Posted by: mykopop | Saterdag 14 Maart 2009

Vreeslike Vrydag!

Dis nie dat ek bygelowig is nie. Laas maand het ook ‘n Vrydag die 13de gehad en niks het gebeur nie. Maar alles wat ek julle nou gaan vertel het regtig gister gebeur!

Ek het wakker geword met ‘n seer heup, die heup het my so twee maande gelede ook so opgekeil, maar toe moes ek in die dak rondklouter wat dit vererger het. Hierdie keer sal ek my stil gedra. Dis nou maar die ouderdom. Niks met die datum of dag van die week te doen nie. Die dag by die werk het heel goed verloop.

Seker so na twee bel Marietjie, sy het beplan om die namiddag kruideniersware te gaan koop. Sy wil net hoor of ek nog ‘n spaar sleutel vir die brandkluis in die laai by my werk het. Dit was ons reëling lank terug voordat ons vuurwapen afgeneem is. Ja ek het die sleutel, hulle kan hom kom haal. Maar hoekom nie sommer met Tharina se kar winkel toe gaan nie? Dan kan ek mos sommer die sleutel bring huistoegaantyd? Nee, want sien, sy het agter Tharina se kar gestop. En boonop is haar handsak met die geld ook nog in die kar. Dus wil sy eintlik hoor of die ou Ford wat ek in die agterplaas het kan loop. Ja goed, die kluissleutel word toe by my gehaal.

Dit het net weer lekker rustig geword by die werk, toe bel Marietjie weer. Nou wil haar kar nie vat nie. Hulle het om op en af (of liewer af en op!) in die straat gestoot, hy staan nou voor die hek, hulle kan hom nie verder op kry nie. Nee goed, ek sal kyk as ek by die huis kom. Eintlik het ek ‘n groot werk beplan vir as ek by die werk kom. O ja, en ek moet nog by Stax aangaan. Ek het laas naweek weer probeer om ‘n 19″ LCD TV te koop, hierdie keer ‘n byD:sign by Stax. Die eerste een het net vir omtrent 6 sekondes gewerk, die tweede en die derde een het “stuck pixels” gehad en dis nou daardie derde een wat ek moes terugvat om my geld terug te kry. Wat toe ook redelik goed verloop, behalwe dat Stax in al hulle kasregisters saam nie vir my R2290 het nie en ‘n krediettransaksie op my kredietkaart moes doen. Teen die tyd weet ek mos al dit kan nie op ‘n debietkaart gedoen word nie.

Terug by die huis vind ek uit die kar se battery is amper heel pap. Hy het dit omtrent twee keer al gedoen, dan dink mens nou’s die battery klaar, maar dan gaan hy maar weer aan. Ek sal maar gou die batterylaaier opsit. Maar dis dalk ‘n goeie idee om eers die water aan te vul, wat ek ook gou doen, maar ek gooi die laaste sel net effens te vol. Nou soek ek ‘n kort pypie. Mens druk dit in die suur dan druk jy bo toe en plaas ‘n klein bietjie suur op ‘n slag oor na ‘n ander sel. Veilig. Nou het daar net eergisteraand die ideale pypie agter ‘n kas uitgekom, maar hy’s gebere, ek kry hom nie. Ek sien toe ‘n deurskynende Bic-pen. Sy buitekant sal werk. Maar ek kry nie daardie klein doppie by sy boonste punt uit nie. Miskien sal dit werk as ek sommer die klein luggaatjie langs die kant toedruk. Nee – daardie gaatjie is te klein, die suur wil nie die lug uit die pen forseer nie. Maar weer probeer om daardie doppie uit te kry nie. Sommer met die tande. Oeps, daar tjip ek my voortand waar dr. Kuyper hom alreeds gelap het!

Ek het toe later die pypie gekry en die suur oorgeplaas. Daarna was my lang verlengkoord vir omtrent 15 minutes soek voordat ek uiteindelik die batterylaaier kon koppel. Alles wel. Net gou my tand so bietjie veil een van ‘n stelletjie “needle files”. Voor die spieël – nes Mr. Bean.

Nou is ek slaggereed – voor ons huis is ‘n mooi boom, een van daai wat duisende vlieërtjies laat neerreën. Noudat ons nuwe kombuis in gebruik is kom mens agter dat die boom nou te veel takke het wat oorhang, mens kan nie sien wat in die straat aangaan nie. Die boom het eintlik drie stamme. (Gehad.) Ek spring toe in met die kettingsagie. Die lem was te stomp en ook bietjie lossering. Eers bietjie slyp en stywer stel. Goed nou saag ek die een stam gou af.

Aan die ander kant het ons ‘n stukkie heining met ‘n ekstra hek wat ons hond Sebastian weghou van die elektriese hek af, want hy is ‘n meneer wat pad vat as hy die kans kry. Ek verwyder eers so veel as moontlik takke van die stam. Ek hoop toe maar as ek hom afsaag en hy val sal hy dalk wegskram van die heining af. Maar nee, hy val ‘n stuk van die heining heel uit. Nou moes ek kleiner takke afsaag en wegsleep. Dan sal ek sukkel om die stomp daar uit te kry en die heining met ‘n draad vasmaak. Ek is nog so besig, toe kom ‘n meisietjie voor die hek aan gehardloop. Kan om ons asseblief kom help? Ons kar het gevrek en wil nie vat nie. Nou eers die hond heel agter in die erf gaan opsluit. Ons is almal slaggereed daar uit om te gaan stoot. Maar die meisietjie se ma sê dis die immobiliseerder. Dan gaan stoot niks help nie, sê ek. Sy klim om een of ander rede weer agter die stuurwiel in – wag daar werk die immobiliseerder nou! Probeer, en hy vat! Ons goeie daad sonder moeite gedaan! Sien, toe eindig die Vrydag die 13de eintlik baie mooi!


Responses

  1. Haai, die gewraakte Bic-pen lyk omtrent nes die een hier bo-aan my blog!

  2. Gelukkig is die vreeslike Vrydag nou iets van die verlede! 😆 Ek haat sulke dae as alles so skeef loop!

  3. :lol::lol::lol::lol::lol::lol::lol:

  4. oeps:lol::lol:

  5. nee heiden
    😆

  6. Klink of dit behoorlik ‘n deurmekaar dag was! Toemaar, die volgende Vrydag die 13e is eers weer in Nov😉

  7. Sjoe! Mens kry maar sulke dae…ek dink dit was per toeval die 13de. Persoonlik dink ek so baie meer bygelowig gewees het oor Maandag, die 13de. Want Maandae…eish nie lekker.

  8. Wonder of dit oral so deurmekaar was – ek moes weer jaag met jumper kabels om my dogter-hulle se motor te gaan ‘start’ en moes toe instruksies oor die selfoon kry oor wat koppel ek waar😆

  9. Ja ek sien daai 13 het jou ‘n bloukleurtjie gegee…volgende keer gooi jy maar geel bly dan hopelik raak dit bruin of pers…sterkte..

  10. Arme jy! Gelukkig het ek nog nie so ‘n deurmekaar dag beleef nie, behoed my dit!🙂

  11. Die tipe dag wat ‘n mens eintlik vroegoggend net die kombers oor jou kop moes getrek en glad nie opgestaan het nie! Darem verby..


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: