My oë knip dankie
vir ‘n blou koepeldak oor my kop,
kindergesiggies by ‘n Kersboom
en veelkleurige orgideë en lelies
My ore suis dankie
vir arias, songs en simfonieë,
kinderstemmetjies wat saam sing: Stille Nag
en die getjirp van mossies in die môre
My tong klap dankie
vir goue heuning in ‘n gaatjieswaskoek,
donkerrooi wyn wat uit ‘n groot glas om my tong lê
en helaas, swart koffie met suiker
My neusvleuels kriewel dankie
vir jasmynblom, swaar in die lug,
iemand se parfuum wat draal in ‘n vertrek
en my buurman se braaivleis
My vingerpunte streel dankie
vir die donsies van dagoud kuikentjies
die donker hout van ‘n ou meubelstuk
en die penveerknobbels van volstruisleer
© 2008 Chris van der Westhuizen
Dis ‘n baie mooi gedig! Jy self geskryf?
By: Thea on Woensdag 26 November 2008
at 12:34
Ditto! Baie mooi!
By: boerinballingskap on Woensdag 26 November 2008
at 15:11
Dankie julle. Myne ja, Thea. Die vonkie was die mooi blomme voor die kansel, een Sondag ‘n paar weke gelede – moet my nou net nie vra wat die Dominee gepreek het nie!
By: mykopop on Woensdag 26 November 2008
at 22:33
Dis baie mooi! Ek weet van watter Sondag jy praat.
By: Marietjie on Sondag 30 November 2008
at 17:48
mooi so! en ek neem aan die kindertjies was van die Sondagskool wat die geboorte van Jesus opgevoer het! en toe sit jy – terwyl hulle besig is – en skryf die gedig.. 🙂
By: Nikita on Sondag 30 November 2008
at 20:56
Mykop, ek het hierdie gedig van jou al ‘n paar keer kom lees, maar het vanoggend besluit om nie te gaan voor ek kommentaar gelewer het nie (my woorde het iewers langs die pad opgedroog).
Jou gedig is regtig baie mooi. Ek dink jy was so gevul met die Heilige Gees dat jou dankbaarheid oorgeloop het in hierdie gedig.
By: wag-'n-bietjie on Dinsdag 2 Desember 2008
at 7:43