Posted by: mykopop | Sondag 21 Junie 2009

Die Uurwerk Kantel – Marié Heese

marie-heeseDie lewe van Maria, van 1897 tot 1972.  Aangesien die boek reeds in die 19de eeu begin, en dit op ‘n wynplaas, het die eerste stuk vir my effens die gevoel van die ou Kaapse verhale wat ek graag as kind gelees het, maar nie vir ‘n oomlik vervelig nie, want dit begin met die sinnetjie:

ek was vyf toe hulle Hansie doodgemaak het

Terwyl Maankind op Boekemakranka nou verwys het na Marié Heese se blog, en ek die boek onlangs gelees het, beter ek vinnig ietsie daaroor skryf voor ek alles vergeet.  Die foto is uit die stofomslag, daar word genoem dat sy Audrey Blignaut se dogter is. Wat die titel aanbetref, sê die kopieregblad: Die titel van hierdie roman is ontleen aan die gedig “Suiwer Wiskunde” van N.P. van Wyk Louw uit sy bundel Nuwe Verse.

Hansie was darem net haar troetelhaan wat per ongeluk onder die slagmes beland het. Onmiddelik is daar ‘n konfliksituasie met Trui (Gertruida), die huishoudster en haar pa. Soos die stofomslagnotas (sien verderaan) sê:  Marié Heese se karakters leef.  Trui is miskien vir my die werklikste karakter in die boek, maar dit geld eintlik vir almal, en aangesien die verhaal oor so ‘n lang tyd span, is daar heelwat karakters.

Die konflik met haar pa keer bv. weer terug hy ‘n gewonde Kaapse rebel, ‘n vriend van Trui, uit die huis jaag, en later wanneer sy in Eugene Marais se Winternag die skoonheid van Afrikaans as letterkundetaal ontdek, maar haar pa en die dominee reken “dis ‘n taal sonder ‘n verlede en sonder ‘n toekoms.” (Bl. 40-41)

Die groot griep van 1918 kry natuurlik ook ‘n beurt in die boek, ongeveer vanaf bl. 114. Toevallig, terwyl ek besig was om hierdie gedeelte te lees.  Gedurende die afgelope week is die eerste bevestigde geval in Suid-Afrika aangemeld.

Nog ‘n interessante karakter is die Duitse kunstenares Inge, wat die loodglasvensters vir ‘n katedraal in Kaapstad moes oordoen, met wie Maria bevriend raak.  So ook die Pool, Latski (bl. 191-), wat sy gesê het: “Chopin was a Pole.  Did you know that? …. His heart was immured in a pillar of ze Church of ze Holy Cross in Varsaw”.

Maar ek wil nie die storie verder bederf vir voornemende lesers nie.  ‘n Voortreflike boek, en glad nie so “oudtyds” as was mens dalk ‘n suspisie mag hê nie.  Onthou dit het in 1976 verskyn – na die blommekinders!  Net nog ietsie wat ek wil sê: Maria se gedagtes wat so, nie in vol sinne nie, sonder punktuasie in die boek uitgespreek word.  So ‘n stukkie daarvan:

miskien
kon ek
dit
alles
vir jou vertel het
as ek jou geken het
toe ek nog Maria was
maar nou
is ek nie meer Maria nie
ek is ‘n wingerdstok
‘n ou ou wingerdstok
soms dink ek
minstens al ‘n honderd jaar oud
en ek dra die letsels
van al my winters aan my bas
maar toe dit oestyd was
toe kon ek vrugte gee

die-uurwerk-kantel-omslag

Notas in die stofomslag (skrywer onbekend)

Die Uurwerk Kantel is die ontroerende
verhaal van Maria Celliers.
Met die trefseker gevoel van die begaafde
skrywer voer Marié Heese ons terug na
‘n tydperk wat verby is. Ons leer ken
Maria hier teen die draai van die vorige eeu
as kleuter op Schoongelegen waar sy met
sensitiewe oë na die mense en die wêreld
om haar kyk.
En later: Maria -die skrander skolier wat
vir die eerste maal jongmeisiedrome begin
koester .
Maria – die student. Sorgvrye dae van
studentepret en pIesier.
Maria – en Willem . ..een vakansie op
Schoongelegen.
Maria voor die kansel.
Maria -in Kaapstad as respektabele huis-
vrou.
Maria – die sorgsame moeder .
Maria – langs ‘n oop graf.
Maria – in die grysheid van haar jare.
Deur die oë van Maria leer die leser ook
vir Willem ken – intens en doelgerig, met
‘n byna onverskrokke eerlikheid; Johan,
die jong idealis “wat die wêreld wil ver-
ander” ; Elise, slim en teruggetrokke en
onversetlik in haar liefde vir die Engels-
man Charles Hopwood; die immer-Iojale
en arbeidsame Trui; Inge, prakties én
kunstig…
Marié Heese se karakters leef. Dit is die
lotgevalle van mense waarmee die leser
hom volkome kan vereenselwig. En waar
daar raakpunte met die hoofmomente in
die Suid-Afrikaanse geskiedenis aangesny
word – die Tweede Vryheidsoorlog, die
griepepidemie van 1918, die twee wêreld-
oorloë, die politieke stryd rondom ’48 -
word dit met kundigheid en insig gedoen.
Dit is selde dat ‘n mens ‘n roman opneem
en weet: hier is ‘n werk, lewenswaar en
eg, groots van opset, maar tog onpreten-
sieus, met ‘n eenvoud wat dit ‘n genotvol-
le leeservaring maak.
Die Uurwerk Kantel is só ‘n boek.


Responses

  1. BAIE dankie vir jou! Dit is ongelooflike waardevolle bydraes wat jy maak. Ek waardeer dit so. Nie net bring dit my gedagtes terug na die tyd wat ek dit gelees (en herlees) het nie, maar inspireer my sommer om dit weer te lees. Ek onthou ook die emeertjie turksvye wat so heen en weer op die trein gereis het!

  2. Ai Chris. In matriek was dit my voorgeskrewe boek, en ek het dit absoluut gehaaaat! Ons het ‘n fossiel gehad wat 4 uit die 5 jare van my hoe”rskool loopbaan, verantwoordelik was om vir my Afrikaans aan te bied. En my weersin in die Taal was elke jaar groter as ons gehoor het ons het weeeeer die vrou as onderwyser.

    Elkgeval, jare daarna neem ek eendag weer die boek op. En dis asof my onderbewussyn die hele storie geblok het, sodat alles wat ek lees, vir my nuut voel.

    Ongelooflike mooi, kosbare boek. Lekker gehuil daarin. Die voorreg van vrou wees: ons huil vir mooi adverensies! :lol:

  3. Klink baie oulik. Toe ek Heese sien, dink ek dadelik toe aan Hester Heese, kinderboekskryfser en wonder toe of dit haar dogter is. Ek het heelwat boeke (weggepak – ou storie!) van Adrey Blignaut…sy het lekker reisverhale geskryf wat ek geniet het.

  4. Alba Bouwer se stories, Nikita – Rivierplaas, Ruyswyk, Bergplaas…Net so kosbaar soos al die ‘-lande’ van FA Venter.

    Ken jy? Onthou jy??

  5. hi Skoor, Ja, ek ken al daardie stories! Stories van Rivierplaas was baie gewild onder die kinders. FA Venter: Geknelde Land, Offerland… en weet jy wat..Die Koning se Wingerd..het jy HOM gelees! Ek het daardie boek eindeksamen gelees, moes leer! maar kon die boek nie neersit nie, ek moes net daardie boek klaar lees voordat ek rustig kon studeer. :) As jy hom nog nie gelees het nie, maak seker jy lees hom!

  6. Laas jaar gelees. Het jy al Kambrokind en Man van Cirene gelees, mmmm? Indien nie, beter iemand dit vir jou aanstuur.

    Og, daai is nou vir jou briljante boeke.

    Ek het op ‘n FA Venter leesverslawing gegaan verlede jaar. Kortverhale ens verslind. Puik skryfwerk.

    Maar Kambrokind was besonders. Amper soos Pieternella in my rak van ultimate favourites!

  7. Skoor…ek het Man van Cirene gelees, baie lank voor Die Koning se wingerd, daar’s ‘n ander boek, nie van FA Venter nie, kan nie onthou wie nie, van Leserskring…”Die hand wat die spykers ingeslaan het” (so iets, ek is amper seker dis die titel), kyk of jy hom kan lees. Kambrokind het ek nooit gelees nie, baie sleg van my!

  8. Skoor…ek het hierdie stukkie op Graffiti-boeke se web gekry oor die boek, ek sien ek het die titel reg ook! — “Terwyl hy herstel van ’n wond wat hy in die Eerste Wêreldoorlog opgedoen het, ontdek ’n soldaat wat in die Midde-Ooste gestasioneer is een van die mees opspraakwekkende argeologiese vondste in eeue. Omstandighede keer egter dat hy dit verder kan ondersoek.
    Maar een aand in 1920 maak hy die houtkissie oop en ontdek binne-in ’n stuk perkament, drie spykers en die beendere van ’n man se regterhand. En so ontvou die verhaal van Scipio Martialis, ’n Romeinse soldaat uit Christus se tyd; die verhaal van die man wat vir Jesus Christus gekruisig het.
    Hierdie boek voer die leser mee op ’n man se aangrypende reis deur die belangrikste gebeurtenis in die geskiedenis van die wêreld. Skrywer J. Fletcher Ray teken Jerusalem in die eerste eeu na Christus en vertel hoe die geboorte, lewe en dood van Jesus gewone mense deel gemaak het van God se groot plan vir die verlossing van die mensdom. Elkeen wat daardie Vrydag op Golgota was, kon nie anders as om geraak te word deur Jesus se dood nie. Veral nie die Romeinse soldaat wat die spykers in Jesus se hande en voete moes inslaan nie.”

  9. Sal kyk of iemand hom in hulle rak het. Ek leen nie graag nie, en leen nie juis uit nie, en GRIL vir die bib se boeke!!!

    Dankie Nikita.

    • Laat weet my as jy klaar gelees het wat jy van die boek dink/of jy daarvan gehou het. Ek weet daar’s ‘n soortgelyke boek oor die “kleed”, ek kan net nie nou die titel onthou nie, ek het hom ook nie gelees nie.

      • Ek wonder of Kop agterkom ons kuier hier op sy blog…haha..

  10. Ja Nikita, ek het en geniet die baie!

  11. The most helpful thing i could find… although really it didn’t help very much… thought i should share it with you guys!!


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorië

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 45 other followers

%d bloggers like this: