Posted by: mykopop | Saterdag 1 November 2008

Liewer Bang Jan…

Donderdagoggend ry ek werk toe. Nou die van julle wat die Roodepoort omgewing effens ken: ek ry met Christiaan de Wet-weg oor Ontdekkers. Die paaie is vir my nogal bietjie snaaks ontwerp hier. Pas oor die robot by Ondekkers is daar nog ‘n robot op Christiaan de Wet, met ‘n pad wat van regs T-aansluit. (Dis nou net nadat daar ‘n ander pad links T-aansluit met ‘n stopstraat.)

By hierdie robot is daar toe ‘n koeltrokkie voor my in die linkerbaan wat baie stadig wegtrek. Ek lees wat op die trokkie staan maar gee nie veel aandag nie, want hy is regtig nie haastig nie, ek moet by hom verby kom. Maar daar is ‘n ander kar voor my wat hom eers moet verbygaan voor ek kan. Ek sit op die ou se agterbuffer.

Maar so 200 meter verder die bult af is daar ‘n straatjie wat regs uitdraai. Daar staan altyd ‘n paar karre wat wil regs draai, dus moet jy dan al weer terug in die linkerbaan wees. Paulinestraat. Vra my, ek sal weet, want so twee jaar gelede het dit bietjie gereën die oggend, ek wou ook ‘n groot trok verbygaan voor ons by Paulinestraat kom. Ek was goed besig om hom in te haal, die ‘timing’ was heeltemaal reg, maar toe besluit so ‘n wit Mercedes-bussie uit die linkerbaan skielik om uit die linkerbaan voor my in te swenk om die trok verby te gaan, sodat ek moet briek aanslaan om hom te mis.

Gevolglik het ek my momentum verloor en kon nie meer die trok verbygaan nie, ek sou eers moes stop agter die paar karre wat wag om regs te draai in Paulinestraat. Maar die pad was nat en ek kry nie betyds gestop nie, ek stamp die agterste kar dat hy die ou voor hom ook nog ‘n ordentlike stampie gee. Die bestuurders van die twee karre het natuurlik nooit die wit bussie gesien wat dit alles veroorsaak het nie, ook nie die trok nie.

Afgesien van al die ongeorganiseerde paadjies wat links en regs draai uit Christiaan de Wet-weg, het hulle een of ander tyd die aantal bane vermeerder van een in elke rigting na twee in elke rigting, seker op ‘n baie beperkte begroting, want as jy ‘n ander voertuig daar verbysteek voel jy so half of jy jou skouers moet intrek, so nou is die bane.

Ek sien die ou voor my sukkel om homself tussen die trok en die aankomende verkeer in te dink. Die pad maak nog ‘n effense draai na links ook wat dit nog moeiliker maak. Ek plaas druk op sy agterbuffer, maar dit help nie. Chicken!!! – snou ek hom toe. Nee wat, ons gaan nie albei verby die koeltrokkie kom voor ons by Paulinestraat kom nie. Ek soek maar weer plek agter die trokkie en lees weer wat agter op sy oopswaaideur staan: Simply Chicken!


Responses

  1. 🙂

  2. 🙂

    NS: Vreemd dat daar nog ‘n Christiaan de Wet-weg in Roodepoort bestaan.

  3. hehe, wanneer laas het ons oor sulke “toevalle” gepraat?

  4. 🙂

  5. Baie geluk! Jy het die Silwer Ponie gewen!


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: