Posted by: mykopop | Sondag 13 Julie 2008

Coenie de Villiers – Weerlig oor die see

Front

Daar is al heelwat oor die CD geskryf. Ek wil darem ook net sê dat ek dit baie sterk kan aanbeveel – van al die Afrikaanse CD’s wat ek die afgelope 6 maande of so gekoop het sal ek dit as een van die heel bestes beskryf.

Daar is ‘n uitstekende resensie van die CD in die Burger. Die bloggers het ook al geskryf, kyk bv. wat skryf Ansophie alles – ons stem presies saam oor wat is goed op die CD.

Vir my is die kern van die CD ook 3 liedjies: Taj Mahal, Anne Frank en Katedraal.

Om die liedjie Taj Mahal te verstaan moet mens die liefdesverhaal daaragter ken. Toevallig is die beste stuk wat ek daaroor kon kry in Afrikaans ook in Die Burger. Wat ek egter nie daar raaksien nie, is die feit dat die Sjah nadat die musoleum vir sy beminde gebou is, die hande of vingers van al die vakmanne laat afkap het om te verhoed dat nog so een gebou word. (Foto: Wikipedia)

 

 

 

Dit lyk of daar op die oomblik groot belangstelling heers in die dagboek van Anne Frank, die Joodse meisie gedurende die 2de wêreldoorlog in ‘n deel van ‘n huis weggekruip het waarvan die deur agter ‘n boekrak versteek is. Die boek is pas vir die eerste keer in Afrikaans vrygestel as Die Agterhuis. Lees meer hier. Die boek is in Nederlands beskikbaar as Het Acterhuis. Ek is nie seker of sy haar dagboek in Nederlands gehou het nie, want sy is in Duitsland gebore, maar by die skakel wat ek gegee het, sien ek “Ek is lief vir die Nederlanders, ek is lief vir die land, ek is lief vir die taal en wil hier werk.” Ek vermoed dus sy het in Nederlands geskryf, die skrywer daar praat ook van “the original Dutch that she wrote”. Ek wonder eintlik waarvandaan die groot belangstelling, is dit ‘n soort realiteits-TV-kykie terug in die verlede in, net soos die groot belangstelling in die ondergaan van die Titanic?

(Foto: Wikipedia)

 

DSCF3758Die ander groot snit op die CD is Katedraal, waarin Coenie dit het oor formele kerke, ek haal aan uit die Burger se resensie: “Hierdie liedjie het georganiseerde godsdiens as tema, en hoe ’n mens die heilige nie noodwendig in ’n katedraal hoef te gaan soek nie.” Ek sal nie met hom daaroor argumenteer nie, ek stem saam met lg. stelling, ek het dit eintlik self genoem in my inskrywing oor Willem D. Kotze, in Kotze se woorde: “As kind het ek Hom daar tussen die duine gekry.”

Die foto het ek ‘n paar weke gelede in ‘n katedraal in Brescia, Italië geneem.

 

 

 

 

 

 

 

 

Die ander liedjies op die CD wat Coenie self geskryf het (en dis die meeste van hulle) is ook baie mooi. “Ou Minnaars”, die eerste snit, begin baie mooi met Beethoven se Maanligsonata as begeleiding. Die titelsnit is nie vir my die mooiste nie, maar tog mooi. Kurt Darren sing saam op “Dis Jy”.

Dan is daar nog een snit wat my baie na aan die hart lê: “Ek sou”. Ek het die liedjie, oorspronklik geskryf deur Jules de Corte, leer ken op Jannie du Toit se CD “De Kleine Man”, as “Ik zou wel eens willen weten”. Miskien is dit goed dat daar nou ‘n Afrikaanse weergawe is, wat meer toeganklik is vir Afrikaanssprekendes wat nie noodwendig in Nederlands belang stel nie. Insgelyks is “Waar Bly Die Tyd” ook deur de Corte geskryf en deur Coenie in Afrikaans vertaal.

Daar is ‘n paar snitte wat nie noodwendig in my smaak val nie, bv. die verwerkings van “Namakwaland” en “Ek verlang na jou”, lg. saam met Gloria Bosman en Sonja Herholdt, en so ook die laaste snit As Hugh Like it, wat natuurlik uitstekend uitgevoer is deur Hugh Maekela. Soos Coonie sê in die resensie van Die Burger: hy het gedoen presies net waarvoor hy lus was!

Lekker luister!


Responses

  1. Kop, dankie vir hierdie inskrywing. Ek is ‘n groot aanhanger van Coenie, want die man maak eerlike musiek en is ‘n liriekskrywer van formaat. Sy vorige 2 CD’s was vir my effens teleurstellend, maar dit klink my hierdie een is die moeite werd. Ek het nou omtrent al ‘n lys van Afrikaanse CD’s wat ek moet bekom. En dis danksy mense soos jy wat mens ingelig hou.

    NS: Pragtige katedraal!

  2. Dankie Chris

    Ek gaan nou sommer dit wat ek geskryf het van my blog daar afhaal. Daai blog het te veel inskrywings in, so ek sit dit maar hier neer.

    Oor ‘Weerlig Oor Die See’.

    Ja! Baie mooi. Ure se luistergenot en soos altyd hou ek veral baie van die liedere wat ‘n storie het om te vertel en wat nog ‘n mooi melodie ook het. Wel, daarna kan mens dan gaan sit en tob.

    Hier is wat ek geskryf het:
    Taj Mahal
    Coenie De Villiers

    Langs die Yamuna rivier, staan die Taj Mahal. Hierdie lied vertel dan ook die ou ou warm diep verhaal. Van misterieuse bemindes Mumtaz en Shah Jahan onder rowwe sandsteen en spierwit marmer in die son gekaats, lê die dood en edelgesteentes op eeue oue swart klip. Jy hoor ‘n spookstem agter sluiers wat sing, ‘n treurige lied uit wasels verdriet, in ‘n swymeling van skoonheid en sterftes en herhalende grepe uit melodieuse erftes.

    Hy bid vir haar in marmer
    En hy bid vir haar in klip
    Hy bou vir haar ‘n Taj Mahal
    Ver ander kant begrip

    Beautiful! (En jy kan glo sederdien droom ek van die Taj Mahal en het 50 foto’s van haar versamel op die internet. Dit is daai stem van die vrou… Nianell! Werklik betowerend en asemrowend. ‘n Praglied!)
    *
    16 Junie 2008
    * * * * *
    Katedraal
    Coenie De Villiers
    Op die CD ~ Weerlig oor die see

    Ek dink met die aanhoor van hierdie lied, kan mens werklik verwondering ervaar in die voorstelling hier deur musiek van die wonderbare onbegryplike grootheid van God se skepping in die natuur. Daar waar mens werklik die enigste groot vrede en bevryding ervaar in stilte met net die musiek van die wind, die Karoo, die berge, die see, ’n waterval, ’n bosloerie… om jou.

    Dit voel soms in kerke so gespanne. So vasgebind aan moets en moenies. Tog is dit in kerke waar mens kore hoor en hier sing die koor so allerpragtigs en ek dink dit is onder meer die verwerking van die musiek en die verandering van die klanke deur die klankingenieur wat so bydrae tot die gevoel dat mens werklik op ’n hoë bergpiek staan en uitkyk oor die wonderbaarlike wydheid van ’n landskap waarin mens kan verdwaal in vrede.

    Ek dink die timps se bydrae was ook te wonderlik as die grommeling van veraf donderweer miskien, asook die herhalende sestiendenote opgaande toonleer wat hierdie spanning en afwagting skep en dan die koor se wonderskone swewende klanke met die woorde ‘Libera Dominum’ (ek dink dis die woorde) wat so uitstyg bo dit alles. Die besef dat iewers binne elkeen van ons is God en mens hoef dit nie aan iemand op aarde en allermins in die kerk te bewys nie. Die goedheid en gawes wat in die hart van ‘n gelowige mens is, is net sigbaar deur God en selfs non-Christene kan daai selfde goedheid en gawes openbaar terwyl Christene wel somtyds onverbiddelik is in hul beskouings en soms wonderlik aanvaardend is. So ja, ‘n wye oop siening… van Liefde.

    Die titel ‘Katedraal’ laat mens ook diep dink. Al die mooie en goeie (soos die wonderlike kore en musiek en gebrandskilderde vensters), maar ook die ander deel, van die gevoel dat die klipwerk mens ‘vasdruk’ as’t ware. Alhoewel my vriendin Ingsie sê, sy ervaar die gevoel van ‘vasdruk’ van die kerk as koesterend. Ek ervaar dit soms as oooeeei, ek wil uithardloop na die hoëwilde berge toe waar ek vry kan voel en diep asem kan haal. So ek dink daar is verskeie interpretasies wat mens hieran kan gee.

    Maar wel. ‘n Praglied wat mens ver wegvat op vleuels van gesange.

    Dit als laat dink my aan die ou Indiaan waarvan my sielsvriendin my vertel het. Hy is omtrent 90 jaar oud en vreeslik maer en fragile met so ‘n asketiese gesig en oë wat so diep sit. Hy is amper volledig gees – sy ou lyfie bestaan amper nie meer nie. Mens staar na hom en kan jou verluister, ook aan sy digterlike lieflike taalgebruik. Hy praat so sag en lieflik oor ons miskonsep van waar ons God sal vind – soos in religieë – en dan skielik bars hy los met ‘n dawerende stem: Go to the mountain top!.. where the air is pure and clean .. you WILL find God there.. Sy sê sy het hom so innig lief; sy wil net in sy omgewing vertoef.

    En ons moet vloei met die rivier en nie so skop nie. Want die water wat by die rots kom gaan rustig daaromheen en vloei weer saam aan die ander kant.

    Ai, so pragtig sing Coenie en die Randburg Hoërskool se koor o.l.v Richter Grimbeeck, ek is net in stomme verwondering en vervul met liefde met hierdie pragtige lied van bevryding. O hemel, dit is net te mooi, te mooi, te mooi vir my.

    Aahh..

    Sondag, 15 Junie 2008
    * * * * *
    Weerlig oor die see
    Coenie De Villiers

    Daar is ’n liedjie op hierdie Cd wat gaan oor Anne Frank, deur Coenie De Villiers wat my baie aangegryp het.

    En ek dink so aan haar einde en die siekte en toestande in Bergen-Belsen. Wat sou sy dink of droom. Kan mens iets voel as jy so siek is en so koors het en so ly…
    weereens ‘n pragtige pragtige hartseer lied.

    Anne Frank
    Ansophie Van Wyk

    Geen potlood in my hand
    Waar’s my dagboek, waar nou
    Is dit dalk verbrand?
    Daar is niks meer hier om vas te hou

    In die newels sien ek my ma
    In die newels sien ek my pa
    Deur die newels sweef my sussie
    Waar sy my oor die Prinzengracht dra

    Ansophie
    14 Junie 2008
    * * * * *
    The Diary of Anne Frank (1929 – 1945)

    “I have often been downcast, but never in despair; I regard our hiding as a dangerous adventure, romantic and interesting at the same time.”

    “I see the eight of us with our ‘Secret Annexe’ as if we were a little piece of blue heaven, surrounded by heavy black rain clouds.”

    This is her last entry in the diary:

    “I twist my heart round again, so that the bad is on the outside and the good is on the inside, and keep on trying to find a way of becoming what I would so like to be, and what I could be, if… there weren’t any other people living in the world.”

    She died of typhus in Bergen-Belsen concentration camp.

    14 June 2008
    * * * * *
    About Typhus: an estimated 50,000 Jews, Czechs, Poles, anti-Nazi Christians, homosexuals, and Roma and Sinti (Gypsies) died in the camp, many of Typhus.

    Symptoms include severe headache, a sustained high fever, cough, rash, severe muscle pain, chills, falling blood pressure, stupor, sensitivity to light, and delirium. A rash begins on the chest about five days after the fever appears, and spreads to the trunk and extremities but does not reach the palms and soles. A symptom common to all forms of typhus is a fever which may reach 39°C (102°F).

    14 June 2008
    * * * * *
    A Poem for Anne
    Ansophie Van Wyk

    You lived to the inside
    In Het Achterhuis
    In an inner world of tranquility
    Of pureness and beauty
    A little piece of blue sky
    But what your thoughts were in the end
    We can’t say or even begin to feel
    But with these words I try
    To look past the unbearable cruelty and suffering
    To see you oh white dove
    Fly so very high
    So very high
    In a wide blue open sky

    14 June 2008
    * * * * *
    Terwyl ek so aan Anne Frank dink, het die storie van Janina David, ‘Een stukje hemel’, ‘Jeugdherinneringen uit de 2e wereldoorlog’ ook by my opgekom.

    ‘A Square of Sky’: A Jewish Childhood in Wartime Poland. Dit was ook jare terug as ‘n Afrikaans vertaalde TV reeks uitgesaai.

    Naskrif: Die vertaling (hoor ek in ‘n advertensie op RSG )van ‘Die Agterhuis’ is deur Lina Spies gedoen as ek dit nou reg het.

    Groete,
    Ansophie

  3. Dankie Ansophie, net jammer dat dit nou hier net as kommentaar moet sit, maar hier kan iemand wat Google dit darem nog kry, en ek voel baie geëerd om dit hier op my bloggie te hê! Min mense maak gebruik van die fasiliteit dat meer as een outeur op dieselfde blog kan plaas. Miskien moet ‘n paar van ons so iets oorweeg?

    Ek wil so gou as moontlik Die Agterhuis hê, maar eendag wil ek ook die Nederlandse weergawe hê.

  4. Ek dink dis goed as mens so ‘n CD of boek kan bespreek , dis tog eintlik dan lekker soos ‘n leeskring amper of hoe. Ja, jy skimp al nou weer …

  5. Kop ek is mal oor Coenie de Villiers se musiek!! En natuurlik die Taj Mahal … ai! ek het al so baie oor hierdie plek geskryf op my ander blog, die liefdes storie daaragter is vreeslik mooi, alhoewel hartseer! Pragtige foto van die katedraal!!
    Dankie ek het jou inskrywing baie geniet.

  6. Jy’t my nou baie nuuskierig hoe hierdie CD klink! Sal bietjie gaan luister as weer by Look & Listen kom. Die foto van die katedraal is pragtig!


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: