Posted by: mykopop | Maandag 1 Desember 2008

Die Koningin van Skeba – S.J. du Toit

Toe ek so ‘n paar maande terug twee dae verlof geneem het, net om by die huis rond te lê, en vertel het hoe ek ‘n heerlike hopie boeke by al my optelpunte gaan versamel het, was hierdie boek een van hulle. Soos ek ook daar gesê het – dit het van 1896 tot 1898 in Ons Klyntji verskyn en in 1898 as boek. Dit word beskryf as die verdienstelikste stuk Afrikaanse prosa te danke aan die Eerste Afrikaanse Taalbeweging. Dit is in 1963 deur P.J Nienaber verkort en hersien. Hierdie is ‘n 1983 sagteband-uitgawe. Een ding wat ek nie kon uitvind nie, is wie vir die voor- en agterbladillustrasies verantwoordelik was.

Ek moet erken om sulke ou boeke te lees is nogal ‘n bietjie werk. Tog kan ek sê ek is aangenaam verras, ek het nogal heelwat genot geput uit die lees van die boek. Wat vir my lekker is van sulke ou boeke, is om uit te vind hoe mense meer as 100 jaar gelede gedink het. Die skrywer noem bv. iewers dat in die ou dae (sê maar Salomo se tyd) die lewe nie so gejaagd was as nou (sy tyd) nie! Dis ook vir my verstommend hoe min die Afrikaans van hedendaagse Afrikaans verskil, en dit klink nie asof Nienaber veel veranderinge gemaak het nie, afgesien van spelling natuurlik.

Die boek lewer een of twee interessante karakters op, bv. ‘n hoofman daar in Zimbabwe se naam was Umgabe. Hoekom klink die oom se naam half bekend? Hy praat ook van “die vriendelike Mnr. Euvrard” – ek wonder of dit ‘n voorsaat was van Tannie Esme se man?

Du Toit vervleg twee stories met mekaar, die een van hulle wedervaringe met die opgrawe van ‘n koppie by die Zimbabwe-ruines waar hulle glo die graftombes en mummies van die koningin van Skeba en ander hooggeplaasdes ontbloot het, en die tweede, die verhaal van die koninging van Skeba soos hy dit uit die perkamentrolle (in Hebreeus geskryf) vertaal het vir sy makkers.

Ek het geen kennis geskiedenis nie, dus weet ek nie hoeveel van sy vertelling uit die perkamentrolle feit en hoeveel fiksie is nie, ek dink die meeste is dalk fiksie, waarvan hy miskien baie by ander skrywers oorgeneem het. Dit klink ook vir my asof hy die grense van die Koninkryk van Skeba heelwat verskuif het.

Die skrywer weet te vertel dat die naam van die koningin Balkis was, ek kry heelwat verwysings na die naam Balqis op die internet. Volgens sy vertelling kom dit later aan die lig dat Balkis as baba omgeruil is met Hanes, ten tyde van die besoek van die koninging van Skeba aan Salomo, een van sy vroue. Ek kry geen verdere verwysings na Hanes nie. Verder oor die omruilery moet jy maar self lees as jy die boek in die hande kan kry!

Du Toit en sy geselskap kry ‘n veradderlike en aggresiewe troep Boesmans om hulle te help met die uitgrawings – weer was dit vir my lekker om meer van hulle leefwyse te wete te kom, wat hieruit blyk nie so onskuldig en idillies te wees as bv. in The Gods Must Be Crazy uitgebeeld word nie. Ek dink ek moet in ‘n aparte inskrywing ‘n stukkie uit die boek aanhaal.

Een aspek van die boek wat dalk bietjie irriterend kan wees is die feit dat die skrywer die onbelesenheid van sy lesers besef het en voordurend aan die opvoed is. Solank mens dit met daardie verstandhouding lees is dit nie te steurend nie. Om ‘n idee te kry van die opvoedingspeil van die lesers van Ons Klyntji wat onderskeid tussen feit en fiksie aanbetref: in die voorwoord word vertel dat dit ‘n storm ontketen het toe lesers ontdek het dat alles nie feitelik waar is nie, en een leser het verontwaardig uitgeroep: “Dat ‘n predikant so kan lieg!”


Responses

  1. shoe dit klink ‘n wonderlike verhaal, is dit ‘n love story?
    xxxxxxxxxxxxxx

  2. Pragtige verhaal, veral as mens in die Skrif lees dat daar 5 geskenke deur Josef se gesin aan Benjamin gegee was. Wie was die gewer van die 5de?


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: