Posted by: mykopop | Sondag 12 Oktober 2008

Baas Jack van Gariepwater

Gisteraand het ons weer soos gewoonlik so een keer per maand winkelsentrum toe gegaan, ietsie geëet en daarna die boeke en CD-winkels bestorm. Daar was ‘n CD van Koos Kombuis, waarvan ek nie nou die titel kan onthou nie. Ek kan ook nie nou probeer uitvind wat die CD se naam is nie, want Telkom se flenternet laat my nie toe nie. Waaroor ek egter wil skryf is een snit wat ek op die CD gesien het: Baas Jack. Ons het ‘n hond gehad met die naam Baas Jack.

Eintlik moet ek die storie so ‘n entjie verder terug begin. Toe ek 5 jaar oud was, het ons verhuis van Springbok na ‘n besproeiingsskema langs die Oranjerivier, waaraan die staat die naam Gariepwater gegee het. Die naam was egter te lank of te lomp en in die Upington-omgewing het dit sommer as Gariep bekend geword. Behalwe as ons ons adres moes opgee vir ‘n posstuk, daarvoor het ons wel Gariepwater gebruik. Dit was voor die dae van poskodes, toe poskodes ingestel is het Gariepwater vir ‘n paar jaar sy eie poskode gehad.

As jy wil weet waar Gariepwater is, dit lê in die Noordkaap, tussen Upington en Groblershoop, d.w.s. stroom op met die Oranjerivier van Upington se kant af. Ek sal ‘n Googlemaps verwysing hier plaas sodra die Flenternet my weer toelaat. Die middelpunt van die kaart is op die brug oor die rivier by Grootdrink. Gariepwater is aan die noordekant van die rivier. So ‘n besproeingskema bestaan natuurlik uit erwe in die vrugbare grond wat deur die eeue deur die rivier uitgespoel is. Die gemeenskap bestaan noodwendig uit ‘n ry huise, seker so 100 tot 200 meter uit mekaar, al langs die erwe af, seker omtrent so 30 km lank.

Eendag wil ek miskien nog ‘n klein boeke met kort sketsies oor Gariepwater skryf, ek weet ook nie, miskien het ek te lank gewag, die meeste van die ou boere is al dood. Ons het in Desember 1963 daar aangekom. Die brug by Grootdrink is eers in 1969 voltooi, dus was dit toe taamlik afgeleë – mens kon Groblershoop bereik met ‘n grondpad aan die noordekant van die rivier en ‘n brug by Groblershoop, of Upington met ‘n grondpad tot by die Olifantshoek/Upington pad, wat ook grotendeels grondpad was, behalwe die laaste 18 km tot in Upington wat geteer was.

Daar by die punt van die teerpad het ons altyd die plaasbordjie gesien: Koos Liebenberg – Avondale. Toe het my pa eendag alleen dorp toe gery en sy bakkie breek toe daar by Avondale. Hy het ‘n stuk bloudraad nodig gehad om sy bakkie reg te maak om tot in die dorp te kom. So het hy toe die Liebenbergs leer ken en ons het huisvriende geword.

Op ‘n dag bel oom Koos my pa en vra of hy nie ‘n bullterriër wil hê nie. Ek dink dit was ‘n Sondag toe die Liebenbergs kom kuier het om vir Baas Jack af te lewer. Hy was eintlik nog ‘n baba, maar dit was net ‘n paar minute toe sê oom Koos: Kyk, Baas Jack het al klaar vir hom ‘n besem gevang!

Oom Koos het toe ook die storietjie van die naamgeëry vertel. Die mense wat klein Baas Jack geteel het, het glo ‘n klein dogtertjie gehad en sy het toe die taak gekry om die hondjies naam te gee. Hoeveel hondjies daar in die werpsel was, en die ander name behalwe Baas Jack en die laaste een kan ek nie onthou nie. ‘n Jaar of so vroeëer het die groep Four Jacks & a Jill natuurlik ‘n massiewe treffer gehad met “Master Jack”, wat Al Debbo tot ‘n lawwe Afrikaanse liedjie met die titel “Baas Jack” verwerk het, iet soos “Konsternasie op die stasie, want die fluitjie willie blasie Baas Jack.”

Dit is natuurlik waar die dogtertjie die naam vir Baas Jack vandaan gekry het. Toe kom sy by die laaste hondjie in die werpsel wat moet naam kry, maar het nie meer ‘n plan nie. Sy sê toe: “Nou het ek niks meer name oor nie, ons moet hom maar “F*kol” noem!’

Ek sal ‘n ander keer miskien ‘n paar van Baas Jack se wedervaringe probeer vertel. Hy was ‘n wit bulterriër, alhoewel hy kwaai en selfs gevaarlik kon wees, was hy baie liefdevol teenoor ons as kinders. Maar hy was ‘n plaashond, en rof. Hy het vir ons amper so ‘n legende geword soos Jock of the Bushveld.

Nou wonder ek wat weet Kooskombuis van Baas Jack?

Kanaal

Die kanaal op Gariepwater, leeg toe die foto geneem is. By die beginpunt van die kanaal is dit heelwat breër.


Responses

  1. Skryf daai boekie met die sketse, al is die meeste van die ou boere al dood. Dis iets wat moet neergepen word vir die nageslag. Nes hierdie storie van Baas Jack. Dis sulke volksverhale wat verlore raak omdat ons nie meer om die vuur sit en stories vertel nie, maar eerder voor die TV en soapies kyk!

  2. ‘n Ou vriend van my, Marius Maritz, is van Groblershoop. Hy het ‘n tweelingbroer, Ettiene, wat nou ‘n predikant is. Marius hou skool by Hoerskool Groote Schuur in Nuweland. Jare terug, toe ek nog ‘n jong onderwyseres was, het ek en my man en Marius en sy vriendin, Jenny, vir ‘n naweek Groblershoop toe gegaan. Dit was ‘n op-die-ingewing besluit, want daar was groot oorstromings en ons wou gaan kyk. Ons is binne ‘n naweek van Nuweland na Groblershoop en weer terug om betyds Maandag by die skool te kom. Ek dink ons het deurnag gery! Ek kan goed onthou hoe ons op die brug by Grootdrink gestaan het om na die oorstromings te kyk. Marius se ouer suster en haar man boer steeds op die Olifantshoek pad. Ek dink hulle name is Koot en Leitzie. Jy’t my regtig ver terug laat dink. My man is al 10 jaar terug oorlede, en dit was ‘n goeie 10 jaar voor dit wat ons daar was! Dit moes seker in 1987/88 rond gewees het! Ek het al vergeet van ons naweek in Groblershoop!

  3. Mooi inskrywing🙂

  4. Wat Koos ook al te se het van Baas Jack, dit sal nie naastenby so entertaining wees soos jou vertelling nie.

    Jinne, ek is bly ek het nie vir F*k*l gekry nie – verbeel jou as die veearts jou hond se beurt uitroep oor die ontvangslokaal! Mense sal reken hy is nie lekker nie, en as jy en jou hond opvlie’ sal hulle eers oe in die kaste draai…

  5. Ai boetie Chris, toe ek hierdie opskrif sien, toe weet ek sommer, nou gaan my gedagtes ver teruggevat word na ons kinderdae en die wit hond. Tyd is nou soveel minder as meer as 40 jaar gelede, en mens weet nie hoe dit so gebeur het nie, maar ek sal jou so graag wil help onthou aan ‘n klompie stories van ons legendariese Baas Jack. Onthou jy hoe Pa altyd vertel het dat, wanneer hy in die Kuruman-omgewing (honderde kilometers verder)gestop het om Tswana-arbeiders op te laai, die woord dadelik die rondte begin doen het: Dis die wit hond se baas!

    Pak nog uit sodat ons kan onthou!!

    Dawie

  6. ek van volksverhale……het jy my volksverhaal gehoor van vaderxmas?………..yes…..no……….dust!

  7. Geniet hierdie dag.

    SHARKS!!


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: