Gogh, broer van die beroemde skilder, maar hy is versigtig om, soos sy ouma dit stel, die agste kleur te sien, wat net groot kunstenaars en ook sy tante kan sien.  Met sy reis na Amsterdam word die tweestryd soveel meer intens.

Ek het nog nie voorheen veel van Etienne van Heerden se boeke gelees nie, jare gelede Liegfabriek en onlangs sy digbundel Die Laaste Kreef, wat ek uitstekend gevind het.  Dit was maar sy tweede digbundel en ek is jammer dat daar nie nog is nie. (Ek hoop hy het iewers ‘n onderste laai!)  Maar so in die roman dink ek mens kan agterkom hy is digter – die man (of sy karakters) praat sommer so in metafore!

As ek wel kritiek op so ‘n groot skrywer se boek mag probeer lewer, sal dit die volgende wees:

  • Nie almal is dalk lus vir weer ‘n ophaal van die struggle-tydperk nie.  Tog is dit onlosmaaklik deel van die tydperk waarin die skrywer self grootgeword het, die tydperk waaroor mens seker die maklikste kan skryf, alhoewel jy dit net van een kant af self beleef het.
  • Sommige beskrywings kan as onsensitief teenoor epilepsielyers gesien word.
  • Die beskrywing van hoe ‘n lyk verbrand word is dalk te grafies.
  • Ek hou gewoonlik daarvan om ‘n fout in ‘n boek te kry!  Miskien het ek ietsie beet op die tweede bladsy van die verhaal, bl.10, waar hy skryf:  Die fiets se ketting slaan blikkerig teen die modderskerm... Ouer fietse het meer algemeen wat hulle in Engels ‘n “chain guard” noem, gehad, waarvan sover ek weet die doel is om die ryer se klere of been teen die ketting te beskerm, nie sodanig om modder weg te hou nie.  Dis dalk moontlik, as die agterste modderskerm los is, of die ketting pap dat die ketting wel teen die modderskerm kan  slaan, maar ek vind die kettingskerm meer waarskynlik.
  • Met die baie name wat Zan haar broers (bv. Henk se pa as Ou Sugboet ens.) noem, raak ek partykeer bietjie deurmekaar met die karakters, maar skryf dit liewer toe daaraan dat ek nie met genoeg aandag lees nie!
  • Groot dele van die boek kort miskien bietjie meer spanning, maar dan maak die interessante inkleur van dinge van daardie tyd en die hedendaagse Amsterdam daarvoor op.

Van Heerden het deeglike navorsing gedoen vir hierdie boek.  Ek dink dit sal nie ‘n fout wees om eers sy Erkennings van so 6 bladsye agter in die boek te lees nie.  Dit lap niks uit van die storie nie, tog kan dit die leser dalk beter voorbereid maak om die boek te lees.  Ek het veral gehou van die deel oor busking,  sakkerollery en putpocketing.  ‘n Interessante brokkie wat my pas opgeval het is “… dat Naòmi Morgan, ‘n akademikus en navorser van die Universiteit van die Vrystaat, ‘n aantal jare gelede ‘n drama oor Cornelius van Gogh geskryf het.”  (Prof.) Naòmi Morgan is pas besig om groter bekendheid by die publiek te verwerf vir haar vertalings van bekende Afrikaanse liedjies in Frans vir die Afri-Frans CD wat pas vrygestel is.

Hierdie is ‘n groot en uitstekende roman wat beslis die lees werd is.

Bestel 30 Nagte in Amsterdam van Kalahari.net Kalahari.net


Responses

  1. Klink na ‘n interessante boek Chris. Ek het nog nie enige van Etienne se boeke gelees nie maar ek gaan kyk of ek hierdie een in die hande kan kry. Amsterdam is hoeka ‘n stad wat my na aan die hart lê.

  2. Ek is besig met 30 nagte. Dit is die eerste Van Heerden werk wat ek lees….en ek dink die boek is ongelooflik geskryf!!!!! Ek stem saam met jou oor die struggle gedeelte en dat dit dalk nie spannend genoeg is nie, maar ek verstaan hoekom hy die struggle as agtergrond gebruik het. Ek stem ook saam dat ‘n mens partykeer deurmekaar raak met die karakters.(Ek het gedink EK lees nie met aandag nie – ek is besig om ‘n bull terrier groot te maak en net as ek lekker lees, dan begin sy weer aan iets te vreet!!!!!!), maar dis ongelooflik hoe hy die karakters beskryf – ‘n mens sien hulle sommer so in ‘n fliek voor jou afspeel (een van Cecil Dimaggio se flieks????). Ek het nou net die hoofstuk gelees waar Henkie ala David Livingstone agter die knopiespinnekop aan is – flippet dis goed geskryf! Ek picture hom totaal en al. (En nou is die knopie in een van Tant Zan se vase!!!) En hoe hy Amsterdam en haar huis beskryf- jy voel asof jy self daar is. Skryf en veral BESKRYF kan die man wraggies!!! Ek moet myself net weerhou om nie die einde vooruit te lees nie. Ek is baie baie beindruk met die werk – ek dink egter dis nie vir ‘n preutse leser die regte leesgenot nie!! Een van die mooiste beskrywings is waar Henk in die toilet is op die lughawe en die skoonmaker die vloere was….”Seepborrels knetter op die rand van die waterpoel waaroor sy buk asof sy haar eie gelaatstekke daarin soek. SY ROER DIE VUIL VAN VOETSOLE UIT VYF KONTINENTE ROND……. ” Jo… ek dink dit is iets besonders! Hy verdien die pryse wat hy al gewen het! (Ek is nou lus om Toorberg te lees.)

    As jy lus het, gaan loer in by my blog: http://mooigoed.wordpress.com

  3. Ek kan nie wag om hierdie boek te lees nie, my laaste Etienne van Heerden was “In stede van die liefde”. En nou sit ek in London waar daar net Engels oral oor is. Hierdie rubriek het my nou weer honger gemaak vir ‘n lekker Afrikaanse boek.

    Moet hom bestel.

  4. Dit klink na ‘n goeie boek. Die voorblad is baie prikkellend. Die van “De Melker” het my dadelik aan Daisy de Melker laat dink!🙂

  5. Dankie vir die moeite met hierdie inskrywing. Ek bestel dit nou dadelik. Ek het nog nie ‘n boek van hom meer geniet as “Caspirs en Campari’s” nie en sien daarna uit hom hierdie te probeer.

  6. Dankie, Kop! Die man is ‘n baie goeie skrywer en ek dink dis die moeite werd om hom te lees.

  7. Bly ek het jou stuk hier gelees… dis is presies my volgende boek, eerste hoofstuk klaar, beloof heerlike leesstof te wees.
    Tussen hakies, en nee dis nou nie ‘n afrikaanse boek nie, maar… het jy al “The Book Thief” gelees? Briljant, doen jouself die guns.

    • Ek kan ook grootliks “The Book Thief” aanbeveel!!

  8. Het onlangs ’30 Nagte in Amsterdam’ gelees… regtig ‘n boek buite die gewone! Ettiene Bloemhof, die uitgewer het nou die dag by die Bellville boekklub daaroor kom praat .. die boek het baie gesprek uitgelok!
    Het gister die Afri-Frans CD vir die 1ste keer gehoor… ek dink dis stunning! Het veral die Afrikaanse vertalings van die Frans baie geniet! So bly dat dit als in die CD omslagboekie gedruk is!

  9. […] 30 Nagte in Amsterdam – al het die boek al in 2008 verskyn is dit die beste boek wat ek in 2009 gelees het. […]


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: