Posted by: mykopop | Sondag 26 Oktober 2008

Een Swarte En Twee Wittes Willie Werkie

Julle weet mos ek het laasjaar Augustus al die kaste uit ons kombuis begin haal en dit gebruik om die tweede kombuis in ons huis toe te rus, waar ons nou lekker al ons kos maak en ons skottelgoed was. Hierdie jaar het ek toe aangegaan met die bou van nuwe mure en inbou van nuwe deure.

Toe raak ek besig by die werk, en ons besluit om kontrakteurs te kry om die kombuis klaar te maak. (Gewoonlik tot mens se spyt, natuurlik.) Dit was so aan die begin van September, dus so twee maande voor die aanvang van Digitale Terestriële TV uitsendings in Suid-Afrika op 1 November. Ek het gehoop dit gee hulle genoeg tyd om die kombuis voor die einde van Oktober klaar te maak. Dit was eintlik my ideaal, om op Saterdag 1 November in die nuwe kombuis te sit en digitale TV kyk. Nou is die einde van Oktober op ons, en die kombuis is nie klaar nie. Daar is vordering, maar ek sien beslis nie dat ek op 1 November daar gaan sit en TV kyk nie.

Nietemin, die klein TV-stelletjie wil ons hê – ek het mos lankal gesê ek het ‘n liefde-haat verhouding met 7de Laan: aan die een kant kom daar oulike situasietjies uit, aan die ander kant voel dit soms of die skrywers se idees op is en hulle dieselfde idees holrug ry. Dit voel vir my baie soos ‘n mors van tyd om dit te sit en kyk. As ons nou ‘n TV’tjie in die kombuis kan hê kan mens mos of die die kombuis sit en eet en kyk, of in die TV-kamer eet en dan kombuis toe trek om die skottelgoed te was ens. terwyl 7de Laan en Die Nuus hulle loop neem.

Ek het onlangs by die werk gesien ‘n kollega het ‘n Telefunken LCD TV’tjie boonop met ‘n VGA inset vir ‘n rekenaar ook, en ek weet ook by watter winkel ek dit gesien het: Hi-Fi Corporation. So sit ek toe af Vrydagaand en gaan koop een vir R2800. Die Telefunken TV’tjie is beskikbaar in swart of wit. Eintlik het ek lank gestaan en wik en weeg, want daar is ook ‘n duurder model met ‘n silwer raam, maar ongelukkig het dit ‘n DVD-speler ingebou en kos R3500. Ek besluit toe later nee, koop net wat jy nodig het, en ek vat die witte.

Ek het Vrydagaand vinnig getoets, alles het goed gelyk. Saterdag seker so 10-uur sit ek hom toe aan en laat hom speel, net om seker te maak dat hy darem ‘n paar ure se kyk kan oorleef. Later kom ek toe daar en sien ‘n helder geel strepie van bo na onder deur die beeld.

Telefunken

Ja, dit is Celeste Williams van Liriekeraai wat op ‘3’ was toe die fout met die TV ontdek het, sy’t blykbaar ‘n CD gemaak of iets.

Ek pak toe natuurlik maar alles terug in die boks en ry terug Westgate toe. Seker ‘n uur later kom ek terug met ‘n ander een. Nadat ek hom aangesit het, wil ek iets op die keuslys van die dekodeerder kyk – die letters lyk bra uit fokus op ‘n plek… Ek besluit ek gaan bietjie die rekenaar koppel om na die fokus te kyk. Die oomblik toe die rekenaarbeeld opkom sien ek dit: daar is twee pixels wat heeltyd gloei! (Nee ou pel, die Afrikaanse woord ‘pel’ vir pixel doen dit nie vir my nie.) Terug in die boks, terug Westgate toe!

Nou was ek warm onder die kraag en wil my geld terughê, maar hulle wil niks weet nie en praat mooi. Ek het darem vir hulle gesê dis nou die laaste keer, ander sal hulle vir my petrol moet begin betaal om heen en weer te ry. En toe bring hulle vir my ‘n swarte. Nee, sê ek, ek het ‘n witte gekoop, ek wil ‘n witte hê. Maar hulle praat so mooi, en ek sê vir myself, ek het op die laaste oomblik die wittes raakgesien hoër op in die rak. As hy maar net goed werk maak dit tog nie soveel saak nie. Goed, ek stem in, toe word ek meegedeel die swarte is nou ‘n ander model (ek dink dis TLCD19W en TLCD19B), ek moet nou in die tou gaan staan by die kasregisters om ‘n nuwe strokie te kry. Nou ja, ek het klaar ja gesê. Hulle skakel hom selfs vir my aan. Die werksbank is bietjie ver agter die toonbank, maar op die ingeboude blou skerm lyk dit vir my goed.

Na omtrent 20 minute kom ek voor in die ry en kry ‘n strokie om te teken. Toe ek so klaar teken sien ek dis ‘n “Cash Refund”. As ek eers geweier het om te teken voor ek die kontant het, kon ek dalk my geld terug gekry het. Aag wat, al wat ek mos wil hê is ‘n oulike TV’tjie vir die kombuis wat mooi werk.

Tuis gekom pak ek uit en toets. Onmiddelik sien ek dit: ‘n wit kol wat omtrent soos ‘n wolllerige tennisbal lyk! Nou ja, die netto effek is ek het ‘n uur van Vrydagaand en die beste deel van my Saterdag spandeer, net om R2800 kontant uit my kredietkaart te trek. Ek sal nog uitvind by die kollega waar hy die een vir die werk gekoop het wat so mooi werk. Ek wonder of Hi-Fi Corporation se voorraad van dieselfde land af kom.

Nou is ek in die mark vir ‘n 19″ LCD TV. Of is ek? Skielik wonder ek: Hoekom is kos die swakker fabrikate van hierdie TV’s van R2800 af en mens kan beter fabrikaat rekenaarskerms van 19″ vir onder R2000 koop. Kan mens nie ‘n ander plan maak nie?

O ja, amper vergeet ek – ek het onlangs hierdie gediggie raakgelees op Leestafel:

Telefunken

Na jaren zwoegen werd ik kleurenblind,
sloeg vonken uit, kreeg klappen, gaf de geest.

Nu sta ik vaal en uitgepraat op straat
en moet steeds denken aan dat lege masker

dat mij zo schaamteloos heeft aangestaard.
Nagepraat. Aanbeden. Stukgemaakt.

De zak. Dat hij niet zag hoe levensecht
ik de tijd uit zijn ogen at. De zak.

Ik gaf hem Hitchcock, borsten, rampen, sikhs.
Ik gaf hem ogen. Oorlog. Noorderlicht.

Maar ik kon gaan. En hij kijkt weer tv.
Straks word ik opgehaald en sterven kilo’s

dode uren op de stortplaats met mij mee.

Menno Wigman
Uit: Dit is mijn dag,
Prometheus 2004


Responses

  1. soek self ‘n plasma! maar so donners duur as jy dit ordentlik wil doen

  2. Neil dit klink my jy is meer geïnteresseerd in HD (hoë definisie) – ek wou maar net ‘n SD TV hê om die komende digitaal-terrestriële uitsendings (wat in SD gaan wees te gaan kyk. Wat HD betref, klink my die meeste mense verkies deesdae LCD bo plasma. Ek fliek te min om dit te regverdig – ek dink ek sal liewer nou en dan na ‘n regte fliek toe gaan vir ‘n beter-as-HD ondervinding!

  3. Wat ‘n frustrasie. Jy het jou cool baie goed gehou. As dit ek was het hulle een van die 3 tv’s in stukke op hul vertoonlokaal se vloer opgetel. Pateties!

  4. Sterkte!!

  5. Ons het ook so stel afgetrap by dieselde winkel. Ek koop nie meer daar nie. Punt.

  6. […] werk beplan vir as ek by die werk kom. O ja, en ek moet nog by Stax aangaan. Ek het laas naweek weer probeer om ‘n 19″ LCD TV te koop, hierdie keer ‘n byD:sign by Stax. Die eerste een het […]

  7. Hehe. Wie sou nou kon dink dat iemand ‘n gedig kan skryf oor ‘n stukkende TV. Dis goed gedoen.

  8. Dankie Kyker, dis darem nie ek wat die gedig in Nederlands geskryf het nie, let op onder dis Menno Wigman.

    Ek het nog nie weer kans gekry om ‘n opvolginskrywing te doen nie, intussen het ek weer besluit om vir ‘n goedkoper maak te gaan, byD:sign by Stax. Na ‘n herhaling van min of meer dieselfde oefening het ek ook my geld na die derde een teruggekry. Ek het toe ‘n LG gekoop, bietjie groter – 22″ – behalwe dat ek bietjie gesukkel het om sy staander aan te kry nog geen probleme gehad nie. Goedkoop koop bly maar duur koop!


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: