Posted by: mykopop | Sondag 23 November 2008

Noudat Slapende Honde – Ronelda S Kamfer

Ek het effens onder ‘n wanindruk met hierdie digbundel kennis gemaak. Ek het dit in die boekwinkel gesien, onthou ek het op die internet gesien dat dit hoog aangeslaan word, maar het toe nog niks daaroor gelees nie. Ek het dit oopgeslaan en die eerste gedig “Waar ek staan” gelees, waarvan die eerste vers so lui:

Nou sit ek om ‘n tafel
met my voorouers se vyande
Ek knik en groet bedagsaam
maar
êrens diep binne my
weet ek waar ek staan

Ek het dit gelees, onwetend dat Ronelda bruin is. Dit het aanklank gevind by my a.g.v. die gedwonge polities-korrektheid waaronder ons daagliks gebuk gaan.

Ek het verder geblaai en op die gedig Pasop vir Depressie afgekom waarin die 3-letter k-woord presies 14 keer voorkom, die boek toegeklap en gesê “Nee wat, ek kan sommer my eie k*k skryf!” Maar ek het op die internet resensies van die boek gelees en toe ek eers beter besef wie sy is kon ek dit beter verstaan. Ek het dit gaan koop en begin lees. Nadat ek begin lees het, het ek opgekyk na die skildery van Magriet van Loggerenberg wat ek onlangs gekoop en vir eers in ons slaapkamer gehang het.

Kaapse blommeverkoopsters

Ek wonder of die anties wat ek in 1978 daar sien sit, van wie die onthou my die skildery laat koop het, ook daar van die Kaapse vlaktes was waaroor Ronelda so baie skryf!

Daar is reeds resensies oor die bundel geskryf, o.a. deur Joan Hambidge en ek wil dit net weer duidelik stel dat ek nie met akademici soos sy kan saampraat nie: ek skryf nie resensie nie, ek gesels sommer. Lees haar resensie op Burger Blogs, met nogal katterige polemiek daarby.

 

Reklamemateriaal vir die bundel sê: In Noudat slapende honde Kamfer se gedigte is vreesloos, en skroom nie weg van taboe-onderwerpe nie. Soos ek reeds aangedui het, Waar ek staan, kon net sowel aan iemand aan die “ander kant” geskryf gewees het. Ek wil tog wonder of dit nog vir voorheen benadeeldes nodig is om so baie oor apartheid te skryf? Sal dit ook aanvaarbaar wees vir blankes om so vreesloos te skryf oor wat in hulle harte aangaan?

Vir interessantheid het ek besluit om ‘n paar “kategorieë” neer te skryf en dan die 34 gedigte daarin in te deel. Maar ek het besluit om bietjie moedswillig te wees met myself. Soos my oogkundige wat vir my vra, “wat is die duidelikste, die letters op rooi of die op groen?” Dan maak ek die moeilike keuse, hy draai die glasies, maak hulle nog nader aan mekaar en vra weer. As ek sê, “ewe duidelik”, dan vra hy, “Ja, maar watter een is bietjie duideliker?” As ek dus twee kategorieë aan ‘n gedig toegeken het, het ek myself gedwing om te besluit watter een is nou die belangrikste. Hier is my tellings per kategorie:

Apartheid, raskwessies 8
Kaapse vlaktes, bendegeweld 7
Persoonlike probleme 6
Gesinsprobleme, kindermishandeling 4
Ander: Lewe en dood, Innerlike krag 3
Digterskap 2
Liefde 2
Waarhede 1
Anti-establishment 1

Iemand anders sou dalk ander kategorieë wou gehad het, of met dieselfde kategorieë by ander tellings uitgekom het. My vraag is net, volgens my tellings loop apartheid voor – sal Ronelda darem verderaan in die 21ste eeu in meer ander onderwerpe kan kry om oor te skryf?

Nou moet ek ook ietsie erken: ek dink nie ek verstaan die titelgedig 100% nie. Ek het dit ook onder Apartheid ingedeel, ek mag verkeerd wees. Ek hoor graag jou opinie. (Luister by YouTube as jy nie die bundel het nie.)

Ek wil met die resensente saamstem dat sy ‘n sterk stem is om na te luister, ek sal haar werk dophou in die toekoms.

By YouTube kan mens gaan kyk luister hoe Ronelda drie van haar gedigte voorlees, die titelgedig, Klein Cardo en Die baas van die plaas. Daar is ook ‘n kort onderhoud wat Rachelle Greef met haar en Willemien Brümmer gevoer het by die bekendstelling, Honde en Hare. Kliek net op YouTube en tik daar by die “Search” kassie in Ronelda Kamfer.


Responses

  1. Ek’t gisteraand vir die eerste keer haar gedigte gelees. Ek’t ‘n knop in my keel gekry want die gedigte spreek tot my. Dis nie kastige ‘hogere’ Afrikaans nie; dis lekkerlees Afrikaans. En hoekom mag sy nie oor die verlede skryf nie?

  2. Hi Wordwhisperer – nee sy mag, sy mag, dis juis wat ek probeer sê: sy mag skryf oor die verlede, die toekoms, die hede, solank ons ALMAL mag! Verstaan jy? Al wat ek ook probeer sê is dat ek graag wil sien dat skrywers darem ook iets anders het om te skryf as hulle nou klaar daaroor geskryf het. Dankie dat jy kom inloer het, wonderlik om dialoog daaroor te kan voer!

  3. ek verstaan nie altyd gedigte nie, in fact eks biki moeg van gedigte

    klink vir my soos ‘n terapieboek

    he ek weet niks sal gaan kyk wat ou joan te se het

    wonder wat lees my kop vanaand

  4. hehehehehmhahahaaa

    ek het NIs gedrinie net koffi

    lovvies anny potato

  5. @Ansophie – ek lees Franse briewe uit Provence, en tussendeur ‘n swart digbundel met 100 gedigte in. Ek sal julle natuurlik vertel daarvan!

  6. Hierdie bundel het ek na al die gloeiende resensies wou koop. Maar toe slaan ek dit op ‘n paar plekke oop, en dit het net eenvoudig nie tot my gespreek nie. Inteendeel. Toe gaan sit ek weer, en gee dit weer ‘n kans. Daar was net een gedig wat vir my mooi was, die een wat afsluit “en met julle seuns vry”

  7. @Maankind, welkom en dankie dat jy kom kuier het, julle het ook ‘n lekker ding daar aan die gang met Boekemakranka!

    Ek stem met jou saam – dit is nie mooi gedigte nie. Tog wil ek met Wordwhisperer ook saamstem, van hulle kan mens ‘n knop in die keel gee, en die doel van digkuns is nie om altyd net mooi te wees nie, maar om aan enige emosie uitdrukking te kan gee.

    Daar is darem twee wat vir my mooi is, “Ek wil”, en “Nag”:

    “Mag jy drome droom
    en nie net slaap nie”

  8. My heel, heel, heel gunsteling gedig is “Goeie meisies”. Sjoe, dis mooi. Ronelda skryf uit die hart uit oor die moeilike lewe wat sy gehad het.

    ‘n Mens moet ook die taal verstaan. Dis die enigste manier wat jy die gedigte sal kan waardeer. Glo my, ek’t hardop gelag toe ek die lyntjie lees: “hulle speen nie saam met taxi drivers nie”. Nie dat ek met taxi drivers ‘speen’ nie😉

  9. Hey Wordwhisperer, ek dink jy is net die een om die oningeligtes onder ons bietjie by te bring! Ek moet erken daar is baie spreekswyses wat oor my kop gegaan het. Ek weet van kalwers of lammers speen, maar ek is seker hierdie is iets anders? Miskien moet ek maar nog ‘n slag lees en jou vra oor alles wat ek nie verstaan nie!

  10. Ja, jong, dis nie soseer Kaapse Vlakte-taal wat sy gebruik nie; dis taal wat my geslag se bruin kinders — en dalk die jonger outjies, ook — gebruik. Ons het desjare al van ‘speen’ gepraat: om met iemand uit te gaan. Toe het dit nie ‘n seksuele konteks gehad nie; wat het 12-jariges daarvan geweet? Hier’s ‘n (baie slegte) vertaling van Goeie Meisies: http://tinyurl.com/8gqcuk

    En ek’s nie seker wat tjappies is nie; ek sal my 19-jarige sussies vra.

  11. EK het weer haar bundel probeer, en hou steeds by my kommentaar van vroeër. Ek is jammer oor die feit dat sy arm en bruin grootgeword het, maar vir my is dit irrelevant tot die meriete van haar gedigte.


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: