Posted by: mykopop | Donderdag 11 Junie 2009

Met woorde soos met kerse – Antjie Krog

woorde-soos-met-kerse-voor‘n Digbundel?  Meer as ‘n digbundel. Hierdie is ‘n boek wat ek dink elke Suid-Afrikaner wat Afrikaans kan lees behoort te hê of minstens een keer behoort te lees.  Benewens digbundel is dié boek ook geskiedenisboek.  Nie dat ek dink die boek is volmaak nie, waarvoor ek later my redes sal gee.  Die boek begin met ‘n inleiding van omtrent 10 bladsye wat baie interessant is en liefs nie oorgeslaan moet word nie.  Daarna volg 10 hoofstukke, een vir elk van 10 inheemse tale. Die hoofstukke bevat benewens die vertaalde gedigte ook baie aantekeninge, wat die boek, soos ek gesê het, meer as ‘n digbundel maak.  My grootste kritiek teen die boek is die uiters fyn druk wat vir hierdie aantekeninge gekies is – ek het ‘n goeie bril maar het soms gesukkel om dit gelees te kry!

‘n Paar kort indrukke oor die 10 hoofstukke:

/Xam

Die eerste hoofstuk is amper die rede hoekom ek die boek gekoop het!   My liefde vir die “Boesmans” kom seker maar van my swerftoggies in die duine langs die Oranjerivier, waar ons klippype en kraletjies van been opgetel het, en my belangrikste speelgoed was ‘n pyl en boog met die pylpunte van platgekapte draad was ek goed op pad om self ‘n boesmantjie te word!


Die meeste van die gedigte handel oor diere, jag, mense wat deur leeus opgevreet word, gewoontes en hulle innerlike ervaring van menswees, bv. in gedigte soos boesman-voorgevoelens en dood.  Dis wat ek eintlik in in die boek kom soek het.  Daar is ‘n enkele gedig /Khabbo se treinreis wat gaan oor die digter se interaksie met wit en swartmense.  Dit eindig met vir my twee van die mooiste sinnetjies:

hy vra my: waar kom jy vandaan
en sê hom: my plek se naam is Bitterputs

/Xam is ‘n uitgestorwe Khoisantaal.  Daar is ‘n blad op Wikipedia oor die /Xam-taal. Die gedigte en ook al die inligting oor die taal is opgeteken deur W.H. Bleek, ‘n Duitse taalwetenskaplike (dis nou ‘n linguis!) en sy skoonsuster Lucy Loyd wat saam met hom in die Kaap gewerk het met ‘n groep /Xam gevangenes uit die Noordkaap. Daar is ook ‘n uitstekende webblad oor hulle werk. Twee van die belangrikste digters hier is Dia!kwain (Dawid Hoesaar) en sy suster !Kweiten ta//ken. Hulle foto’s en die van ander is daar te sien.

Sien ook die fragment van ‘boesman-voorgevoelens’ wat op die agterblad verskyn. (Heel onderaan.)

Xhosa

Die hoofstuk begin met die gedig  ‘die sinkende Mendi’.  Ek haal aan uit die aantekeninge:   Die gebeure op die skip wat binne twintig minute gesink het, het ‘n onuitwisbare indruk op die paar wit oorlewendes gemaak. (Hoe hulle oorleef het en waarom net wittes oorleef het, is nie bekend nie.)

Die hoofstuk word verder taamlik oorheers deur prysliedere aan twintigste-eeuse politici/vryheidsvegters en gedigte soos die inkrimping en afkamping van die grond en die maak van ‘n kneg..  Een lagwekkende stukkie kommentaar (bl. 77) sê dat Nelson Mandela se tweede naam Rolihlahla “moeilikheidmaker” beteken en dat P.W. Bothat in ‘n stadium gevra het hoe hy iemand kan vrylaat  wie se naam Moeilikheidmaker is!  ‘n Ander interessantheid  is ‘n prysgedig Vaarwel aan Madiba wat deur Thabo Mbeki geskryf is.   Daar is ook verse, inligting en foto’s van die twee imbongi’s wat Mandela besing het by sy inhuldiging – seker goed om te hê vir die geskiedenis.

Daar is darem ‘n enkele gedig of so oor die gewoontes van die Xhosas.  En dan ‘n stukkie (bl. 71) wat ons seker as positief moet ervaar:

en wat sal ek sê van Jacob Zuma
die dapper man wat hulle noem:
Hy-wat -probleme-met-humor-hanteer

Zulu

Soos die vorige hoofstuk is hierdie een taamlik gelaai met prysliedere, maar in hierdie geval aan Shaka, sy ma Nandi, Henry Francis Fynn.

Gelukkig is daar darem hier een van die mooiste gedigte in die hele boek, ‘n liefdesgedig van 9 strofes waarvan ek 3 wil aanhaal

laat my tog van jou water drink
C.T. MSIMANG (1944 – )

ek sal opstaan met die Môrester
en ‘n liefdesdrank meng
ek sal katdoring en palmwyn inroer
totdat jy vir my ja sê
ek sal uitgaan as die son sy eerste blink blink
wanneer die dag die dou breek
en ek sal sien hoe jy uitgelei word
deur die geur van die oggend
ek sal vir jou wag by die fontein
en vir jou wag en wag en aanhou wag, ek sal op jou wag

jy wat bokant die bome is
selfs bokant waar die voëls is
my hart sal vasklou
my siel sal styf vashou aan die takke van die bome
ek sal stewig staan
bemagtig met die palmwyn van brandende begeerte
die waagmoed van die skerpste verlange
ek smeek jou, ek smeek jou
laat my tog van jou water drink

jy wat bokant die wolke is
my siel sal uitbars in bloeisels
my siel sal vlerke groei soos ‘n arend
sodat ek vinnig oor die uitspansel wiek
sodat ek die golwe van die wind sny
en soos Elia van ouds
op ‘n snellende wa van vuur
klop en hamer aan die poorte van die hemel
jy wat my lewe is
maak jou hart oop
en laat my toe om jou volheid te smaak

En daar vergewe ek Dr. Manto vir die helfte van haar swak prestasie as minister van gesondheid!  En as jy regtig die stoutste gedig in die boek soek, lees dan Mahlalise Mkhwanazi op bl. 112, die laaste gedig in die Zulu-hoofstuk.

Ndebele

Die Ndebele is glo die mense wat hulle huise so mooi met patrone versier.  In die aantekeninge word vertel dat huwelike selfs bewerkstellig is om ‘n meisie te bekom wat oor ‘n gesogde verfresep beskik.  Van die gedigte handel daaroor, heelwat ook oor beeste.  Daar is ook ‘n pryslied, dr. N.R. Mandela.


Foto: Wikipedia – Ndebele-vroue voor ‘n huis in Loopspruit

Daar is nog een gedeeltetjie wat ek moet aanhaal (bl.116): ‘n Gerehabiliteerde kannibaal het in die negentiende eeu aan die skrywer J.C. MacGregor vertel dat die smaak van witmensvleis onoortreflik is vanweë die sout, suiker, en ander speserye wat wittes graag eet.  MacGregor skryf dat die kannibaal se mond letterlik begin water het toe hy die beskrywing gee.

Swati

Skop af met ‘n pryslied aan Sobhuza 1 wat in 1815 koning geword het.  Daar is selfs ‘n pryslied vir Samora Machel.  Die hoofstuk sluit darem op ‘n humoristiese noot met ‘n pryslied vir Meneer Man.  Die man word sarkasties om die beurt  met ‘n olifant, ‘n steunpilaar, ‘n naaimasjien en groente vergelyk. Die gedig eindig met: oor jou kan ek nog baie sê, maar stop nou.

Venda

Ek hou van hierdie hoofstuk oor die rivier en die meer.  Ek haal aan, oor die Nzhelele-rivier: Omdat dit wes in plaas van oos deur die Vallei van die Valkies vloei, word dit beskryf as die rivier wat op sy kop staan.  Wat die meer aanbetref, die naam Fundudzi dui die manier aan waarop jy jou respek aan die meer moet betoon, nl. om te buk en deur jou bene daarna te kyk.  Dit word natuurlik in die gedigte weerspieël.

Nog ‘n interessantheid is die Lemba-etniese groep wat aanspraak maak op Joodse herkoms en volgens DNS-toetse beslis van semitiese afkoms is.  Hulle woon verspreid onder die Vendas, trou net met mekaar en noem alle buitestaanders ‘vuil mense’.

Tsonga

Die Tsonga-mense staan ook bekend as Tsonga-Sjangaan, wat nie ‘n baie positiewe betekenis het nie, ek haal aan: vir baie swart Suid-Afrikaners is die verskil tussen ‘n komsers en ‘n Sjangaankombers min of meer soos die verskil tussen ‘n kombers en ‘n ‘kafferkombers’ in die ou dae.  Volgens prof. Isaac Mathumba is nederigheid en aanpasbaarheid die kenmerke van die Tsonga.

Die hoofstuk skop af met ‘n pragtige gedig waarvan ek net ‘n stukkie wil aanhaal:

krimpvarkie
B.J. Masebenza (1933 – )

ten regte betrap die krimpvarkie jou onkant
hy is te pragtig geskape, waarlikwaar
die weerlose gesiggie, bekkie, ogies – selfs die snoetjie

dis asof jou hand sy ronde gesiggie kan streel
al met die pelsie langs
dis asof hy met jou kan terugpraat
dié diertjie wat so pragtig geskape is

onkant betrap hy jou
die krimpvarkie
hy veras jou
– sien jy dit?


Foto: Adem.skynetblogs.be

Mens is amper jammer dat die gedig nie net oor die krimpvarkie gaan nie, want dis vir my die mooitste diertjie!  Daar was nou juis onlangs foto’s op Adem van België se blog, gaan kyk gerus na die inskrywing Egeltje egeltje.   ‘Ongelukkig’ eindig die gedig nie daar nie, maar gaan dan verder oor die Sjangaan in Johannesburg.

Dan word daar ‘n interessante boek genoem – The Life of a South African Tribe (1913) deur Henri A. Junod, ‘n Switserse
sendeling.  Aangesien die boek so lank terug verskyn het, het ek gehoop dat dit sommer op Gutenberg.org beskikbaar sal wees, maar ongelukkig nie.  Ek kon so ‘n kykie kry op hierdie skakel. Heel interessant vertel die skrywer: Sodra iets vir hom te vulgêr was om in Duits op te teken, neem hy egter sy toevlug tot Latyn!

Noord-Sotho

Die eerste gedig is baie mooi en begin so:

Pheladi
P. MAMOGOBO (1926 – )

Terwyl ek die aarde omwandel, het ek my oë oopgehou; intens
op soek na die vrou op wie ek myself kan uitstort – al die emosies
wat my hart verwar. Toe word ek behaag deur Pheladi – dit was
sy wat my emosies opgetel het.  Toe ek haar sien, oorval begeerte
my; was ek opgewonde soos net ‘n volwasse man opgewonde
kan wees….

Die reënkoningin Modjadji is ook van Noord-Sotho-oorsprong.  Sien die notas op bl. 173-174.

Op bl. 176 is ‘n gedig ‘die kleur van bees’.  Waar ons bv. sal sê ‘n bees is rooi met wit vlekke op sy sy, het hulle ‘n woord vir elke kombinasie!

Tswana

Hierdie hoofstuk begin ook met gedigte oor die waarde van beeste, en daarmee saam staaltjies van die skrywer se oupa Serfontein wat glo liewer vir beeste as vir mense was.  Daar is nog ‘n gedig oor die Mendi en ook ‘n bietjie interessante feite oor die sendeling Robert Moffat (van Kuruman) en ‘n pryslied aan hom.

Ek hou ook van ‘klaaglied van ‘n donkie’ en dan wil ek ‘n gedeeltetjie aanhaal uit ‘n gedig wat ek wens alle Suid-Afrikaners ter harte wil neem:

vullis in die strate
S.D. MAGOLENG

papiere! hulle is die opklimmers van die sifdraad
plastieksakke hang hulleself op aan die heinings
drinkgoed lê in afstootlike bondels
jy kan sê: werklik die kinders het hulleself goed gehelp
maar vandag is die dag van die militêre vrouens
hulle sit in die skadu van die winkel
….
die vuilgoedblik is dolleeg
hulle stap sowaar by die blik verby terwyl hulle regop loop
oo die skille gooi hulle weg sonder om te kyk
….
die hele straat is vol gemors
daar is blikkies groovy en vis en bullybeef
daar is skille van lemoene en piesangs en appels
daar is spoeg van kousels en snuif en snot
daar is braaksels van bier en african brousels
alles vullis wat almal met skaamte steek.

DSCF5780

Roodepoort, 30 Mei 2009

Die hoofstuk eindig met ‘n pryslied ‘the eagle has landed’ deur die orale digter en dosent Mpho Mothoagae, wat hy gelewer het by ‘n gradeplegtigheid op 11 April 1987, ‘n pryslied aan my Alma Mater – Unisa!

Suid-Sotho

Die taal van die Basotho in Lesotho, wat ook in ‘n groot deel van Suid-Afrika mense se moedertaal is.  Die ou koning Moshoeshoe (1786-1870), bekend as Mosjesj in my ou geskiedenisboek, is dus taamlik promiment.  Die skrywer vertel dat hy as jong seun so ambisieus en mededingend was dat hy glo vyf seuntjies, skaars jonger as hyself, doodgemaak het omdat hulle nie na hom wou luister nie.  Sy oupa het hom toe na die kruiedokter Mohlomi, wat feitlik deur die hele  Afrika gereis het.   Mohlomi het hom geleer om sy ambisie meer positief te kanaliseer om ‘n groot leier te word.   Volgens die skrywer kan hy met reg die Mandela van die 19de eeu genoem word.

Hier is ‘n kort stukkie van ‘n gedig, wat vir die van ons wat nog hier in S.A. woon, taamlik werklik kan voel:

MoAfrika – bewoner van Afrika
A. SID MIPELI-PAULUS (1913 – 1998)

ek is tevrede met wat ek is
al het daar dubbeltjies in ons land gegroei
al het ons wat hier hoort in weeskinders verander
ja, in ons eie land word ons behandel asof ons van ander nasies is
ons land verander daagliks meer en meer in ‘n spelonk van rowers…

Die res van die hoofstuk bevat heerlike verse oor Pekenene Tooane of Kind van Tooane, wat werk op ‘n myn soek, wat uitvind van treine en ‘n meisie by Blok Vyf gesteel het.  Hier is ‘n oulike stukkie, waar hy by die myn aangekom het:

hy sê: ‘vaders, trek uit
trek skoene uit, trek broeke uit
julle klere moet na die rook gaan
toe begin Monyampane my kop met seep te was
sop-seep van die witmense wat skuim
hy het teruggekom en salf onder my arms gesmeer
en op nog ‘n plek wat ek nie kan onthou nie
ag! ek jok – ek onthou maar te goed

Ek het nou amper gedink ek het die hele boek deurgelees en nooit uitgevind waar die titel vandaan kom nie, maar toe ek nou wou kyk wie is die uitgewer, kom ek heel voorin op die aanhaling af:

maak vi’ ons lig moet hierie woorde soes moet kerse
‘Kô  lat ons sing’ – ADAM SMALL

Ek hoop nie ek het te veel aangehaal dat die uitgewer of skrywer my sal beskuldig dat mense nou nie nodige het om die boek te koop nie, inteendeel, ek hoop dat dit meer mense sal aanmoedig om die boek te koop.  Ek het hier en daar opgemerk dat daar ‘n langerige stukkie teks by ‘n foto is, terwyl dieselfde teks in die kommentaar gedupliseer is, dis ‘n bietjie steurent, dit saam met die kommentaar wat so klein gedruk is en dan my klagte oor te veel prysliedere vir politici wat nog nie werklik geskiedenis is nie – en dis al my klagtes.  Verder dink ek dis ‘n puik boek waarvoor ons almal kan sê: Dankie Antjie!

woorde-soos-met-kerse-agter

die boesman se alfabet is geskryf in sy lyf
die letters praat en roer
die letters beweeg die boesman se liggaam
hulle beveel al die ander om stil te bly
hy self is absoluut volkome stil
dan voel hy sy liggaam saggies aan die binnekant klop
‘n droom praat vals
‘n droom kan jou mislei
maar die voorgevoel is dit wat die waaarheid praat
die kloppende gewaarwording wat sê: iemand is aan die kom

‘boesman-voorgevoelens’ deur Dia!kwain

Bestel Met Woorde Soos Met Kerse van Kalahari.net


Responses

  1. Dit klink voorwaar na ‘n boek wat ‘n mens moet he…as ek kyk na al daardie tale.
    Ek het gisteraand ‘n interessante tv program gesien van die ou wat rond reis. Hy was in Namibie en o.a. Skeleton-kus besoek, maar hy was tussen ‘n groep Boesmans in Damaraland ook en was dit nou interessant. Hulle het gejag – ‘n likkewaan gevang – en die onverwerkte heuning (met als tussen-in) wat hul vind en eet. Dit maak mens lus om so te gaan leef. Ek is ook gek oor die leefwyse van die Boesmans, ek dink hulle het ‘n rykdom om met ons te deel. Net jammer hulle word nie regtig beskerm nie.Dankie vir die boek.

    • Ek wou die ou se naam van die Boesman-program bysit, maar kon nie onthou nie, ek het so pas weer een van sy programme gekyk, Ray Mears.

  2. Sjoe – hierdie is baie interessant. Ek gaan bepaald die boek koop. Dankie Kop!

  3. Dankie hiervoor. En dankie dat jy dit kom deel by Boekemakranka. Ek sien uit na meer besoeke van jou. Sulke Kwaliteit-inskrywings is broodnodig daar. Ons het ‘n lekker aanslag en ‘n goeie mengsel van lig en swaar, maar ons het min poësie inskrywings.

    Kom bring jou kant!
    Trisa

  4. Ek het die boek ‘n ruk terug as geskenk gekry, maar nog nie eens daarin geloer nie (/laat ek maar my kop in skaamte laat sak), sal beslis nou gaan lees!

  5. Ek wens ek kon nou na die naaste boekwinkel hol om die boek te kry…. Jou aanhalings was genoeg om my aptyt te wek, byna soos die gerehabiliteerde kannibaal – ek kwyl skoon! Vir my is die Venda interessant; een van my vroegste boek-herinnneringe is ´n boek oor die geheime en heilige Fundudzimeer. Die Pedi is interessant, omdat ek in hulle area grootgeword het en later bestudeer het. Die Boesman is interessant omdat dit vir my voel of hulle lewenswaarhede het wat ons nog moet leer en dat hulle ons landskap met hulle kuns versier het toe hulle die alleenbeskermers was van ons skone land. Sjaka en sy moeder, Nandi, wat so ´n impak gemaak het op die geskiedenis en instrumenteel was in die verewiging van die trots van die Zoeloe. Die Nedebele met hul kleurryke kultuur….
    Dis ´n boek wat ek onder my Belgiese skoonfamilie se neuse gaan druk!

  6. Daardie Zulu liefdes gedig was vir mt besonders. Ek gaan bietjie die boek soek.

  7. Ik heb dit boekje gekocht in Johannesburg in 2003 (denk ik)… Ik heb het vandaag terug bovengehaald om een stukje tekst te gebruiken voor de verjaardag van een vriendin. Nog altijd even mooi…..


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: