Posted by: mykopop | Sondag 17 Mei 2009

‘n Afspraak met Rod McKuen

16 Mei 2009, Nelson Mandela Teater, Johannesburg

Die teater word verdonker. Die pianis begin speel, dit klink ‘n bietjie dun en blikkerig soos deur ‘n klein ou radiotjie.  Heel anders as wat ek my voorgestel het om eendag Rod McKuen in lewende lywe te hoor, want hy is ‘n man wat afgesien van talle liedjies en digbundels, selfs musiek in die klassieke styl vir simfonieorkes gekomponeer het. En een van my gunsteling liedjies van hom is And To Each Season, wat teen die agtergrond van Johann Pachelbel se Kanon gesing word.  Minstens ‘n kamerorkes is nodig, het ek gedink.  Maar daar is net drie musikante op die verhoog, die ou agter die klavier, ‘n jongerige outjie met ‘n klassieke kitaar en nog een met een van daar groot dubbelbas instrumente wat hy pluk. Ek kom later agter dat hulle so ‘n kort medley speel toe ek die melodie van Ne Me Quitte Pas herken.

Dan kom die ou man in.  Skuifel-skuifel tot by die kroegstoeltjie en mikrofoon in die middel van die verhoog. Hy raak aan die stoeljie, skuif dit miskien, maar gaan nie sit nie, hy bly staan agter die mikrofoon.  Dan begin hy sing. In the Port Amsterdam. Vir omtrent drie liedjies bly hy staan en sing, sonder om eers ‘n woord te praat. Dit word gou duidelik dat hy nie ‘n kamer- or simfonieorkes agter hom nodig het nie.  Nog steeds daardie selfde ou “gravel”-stem, maar hy sing diep uit sy borskas.  Hy leef hom in in elke nuanse van elke liedjie.

16052009310

Na seker sy derde liedjie groet hy eers, sê dis vir hom lekker om terug in Johannesburg te wees na omtrent 35 jaar – ek weet van daardie besoek, aangesien ek ‘n jaar of twee gelede ‘n tweedehandse langspeelplaat daarvan raakgeloop en gekoop het.  Hy sê hy het nooit besef dat Amerika so ver agter Suid-Afrika is nie – ek dog eers hy verwys na die tydsverskil.  Ons het al ons derde swart president, sê hy, terwyl hy hulle nou eers hulle eerste een het! (Eintlik ons vierde, fluister iemand agter ons.)

Vir meer as ‘n uur voor die pouse betower hy ons met van sy mooiste liedjies, maar hy sing ook liedjies van ander skrywers en mens besef, hy is nie net liedjieskrywer nie maar ook entertainer, hy sing om die gehoor te vermaak, maar ook om homself te vermaak.  Op ‘n tafeltjie in die middel is daar vir hom ‘n warmfles geplaas, en na die eerste paar liedjies sê hy hy moet nou eers bietjie cocao drink. Ek het later geloer toe hy weer skink, ek kon deur die vloeistof sien – cocoa is nie deurskynend nie! Daar is benewens die kroegstoeltjie in die middel nog een aan elke kant van die verhoog.  Hy stap rond tussen hulle, sit partykeer maar staan ook vir lang tye. Hy sluit die eerste helfte van die konsert af met Seasons in the sun, sy verwerking van ‘n Jacques Brel-liedjie, en strompel die verhoog af.

Intussen het ek in die donker in ‘n notaboekie probeer neerskryf watter liedjies hy almal sing, want hierdie aand wil ek onthou, maar my geheue is nie te vertrou nie!  Gedurende pouse kyk ek so deur die reeds lang lysie.  Na pouse sal hy seker net nog so vier of vyf sing, dink ek, maar ek is tevrede, hy het al heelwat van my groot gunstelinge gesing.  Maar moenie glo nie! Die ou man is nog lus vir konsert hou en sing nog ‘n hele string liedjies.  Met 76 somers en winters agter sy blad kan mens net nie glo dat hy nog so kan perform nie! Partykeer sing hy hele liedjies met sy oë toe. Ander kere, as die liedjie dit vereis, swaai hy wild met sy arms.  Hy het ook ‘n lekker humorsin, my enigte probleem is dat my Engelse (of Amerikaanse) ore nie so goed is nie en ek nie altyd kan hoor wat hy sê nie.

Uiteindelik stap hy af.  Ek sit my selfoon (wat darem vooraf op silent was) aan en kry sy kameratjie gereed.  Ons weet hy sal terugkom want hy het mos nog nie gegroet nie.  Toe hy terugkom en hy en sy orkessie vir my mooi sigbaar lyk, neem ek die foto bo.  En word oor my vingers geraps deur een van die beamptes!  Baie keer in die lewe is dit makliker om agterna verskoning as vooraf toestemming te vra. (Ek het gedink die konsert is verby, sou my verskoning gewees het as sy my gevra het.) Jammer dat ek nie onder die omstandighede op die selfoon kon sien dat die basspeler afgebuk het nie!

Hy sluit af met die Louis Armstrong-treffer: What a wonderful world. Daarna lees hy sy gedig A Lion In The Streets Of Jo’burg voor en daarmee is die konsert verby.  Hy sê hy is berug daarvoor dat hy nie sommer ophou nie en hy sal na die tyd beskikbaar wees om te teken wat die mense ookaal geteken wil hê, al is dit ook hulle parkeerkaartjie.

Ek moet byvoeg die drieman orkes het hulle toe uitstekend van hulle taak gekwyt, en Rod het nie een enkele fout gemaak wat ek kon agterkom nie!

Ons wag omtrent ‘n kwartier in die foyer om te sien wat gebeur, na ‘n ruk kom ons agter waar die tou is en val in.  Ek het my kopie van sy digbundel  Stanyan Street & Other Sorrows (hardeband) wat ek in 1978 nuut vir R2.15 gekoop het by my, wat ek hom graag wil laat teken.  Later begin ons met die mense voor ons in die tou gesels.  Iemand verder vorentoe sien dat ek die boek het en kom wys my daarop dat onder die gedig op bl. 7 ‘n datum staan:  May 16, 1966.  Vandag se datum, minus 43 jaar!

Dis seker ‘n halfuur voor middernag toe ons by Rod uitkom. Wat sê mens vir een van jou grootste helde van meer as 30 jaar?  Ek het vir hom my naam gesê en gevra om vir my iets op die titelblad van die boek te skryf.  Ek vertel hom van my ma se ou skaaphond Kelly en dat sy liedjie Mr. Kelly een van my gunstelinge is.  Dis dit. Hy skryf vir my in die boek, steek spontaan sy hand uit en ons groet.  Skryf asseblief vir ons nog baie mooi liedjies, het ek gevra.

Terwyl die laaste paar mense geleentheid kry, neem ek die twee foto’s hieronder van hom met die selfoon, waarvan die laaste een nogal nie te vrot is nie.

16052009311

16052009312

Die liedjies wat hy gesing het, vir sover ek dit in die donkerte kon opteken:

In the port of Amsterdam
The world I used to know
I’ve been to town
The Lady from 29 Palms (ww2)
Your eyes are like windows there’s a party going on inside, your mouth .. like roller coaster, I want to take a ride – miskien Roller Coaster Blues
?
The summer’s long (Met die gehoor wat saamsing)
Soldiers who want to be hero’s (Vietnam oorlog, liedjie was verban)
Ride around little Dovey (Bunk house)
If you go away
Seasons in the sun

Solitude’s my home
I’ll catch the sun
Rock gently
Cycles
Love’s been good to me
The complete Madame Butterfly (In 1 1/2 minutes)
A boy named Charly Brown
Jean
Every time we say goodbye
The Ivy that clings to the wall
P.S. I Love you (ww2, Johnny Mercer)
Drinking doubles in a singles bar
When the world was young (Johnny Mercer)
What a wonderful world
A Lion In The Streets Of Jo’burg


Responses

  1. :)… te veel om in te neem hm …🙂

  2. Ek het jou inskrywing regtig geniet. En ek voel half spyt dat ek nie self daar kon wees om na hierdie talentvolle man te luister nie. Ek moet bieg dat ek heeltemal oningelig is as dit by die kunste kom. Ek het nie eers geweet wie Rod McKuen is nie. Maar ek gaan verseker nou oor hom oplees en meer oor sy lirieke te wete kom.

    Dankie

  3. Dag Chris,
    Bedankt voor het leuke kinderrijmpje!
    Het is de eerste keer dat er in België, in onze dierentuin in Antwerpen, een olifantje geboren wordt. Iedereen is heel blij :))
    http://www.baby-olifant.be
    Groetjes,
    Adem

  4. Hier ben ik nog eens🙂
    ‘Dans le Port d’Amsterdam’ is origineel van Jacques Brel, een Belgische zanger.
    Zie : http://strangelyperfect.tv/162/jaques-brel-amsterdam/
    en : http://www.dailymotion.com/video/x3lv5_jacques-brelle-port-damsterdam_music
    Een prachtig lied!
    Slaapwel
    Adem

  5. […] Rod McKuen Konsert […]


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: