Posted by: mykopop | Dinsdag 16 Desember 2008

Vir Kersfees 2008

Carols

Die foto’s is geneem by ‘n Carols By Candle Light aand by die botaniese tuin op 7 Desember, behalwe die een van die maan en die planete wat op 1 Desember by die huis geneem is.

 

Ek onthou toe ek aan die einde van laas Desember teruggekom het, het ek inskrywings gemaak oor ons vlugtige besoeke aan Pofadder, Onseepkans en Augrabies. Op Nuwejaardag was ons in die Pilanesberg-natuurreservaat en ek het daaroor geskryf. Maar in my agterkop het ek gewonder wat ek verder met die blog gaan doen. Ek dink die eerste helfte van die jaar het dit nog redelik gegaan, maar vir die res dink ek dit het maar bedroef gelyk vir iemand wat hier iets te lese kom soek het. Ek dink ek het selfs ‘n paar beloftes gemaak wat ek nie kon nakom nie, bv. om foto’s te wys van my reis in Europa. Ek het daarvan opgelaai by die plek waar ek skaak speel, as julle regtig wil gaan kyk, dis by http://www.chess.com/members/view_content/Kop. My idee was dat ek dit eers daar wou plaas en daarna net die Engelse byskryfte vertaal en dit oorneem op die blog. Die foto’s van Brescia in Italië is nog nie eens daar nie!

Dit is darem nie vir geen rede dat ek so min tyd gekry het om te blog nie – ons het digitaal-terestriële TV-uitsendings begin in Suid-Afrika op 1 November. In hierdie stadium is dit maar nog toetsuitsendings met net ‘n paar duisend mense wat dekodeerders het. Nietemin, dit was en is ‘n voorreg om deel daarvan te wees.

Die van julle wat al van laasjaar af my blog lees, sal onthou ek het begin om ons kombuis te herbou. Gelukkig het ek eers ‘n ander kombuis in die huis ingerig, anders sou my vrou lank nie meer so geduldig gewees het nie! Die eerste paar maande van die jaar het dit nog goed gegaan, ek het deure ingebou en mure gebou, maar daarna het my werksituasie net so verander dat ons teen September kontrakteurs begin soek het. Tot my spyt eintlik, want die idee was “om ander mense te kry omdat ek nie tyd kry nie, om dit vinnig klaar te kry!” Ons het gehoop dat alles teen einde Oktober klaar kon wees. Toe het ons ons hoop verskuif na einde November, toe weer na 12 Desember. Op Vrydag het die loodgieter/elektrisiën toe wel sy werk kom klaarmaak. Die kaste-man was gisteroggend nog weer hier om ‘n laaste paar dingetjies te doen, behalwe die glas vir die vertoonkassies waar daar ‘n misverstand oor die mates was. En na hy klaar is het ek ingespring en aan die plafon gewerk, die hele dag. En geswets oor die plafon nie reggemaak is voor daar enige kaste of teëls ingesit is nie. Mens kan nie glo hoe swak die standaard van vakmanskap is nie. Ek dink ons sal maar gaste liewers in die aand nooi en kerse brand in die kombuis!

Ek het ook ‘n paar ongewone dinge aangevang die jaar. Ek het ‘n klankstelseltjie gekoop met ‘n goeie mikrofoon om opnames met die rekenaar te kan maak. Nog iets wat ek nooit by uitgekom het nie – om julle ‘n “sound check” te gee. Ek het dit gebruik om aan die Huisgenoot se liedjie-kompetisie deel te neem, waarvan ek, soos te wagte, nooit weer gehoor het nie – nog te meer rede om nie vir julle ‘n “sound check” te gee nie! Ek en Marietjie het vir die eerste keer ‘n paar oorspronklike kunswerke aangekoop, ‘n lekker nuwe avontuur. En dan oplaas, ek het ‘n storie (kinderverhaal of fabel) geskryf van so 17000 woorde. Tot dusver het dit my nog net R700 gekos om die gesin uit te neem vir ete om dit te vier, ek het nog nie kans gekry om dit vir uitgewers te stuur nie.

Die jaar het ons ook onverwags van ‘n hele paar mense moes afskeid neem. Ek was by vier begrafnisse waarvan twee dubbel-begrafnisse was. Dan was daar nog een begrafnis wat ek nie kon bywoon nie. Ek dink aan die wat hierdie jaar moet afsluit met ‘n feesgety waar daar een of meer gesinslede onverwags nie meer daar is nie.

En nou is die vakansie hier! Of amper. Ek het Vrydag as my laaste dag gewerk, oorspronklik wou ons gister al gery het, maar dinge was nog te deurmekaar hier. Vandag moet ons ‘n laaste paar dinge by die huis regkry en die pakkaas in die kar en sleepwa kry. Ek het tot dusver een Nuwejaarsvoorneme: Na 1 Desember moet daar geen werk meer wees wat ek aan die huis wil doen vir die jaar nie.

Ek het nie vandag ‘n versie of iets nie, vir die van julle wat soos ons op die paaie gaan, wens ek maar weer soos laasjaar: Geen Slaggate / No Potholes. En as jy nie my onlangse versie Sintuiglike Dank gesien het nie, lees dit nou, wees dankbaar en geniet alles! Baie dankie vir julle kuiers deur die jaar, geseënde Kersfees en voorspoedige Nuwejaar.


Responses

  1. Ek is nog steeds een van jou getroue lesers, maar deesdae sit ek met ‘n vreeslike swak internet konneksie. Ons bly nou op ‘n lieflike plaas omtrent 30 km van waar ons eers gewoon het en jy kan nie glo dat die seine so swak in so kort afstand kan wees nie. Hier is net 2G en nou wag ons vir ‘n internet konneksie by Telkom – gee my krag, as ek so lees wat die ervaring met Telkom is!

    So, ek lewer nie meer so gereeld kommentaar nie en het nou die aand ses ure en verskeie woorde😆 gevat net om ‘n video te upload😈

    Julle moet ‘n geseende feestyd he en bestuur veilig. Geniet die vakansie. Hierdie jaar gaan ek en die Liefie Riemvasmaak toe vir oujaar! Ek sien uit, maar weet net dit gaan VREK warm wees.

  2. Ek’s baie nuuskierig – hoe gaan dit met die TeeeVeee?🙂

  3. Geseënde Kersfees vir julle ook! Veilig ry.

  4. Geseënde Kersfees en voorspoed vir die nuwejaar vir jou en jou geliefdes!! Veilig ry!

  5. My kop, ‘n wonderlike Geseënde Kersfees vir jou en jou geliefdes. Ek wens julle, vreugde, blydskap en vrede toe! ♥♥♥

  6. ‘n BAIE Geseende Kersfees vir jou en jou familie! Ek hoop dat wat julle doen, vreugde sal verskaf en ‘n Voorspoedige 2009 vir julle almal!

  7. Nog steeds ek!🙂 Voorspoedige Nuwe Jaar!

  8. Wat ‘n wonderlike trippie!

    Ten minste het jy sekerlik hordes foto’s om na te loer as die jaar soos koue gouestroop begin trek…

  9. Comment ek nou by die verkeerde post! Maar jy weet waarna ek verwys.
    😉


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: