Posted by: mykopop | Sondag 29 Maart 2009

Vyf Liedjies – Net Vyf

Skoor het gevra ek moet oor vyf liedjies skryf. Net vyf. Ek het vir haar gesê dis ‘n onregverdige versoek aan ‘n liedjievraat, maar ek sal nogtans probeer.

Begin mens dink aan al jou gunstelinge dink, besef jy al hoe meer hoe moeilik die keuse is. Goed, ek gaan die maklike maak – gooi omtrent die helfte weg – ek gaan net Afrikaanse liedjies kies, omdat ek baie meer passievol oor Afrikaanse liedjies is. Maar nou kom die volgende probleem, ek het nie net gunsteling liedjies nie, maar ook gunsteling liedjieskrywers. Omtrent elkeen wat al ooit een liedjie geskryf het wat vir my mooi is, is ‘n gunsteling van my. So nou kom ek ménse te na as ek nie hulle liedjies kies nie.

Dink maar: Anton Goosen, Chris Torr, Coenie de Villiers, Danie Niehaus, Dawid Kramer, Gert Vlok Nel, Jan de Wet, Jannie du Toit, Karin Hougaard, Koos du Plessis, Lize Beekman, Lucas Maree, Richard van der Westhuizen, Valiant Swart, om maar ‘n paar te noem. Hoe kies mens?

Ek het gedink om dit bietjie interessanter te maak, moet ek liedjies kies wat gedurende verskillende era’s geskryf is. Dus wil ek begin met iets wat lank gelede geskryf is, miskien so gedurende my kinderjare al. Toe het ek baie gehou van Gé Korsten se seemansliedjies, maar ek dink hulle was omtrent almal vertaal uit Duits, daarom wil ek hulle nie kies nie. In dieselfde tyd was daar Groep Twee, met ‘n paar groot treffers wat ek graag sou kies, maar insgelyks was hulle vertalings. Ek moet darem sê albei lede van die groep het later hulle eie liedjies ook begin skryf. Dan is daar nog die musiek van Chris Blignaut waaroor ek eintlik later eers gek geraak het, maar hy het ook maar van enige plek af ‘n wysie gegryp. Daarom kies ek een liedjie van ouds:

Die Mannetjie – Geskryf deur Jan Pohl, broer van Anna Neethling Pohl en Truida van Wyk Louw. Die liedjie verskryn in die FAK-sangbundel en ‘n paar jaar geledie het ddisselblom ‘n wonderlike opname daarvan gemaak. Ek is net mal oor daardie worode soos “Jan Donderdag van Gorrelberg van Staden, en daarby Kasparus Bart Keet.” Dis jammer dat mens nie eens weet of daar dalk meer sulke oorspronklike liedjies van Jan Pohl iewers lê nie. Jammer dat daar omtrent geen inligting oor hom op die internet beskikbaar is nie, nie eens ‘n foto nie.

Dan moet ek volgende kyk na waar die Afrikaanse liedjiebeweging regtig begin het, so in die laat 70’s, miskien vroeë 80’s. Nou is dit bv. moeilik om Jan de Wet te misken met die groot eerste treffer van Sonja Herholdt wat hy geskryf het. Maar daar is een man wat regtig uitstaan: Anton Goosen. En dit is ‘n amper onmoontike keuse. Ek wil nie begin liedjies opnoem nie, want in hierdie inskrywing sal ek verwys na ander liedjies, maar net die vyf se name sal genoem word.

Oberammergau – Soos gesing deur Sonja, is dié liedjie van Anton een wat my hoendervleis gee elke keer as ek daarna luister. Dit bevat elemente van die liefdesliedjie: “volg my, my beminde”, van die digter: “my kaia op die wind”, van die godsdiens, “tot anderkant ons groen planeet, sal ‘n Noagreënboog staan” en daarby die verwysing na die passiespele. Daar is baie ander liedjies van Anton wat mens se voete laat jeuk, of wat in jou kop bly draai as jy werk toe ry, maar nie nog een soos hiérdie een nie.

Najaarsdroom – “Ek ken die Rynlandnagte, die Alpe met sy sneeu – die Swartwoud se geheim, en die liedjie van ‘n meeu. Maar hier buite sterf die somer en sien die blare val. En iewers skyn die somerson, op die velde van Transvaal. En êrens dreun die branders, aan die strande van Natal.” Wat kan dan mooier wees? Dit was seker hier in die laat 70’s toe Koos Doep bekend geword het. Daar was ook minstens een ander liedjie van hom oor swerf, oor skepe, maar hierdie een bly vir my die mooiste. Ook, al gaan dit oor swerf in Europa, besing dit eintlik die skoonheid van ons eie land.

Sweef soos ‘n Arend – Geskryf deur Mynie Grové en ook gesing deur ‘n hele paar ander kunstenaar. Ek kan darem nie ons vroulike liedjieskrywers afskeep nie, en daarvan is Mynie seker die nommer een. Ek lees op Wikipedia dat sy die liedjie vir Bles Bridges geskryf het. Ek wonder of dit waar is, maar ek weet hy was lief om liedjies oor arende te sing. Ek besit nie ‘n opname van Mynie self nie, ek het twee – een van Danie Niehaus en een van Karin Hougaard. Maak nie eintliek saak wie dit sing nie, dit bly een van die heel mooiste liedjies in Afrikaans.

Sê Groete Vir Triëst – Darem een uit die huidige eeu ook. Ja, ek is bly om te sê dat daar “as we speak” nog Afrikaansie liedjies geskep word wat vir my wonderlik is. Nog so ‘n Europa-swerf-nommertjie, pas mooi by Najaarsdroom. Dit kom van Laurika Rauch se nuutste (so ver ek weet) CD – ‘n Lekker verlang liedjie en is geskryf deur Chris Barnard en Chris Torr. Dit het baie vinnig een van my grootste gunstelinge geword en ook gemaak dat ek so vinnig as moontlik Chris Barnard se boek Oulap se blou gekoop het.

Die ander kan ek nie kry om aanlyn te luister nie, net die twee:

Die mannetjie – Ddisselblom

Sweef soos ‘n arend – Danie Niehaus


Responses

  1. Ja! Die Mannatie. Dit is sooo lekker verwerk deur ddisselblom, en Lienka mag maar sing.

    En Triest is ‘n wonderlike reis, ek luister altyd so lekker na die liedjie, maar sukkel om die lirieke te onthou. Ek het al op my bed gaan le, om die woorde te luister, en as ek my kry, is ek meegevoer deur die stem. Laurika doen dit nou maar een maal vir my ore.

    En Sonja, you love her, or you don’t. Ek het haar live gaan sien lank terug in Dorpstraat – saamgesleep teen my sin. En my hele mislike houding teenoor haar het verander! En mind you, ek het ‘n R3.50 plaat van haar gehad, maar as mens tiener en op raak, is dit mos uncool om Afrikaans te luister. Haar bydrae tot die Afrikaanse musiek, is van onskatbare waarde.

    Lekker post!!!

  2. it was such a pleasant surprise to read about “die Mannetjie” on your blog… as a member of the Pohl family I know a bit about the history behind the song, and even that little bit of info makes it so much nicer to sing to my nieces (al is ek so te se “aan”)…

    dankie vir ‘n wonderlike artikel.


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: