Posted by: mykopop | Donderdag 8 Januarie 2009

Vakansiekiekies

Ek het besluit om hierdie jaar sommer met een inskrywing ‘n hele klomp foto’s van my vakansie met een slag te wys, om ook sommer vir myself as fotoalbum te dien. Wees gereed, dit kan lank laai!

DSCF4850

Die eerste foto is nie ‘n mooie nie. Ons ry hier van Gauteng af oor Ventersdorp, Coligny, Biesiesvlei, Sannieshof, Delareyville, Vryburg, Kuruman, Kathu en Olifantshoek. Dis net anderkand Olifantshoek wat ons die arme Skillie gekry het – hy het nie eens kans gekry om behoorlik te parkeer nie. Sy kopbeen is behoorlik kaalgevreet, seker die kraaie of die meerkaaie.

DSCF4873

Ons eerste kuierplek is op Gariep (amptelik Gariepwater), so 70 km teen die Oranjerivier op van Upington af. Toevallig was daar ‘n ander nuwe aankomeling op dieselfde dag as ons. Sy is “Sussie” gedoop en het vir heelwat vermaak gesorg in die paar dae wat daarop gevolg het.

DSCF4867

Ontmoet Griet, die melkbok…

DSCF4939

En ou Kelly, die skaaphond wat in Januarie al 13 word. Hy het reeds die naam gehad toe my ma hom gekry het. Een van my gunsteling liedjies van Rod McKuen bevat die woorde “lulling on the green grass, walking by the sea, always together, Kelly and me.”

DSCF4907

Wie ookal my inskrywings van Desember 2007 onthou, sal onthou van die rit op binnebande op die rivier wat ek toe nie meegemaak het nie. Hierdie jaar het ek dit nie weer misgeloop nie! Die wegspringplek is die brug by grootdrink.

DSCF4916

Dit was die laaste sien van my Nokia-hoed.

DSCF4914

En daar gaat ons! Die kajak met nog 2 aan boord is ongelukkig nie in die foto nie. Terwyl ons die 4 km afgedryf het, het ek partykeer lekker agteroor gelê en na die wolke gestaar. ‘n Onvergeetlike ondervinding, die wydheid rondom my, wat ek nie in woorde kan beskryf nie. Dit is dan ook wat van my laphoed geword het! Die eerste keer het ek onthou om dit af te haal en vas te hou – later toe nie!

DSCF4918

Ons het vir een van die bure se luislang gaan kuier – hy was lui!

DSCF4933

Ons het 9 nagte hier gebly. Snags het ons in ‘n tentjie op die grasperk geslaap om die hitte in die huis vry te spring. Een nag het die wind ons omtrent met tent en al weggewaai, die hele nag lank, maar selfs dit sou ek nie wou misloop nie! Al die ander nagte het ons heerlik geslaap en jy word vroeg wakker, maar verkwik van die vars lug. Hier is ‘n foto van die stoep af oor die landerye, met die berge aan die ander kant van die rivier.

DSCF4942

Op 26 Desember het ons die pad gevat Kaap toe. Upington, Keimoes, Kenhard, Brandvlei. Ek dink die afstand tussen Brandvlei en Calvinia is iets soos 148 km. Hierdie twee koppies is naby waar die pad van Brandvlei aansluit by die pad van Williston.

DSCF4948

Calvinia, Nieuwoudville (blommekykplek) en kort daarna gaan mens van die plato af by die Vanrhynspas. Amper aan die bokant van die pas is ‘n stilhouplek waar mens altyd eers stop om koffie te drink en te kyk… na die bobbejane daar bo…

DSCF4951

en die knersvlakter daaronder. Die hoogte bo seespieël bo die pas is 820 m en onder die pas sowat 240 m.

DSCF4974

Nadat mens die pas af is, ry jy deur Vanrhynsdorp en dan vat jy die N7 Kaap toe. Klawer lê langs die pad en mens ry nie daardeur nie. Hierdie een is naby Clanwilliam geneem. Clanwilliam en Citrusdal is albei ook langs die pad. Dan gaan mens die Piekenierskloofpas oor en sien die Swartland voor jou lê. Ongelukkig het ek geen foto’s daarvan nie. Die twee dorpies Piketberg en Moreesburg lê albei ‘n entjie van die hoofpad af.

DSCF4985

By Malmesbury het ons van die N7 afgeklim en die pad oor Stellenbos na Die Strand gevat. Hier is die eerste gesig van Tafelberg. Laat my dink aan die liedjie Brêkfis In Bloemfontein waarin Laurika sing “Jy mis die beautiful view” as hulle by die Kaap kom.

DSCF4987

By Klipheuwel het ons die 3 windkragopwekkers gesien. Ons sal moet opskud! In Junie het ek honderde gesien tussen Bratislava en Wene.

DSCF5001

En daar lê die see, by Die Strand!

DSCF5007

Ons eerste aankoms by Onrusstrand, naby ons woonplek op die grens van Onrus en Vermont. Die Onrusrivier mond hier uit in die see.

DSCF5021

Iemand was besig met ‘n vlieër en ek moes dit probeer vasvang.

DSCF5023

En dan begin die son stadig ondergaan…

DSCF5024

Nie ons verblyfplek nie, maar leeglê was ook hoog op ons agenda!

DSCF5029

‘n Fisant tussen die bosse, bokand die rotse en die getypoel.

DSCF5096

Op 30 Desember het ons besluit om ‘n draai te ry na die skiereiland, maar ek wou so naby moontlik aan die kus van Valsbaai bly. En eers wou ek ‘n draai by Gordonsbaai maak. Ek het gedink dis daar waar Ingrid Jonker selfmoord gepleeg het. Hier bo is Bikini Beach. Ek het gewonder of dit daar was, of by die groter strand van Gordonsbaai. Nou lees ek dit was by Drieankerbaai.

DSCF5112

Ek is mal oor die versierings op die muur van die Poskantoor by Gordonsbaai.

DSCF5118

Behalwe vir leeglê, was die soektog na tweedehandse Afrikaanse digbundels natuurlik ook hoog op my agenda. Bikini Beach International Books het my ook nie teleurgestel nie. Ek het hier ‘n paar boeke gekry vir omtrent so R7 elk.

DSCF5128

Mense geniet die strand by Die Strand.

DSCF5138

Na Die Strand word mens gedwing om vir ‘n klompie kilometers op die N2 te klim. As jy weer teruggaan kus toe, ry jy deur ‘n natuurreservaat waarvan ek die naam nou nie kan opspoor nie. Dit lyk asof daar heelwat seevoëls daar broei.

DSCF5151

Ek moes natuurlik van die meeue in vlug probeer afneem Hierdie een het my probeer bombardeer, maar gelukkig was dit mis!

DSCF5163

Hierdie voël het ek naby Strandfontein afgeneem. As jy sy naam ken, laat my weet asseblief!

DSCF5170

Muizenberg. Van hier af was die verkeer baie stadig.

DSCF5178

Die stadige verkeer het my genoeg kans gegee om hierdie kerkie by St. James af te neem. Hier rond (of by Kalkbaai) het ek ook die Save Our Seas Shark Centre opgemerk. Gaan besoek gerus hulle webwerf: http://www.saveourseas.com.

DSCF5189

Kalkbaai.

DSCF5193

Kalkbaai boeke het my ongelukkig teleurgestel, maar hulle het darem ‘n oulike ou geboutjie.

DSCF5196

By Vishoek moes ons omdraai, ek sou graag ‘n slag tot by Kaappunt wou ry, maar dit was te laat.

DSCF5199

Ons is toe oor die skiereiland tot by Kommetjie en het net gou ‘n foto geneem van die vuurtoring by Slangkop.

DSCF5226

Op Nuwejaarsdag het ons nog ‘n draaitjie gery. Hierdie foto is by Fisherman’s Haven geneem en wys die uitmonding van die Botrivier.

DSCF5229

Die see by Kleinmond.

DSCF5231

En nog ‘n boekwinkel! Oupa se Boeke in Kleinmond. Gelukkig was hulle oop op die vakansiedag. Ek het ‘n paar digbundels hier gekry vir R15 tot R18, en ook ‘n paar ander boeke waarna ek gesoek het.

DSCF5240

Ons het Hermanus natuurlik redelik goed verken.

DSCF5050

Hierdie karakter het ons nog ‘n Merry Xmas toegewens.

DSCF5051

Hemingway Books, van binne gesien. Hulle spesialiseer in tweedehandse boeke, met The Book Cottage langs hulle wat nuwe boeke verkoop. Aangesien dit ‘n toerismedorp is, is hulle bietjie duur, die twee bundels wat ek hier gekoop het was R40 elk, ander was nog duurder.

DSCF5305

By die Walvishuis het ek die kopbeen afgeneem. Die gebruiklike vuurhoutjieboksie is nie in die foto nie, maar die Venterwaentjie in die agtergrond gee jou ‘n goeie idee van die grootte!

DSCF5245

Hierdie toringkie en die twee kanonne staan by die ingang na die ou hawe.

DSCF5253

Die ou hawe van Hermanus.

DSCF5304

Daar was ook meeue, wat ek weer eens in vlug moes probeer fotografeer!

DSCF5306

Ons het ook die uitsigroete op die berg gery. Toe sien ek eers die oulike koppie in die dorp. Daar was toe nie meer tyd om dit te gaan uitklim nie.

DSCF5307

Nog ‘n foto van die dorp, van bo af.

