Posted by: mykopop | Donderdag 19 Februarie 2009

Bloed!

Ek het so ‘n rukkie terug ‘n operasie aan my linkerpinkie gehad, dit was gister vyf weke gelede. Die operasie word ‘n artrodese (Eng. arthrodesis) genoem, wat beteken ‘n sjirurgiese fusie van die twee bene by ‘n gewrig.

Dus is daar tans twee staalpennetjies in my vinger wat hopelik volgende week uitkom. Die een pennetjie steek aan die kant uit, seker so 3 tot 4 mm, die ander een steek voor uit , seker so 5 tot 6 mm. Om daardie voorste pennetjie te beskerm teen stampe en stote, is ‘n stukkie deursigtige pyp van 1 cm deursnee en 1 cm lank in die dwarste daaroor geplaas.

Die hele voorste deel van die vinger plus die pypie vooraan word toegedraai in spesiale pleisters wat ek by die apteek moet kry, dit vorm so ‘n effense knoets oor die pypie voor. Ek vervang die pleister so elke 3 dae.

Maandagoggend kry ek so ‘n gevoel by die werk, ek voel nattigheid in die pleister. Kan dit bloed wees? Dalk maar net ‘n gejeuk. Snaaks, tot dusver lyk die operasiesnit bo op die kneukel so mooi, en waar die pennetjies uitkom ook baie netjies.

Die aand sit ons en eet terwyl ons 7de Laan kyk, klaar geëet, raak die voorste knoets van die pleister aan my regterarm. Dit voel natterig. Ek kyk – bloed! Ek was juis voor ete besig om glasbakke en goed aan te dra na die nuwe kombuis toe en het die pinkie nog weer ‘n onbedoelde stamp gegee.

Om nou nie 7de Laan te mis nie, wag ons tot daar advertensies is, verskuif slaapkamer toe, sit die TV aan en kry die skêr. In spanning word die pleister van agter af oopgeknip. In my geestesoog sien ek al hoe het daardie dwars pennietjie aan die ander kant van die vinger uitgesteek. Begin van agter af oopknip. Snaaks, geen bloed sover binne-in die pleister nie. Knip verder. Geen bloed nie. Toe gaan ‘n lig skielik vir ons op! Ruik daaraan! Tamatiesous!


Responses

  1. EK het gewonder waar gaan dit eindig. Jy sukkel seker om te tik.

  2. 😆

  3. Dit klink na ‘n storie met die penne wat so uitsteek!

    Gelukkig was dit net tamatiesous 😉

  4. Toe ek lees “bloed”…toe spring hierdie in my kop! 🙂
    … I D Du Plessis…

    Bloed in die water
    En bloed in die laan,
    Wie is dit wat daar so
    Roerloos bly staan?
    Vormlose skaduwees
    Kruip oor die maan;
    Bloed in die water
    En bloed in die laan.

    Sterkte met jou vinger en jou kombuis-foto’s is pragtig!! Mooi so!

  5. die kombuis is , wel dis Perfek! Geluk!

    geluk ook met jou kinder novelle Danica vannie Donau!! Mooi mooi mooi beautiful! Love dit!!!!!!!!!!!

    ek het ;n huis paleis pandok varkhok ek toer deurie land
    en as jy dalk m ahrt gesoek het hys veilig in j hant waar ek hom bewaar
    vir jou en onthou eks onner bo enlangs en op jou

    so iets deur missy van lekker verlang liekies en ja ek sal ook moer trots wees as Lauri my songs sou sing net wil nie eers waag nie vrees verwerping te veel

    wens nou ek het nie al die cd’s en songs verloor nie

    dis net poef weg

    oh well te laat vir trane

    baai
    love
    anne

  6. Hmm, ek het allerhande memories van tamatiesous. As kind het ek so baie daarvan geëet dat ek dit nou maar min gebruik. Maar ek is nog nooit gewond daarmee nie!


Lewer kommentaar

Kategorieë