DSCF5348

Grotto Beach. Ek hou daarvan om mense met hulle honde af te neem.

DSCF5345

Iemand het ‘n paar keer met ‘n Gyrocopter verbygevlieg, wat ek natuurlik ook in vlug moes probeer vasvang.

DSCF5330

‘n Groot jellievis. Ek het op ‘n interesante artikel afgekom wat sê daar is te veel jellievisse, wat daarop dui dat iets met die see verkeerd is.

DSCF5333

Hiert, jou lelike ding!

DSCF5353

Twee mense het op perde daar aangekom en ‘n mooi prentjie teen die berge in die agtergrond gemaak.

DSCF5357

Op pad terug strandhuis toe het ons gesien daar lê ‘n rooi skip in Walkerbaai.

DSCF5371

Om amper mee af te sluit, nog een van die onvergeetlike sonsondergange by Onrus, op die heel laaste aand.

DSCF5377

Van Onrus tot op Gariep is 997 km. Ons sou nog twee nagte daar oorslaap voor ons die laaste 750 km huistoe aanpak. Op die grondpad tussen Kenhardt and Kleinbegin, een van ‘n paar swerms sprinkane wat ons teëgekom het. En net soos hierdie voetgangers alles verteer wat in hulle pad kom, het die tyd my ure en dae opgevreet, ek moes vandag begin werk! Sien – slim mense sit verlof in tot op ‘n Woensdag!


Responses

  1. Dankie Chris, ek het jou inskrywing vreeslik geniet! Die foto’s is PRAGTIG!! Dankie dat jy dit met ons gedeel het!!

  2. mooi foto’s en vertelling Chris!

    * baie interessant van al die boekwinkelkies – iets wat ek nog nooit opgelet het nie _ ek sien net altyd die mooi ou kerkies raak

    *

  3. Hallo!

    Lyk of julle al te heerlik vakansie gehou het. Pragtige foto’s. Ek het nog nie die meeu-ding so lekker reggekry nie.

  4. Baie mooi foto’s, nog mooier omdat dit hier uit my kontrei kom! So bly jy kon lekker boeke raakloop.

    (Oupa is net hier straatop van my, jy is by my huis verby op pad strand toe)

  5. DAAR, net daar by Laurika se Tafelberg en die windkragopwekkers, het jy teenaan my huis verbygery! Sies vir jou!🙂

  6. Sjoe Chris dit was nou ‘n lekker inskrywing ek het dit gate uit geniet! Die foto’s is baie mooi!

  7. Dankie vir die inskrywing en die foto’s! Ek het dit baie geniet.

  8. Baie lekker foto’s. Ek erken ‘n paar plekke van my onlangse besoek na Suid-Afrika.

  9. Haai jinne, Chris, nou verlang ek darem vreeslik terug na my ‘valley’. Ek het grootgeword in die Kaap, en al die fotos is van plekke wat ek goed ken. Baie gelukkige ure in die boekwinkel in Gordonsbaai deurgebring, en ek het nou nog van die boeke hier in Nieu Seeland! Dankie vir die lekker toer!

  10. Dankie vir hierdie pragtige foto-vertelling! Dit lyk na my tipe vakansie en ek verlang sommer vanaand hier uit die ysige koue! Sien nie enige foto’s van wynkelders nie? Hoop nie jy was in die Kaap sonder om ‘n wynkelder te besoek nie!

  11. Onrustrivier is my tuiste en woonplek. Naby Klawer gewoon en Clanwilliam skool gegaan. Dankie was baie lekker om weer fotos te sien van al die plekke.

  12. Dankie ek het nou lekker gekyk. Ek het beide die boekwinkels wat jy hier gewys het. Hulle is lekker plekke om te snuffel.

  13. Ai jinne ek bedoel ek “ken” beide die boekwinkels.

  14. dis darem tog maar lekker as mens deur die woestyn en oor die berge is en die kaap kom nader en die sagte groenigheid en die see

  15. dit is baie interessant van al die boekwinkels ek wil eendag vir almal my boekie stuur en sien of dit verkoop daar eendag… ek meen daars baie jare tyd.

  16. Pragtige foto’s Chris. Ek hou nie van swem nie, maar daai ‘tube’ avontuur in die rivier lyk vrek lekker. Bly julle het die vakansie geniet. Voorspoed vir 2009.

  17. Nou vra ek myself af: Hoekom sal iemand nie van swem hou nie????? Die enigste mense wat ek ken wat nie van swem hou nie, kan nie swem nie.😉

  18. Wow, pragtig! Eks mal oor die (oor’le) skilpadfoto en die Strandfontein voëlfoto! Knap!

  19. Sjoe maar dis mooi! Jy kan maar ‘n fotograaf(in) word. Die boekwinkel in Gordonsbaai het ook my hart gesteel.


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: