Posted by: mykopop | Maandag 7 Julie 2008

T’sats se kind – Willem D. Kotze

Tsats-se-kind

Ek het pas die boek klaar gelees – weens werksverpligtinge (en ‘n paar plesiere!) het dit my nogal ‘n tydjie gevat. Ek wil julle sommer in die algemeen inlig oor die skrywer se werk – terloop, lyk my ek is die eerste een om op ‘n blog oor hom te skryf.

WillemDKotzeWillem D. Kotze is in 1931 in die Gobabis-distrik op die plaas Texas langs die Nosob gebore.

Hy skryf boeke in twee kategorieë: fiksie en outobiografies.

Fiksie

Sy fiksie begin met die boek T’sats Van Die Kalahari (1994). Ek het die boek lank gelede gelees en besit dit nie self nie, maar as ek reg onthou gaan dit oor die boesman T’sats wat by ‘n blanke boer grootword en dan, as hy groter word, roep die Kalahari en sy mense hom. L.w. ek gebruik die woord “boesman”, soos die skrywer, omdat ons daarmee grootgeword het en daaraan gewoond is. Ek het die grootste respek vir die San en gebruik die woord nie uit disrespek nie. Sover ek weet is die boek glad nie op die oomblik beskikbaar nie, as iemand my kan help om ‘n eksemplaar te bekom, laat weet asseblief!

Die opvolg op bg. boek is T’sats, Grootste Van Die Groot Jagters (1995), wat ek gelukkig besit. T’sats Se Wraak (1996) besit ek ook nie en kan ook nie onthou of ek dit al gelees het nie.

T’sats Se Kind het in 2008 verskyn, dus behoort jy dit maklik in die hande te kan kry. Ek dink nie dis ‘n voorvereiste om die voorafgaande boeke te gelees het nie. Kotze verwys in sy boeke na ‘n voorval wat op 26 Julie 1922 afgespeel het. Magistraat van Ryneveld van Gobabis gaan op ‘n ekspedisie met polisiemanne om die boesmans toe te spreek, hy voel dis onbillik dat die polisie boesmans vang oor die skiet van elande (kroonwild) en dat hy hulle dan tot tronkstraf moet vonnis. Hy wil hulle daaroor gaan probeer inlig. Hulle veras die groep Boesmans vroeg die oggend terwyl hulle nog slaap, maar van Ryneveld word deur ‘n gifpyl van T’sats getref en skiet self vir T’sats dood. Nog ‘n paar boesmans word deur die polisie doodgeskiet en die magistraat sterf ‘n aaklige dood.

Kort voor die magistraat se dood is T’sats se seun Tkôllie (half en half vernoem na Baas Kolie wat T’sats grootgemaak het) saam met ander boesmans gevang, en omdat hy so jonk is gee die magistraat hom aan ‘n boer, Freek van Staden.

Kotze het ‘n ongelooflike kennis van die Kalahari en van die boesmans, ek wil amper sê hy klim in hulle koppe in. Net om te illustreer hoe hy kan voel hoe hulle hulle kontak met die “beskawing” ervaar wil ek ‘n kort stukkie aanhaal, die waar Tkôllie saam met arbeiders van Freek van Staden tuis is:

Dit was nog nie laat in die aand nie, toe hoor hulle daar langs die vuur hoe ‘n jakkals se skrou, skerp en met pyn gevul doer van die slagyster se kant af opklink. Net een keer, toe is dit stil, asof die wind die skrou weggevat het.

“Die yster het hom”, sê Andries op die manier wat ‘n mens praat as jy al baie jakkals so gevang het. “Hy’t opgehou skrou omdat sy bek daar by sy poot is. Hy probeer om dit los te byt.”

Kotze se beskrywing van die veld en die mense is vir my so goed, en omdat ek self so half in die duine grootgeword het, bied dit vir my ‘n wonderlike ontsnapping uit waar ek my ookal bevind. Aan die einde van die verhaal is Tkôllie maar nog jonk en het nie ‘n baie groot rol gespeel nie. Ek hoop dus daar is ‘n vervolg!

Outobiografiese werk

Aan die outobiografies kant, Voetspore In Die Kalahari (1992) is Kotze se heel eerste boek. Die agterblad beskryf die boek o.a. so: … is ‘n boeiende kultuurhistoriese dokument met onvergeetlike dramatiese momente, soos die episode waar die gesin honderde halfverkluimde skaapooie met goiingsakke en warm koffie probeer deurhaal…

Die boek Kalahari-Kind begin met die hoofstuk “Kom uit… Ek wil verbygaan”, en die skrywer haal reg aan die begin aan uit 1 Kon. 19:11-12. Aan die einde van die hoofstuk sê hy: As kind het ek Hom daar tussen die duine gekry. Eintlik was Hy maar altyd daar: in die sandstorms, die hitte, die windstilte, die droogte. … Ek moes net leer om sy spore op die rooi Kalahari-sand reg te lees. Miskien is die hoofstuk van so 5 bladsye vir my meer werd as ‘n honderd preke.

Kalahari-Joernaal het in 2006 verskyn en dus nog maklik beskikbaar. Ek het dit nog nie gelees nie, maar hoop om dit te leen te kry.

Dan is daar nog twee boeke waaroor ek geen inligting het nie, waarskynlik historiese fiksie – Vlam Van Die Vuurklip (2000) en Jonker Afrikaner, kaptein van die Oorlogmense (2002). Ek sien daar is ook ‘n digbundel: Stemme uit die Kalahari (2004), dit sal ek ook besonder graag in die hande wil kry.

VoetsporeKalahariTsatsvdKalahariTsats-grootste-vd-groot-jagtersTsats-se-Wraakkalaharikind smallkalaharijoernaal


Responses

  1. Jy is baie lief vir lees sien ek!

  2. Dit lyk na baie mooi boeke. My neef het – of het dalk nog steeds – ook ‘n plaas genaamd Texas gekoop naby Gobabis. Die Nossob loop mos deur die Kalaharie Gemsbok Galagarie Oorgrenspark ook? Saam met nog ‘n rivier. Was laas in 1995 daar deur, so kan nie meer lekker onthou nie. Oab??? So ietsie.

    Dankie Chris,dat jy hiervan vertel het, ek self ken die Kalahri glad nie juis nie en het ook nie juis iets gelees al nie. Jy maak my sommer lus om self Willem D Kotze se T’sats Se Kind aan te skaf en te lekker lees hm. Die kalahari Duine is darem te rooi en so aller mooi. Dis darem so mooi… ‘n Gemsbok (Oryx) is my favourite bok van alle tye. Het nog mooi foto’s van toe ons daar deur is laas.

  3. Ek wonder nou sommer wat beteken die woord Kalahari? Weet jy dalk?
    Sou ook wou weet wat Jonker Afrikaner se geskiedenis is. Ek slef het nie nou so wye belangstelling in Africana ooit gehad nie, maar ons Franse vriend Jean Claude het eens saam met ons namibië toe gegaan en in die argiewe iewers in Windhoek verdwyn en later vir ons gesê hy het als wat hy kon kry oor Jonker Afrikaner gaan oplees. Hy was ook so wereld resiger en sy dors na kennis van als kon nooit geles word nie.
    Hy het so met oorgawe als gedoen dat hy meestal vergeet het om te bad.
    Hy leef darem nog. Dalk sal hy stort as Tibet vry is weer.
    Of is Tibet al vry?
    Wat gaan met die Olimpiese spele aan? Het dit nou al begin?
    Skies ek vergaan onder bederfde kinders wasgoed en take aways en ek het heel oggend probeer RSG luister, maar die musiek het my so laat skrik toe skakel ek classic fm toe toe speel hulle net straus walse toe het ek geen cd speler in die huis wat werk nie, so dis hoe my dae gaan en ek weet nie wat aangaan op die nuus nie.

  4. Beste CHRIS MAAR Dankie vir jou pragtige bespreking!!!
    Groete
    ANsoPHUE

  5. Dankie! Jy maak my bewus van boeke en skrywers wat ek nie eers ken nie.

  6. Ag nee man Chris, nou gaan ek alweer sak moet skud… hoop ek kan net kliek-kliek vir ‘n ding-dong en dan moet ek iewers tyd maak om te lees. Ek sal daarvan hou om al die boeke aan te skaf vir my boekrak. Miskien kry ek selfs die engelskind om dit te lees en te geniet…

  7. Ansophie, Kalahari is mos afgelei van Kgalagadi, ek weet nou nie uit watter taal dit kom nie, volgens Wikipedia: Kgalagadi means land of the thirst. http://en.wikipedia.org/wiki/Kgalagadi

  8. ek was altyd interested in hulle culture,boeke klink interessant….miskien vat ek n kans en lees.

  9. Kgalagadi
    Baie mooi, sal gou gan loer op Wiki.
    Groete,
    A-S

  10. […] hom daaroor argumenteer nie, ek stem saam met lg. stelling, ek het dit eintlik self genoem in my inskrywing oor Willem D. Kotze, in Kotze se woorde: “As kind het ek Hom daar tussen die duine […]

  11. Land of Thirst/ Dorsland. Nou wonder ek waar is die Dorsland nou weer? ook in daai omgewing? Die dorsland trekkers….

  12. Ag toe Chrisjan, vertel vir ons iets van die Dorslans Trekkers en ook iets van ou jonker Afrikaner?

  13. Het herman Charles Bosman nie ook daai verhaal geskryf van daai mense wat die baba uit die wa gegooi het nie… die dooie ou dingetjie toe hulle so getrek het deur daai dorsland deel… my koppie is nou baie deurmekaar…

  14. Ek het in die afgelope maand of twee die digbundeltjie Stemme uit die Kalahari tweedehands in die hande gekry, dis een van die boekies wat ek nou binnekort saam met verlof gaan vat. Meer onlangs het ek T’sats van die Kalahari by Die Boekehuis in Aucklandpark raakgeloop – die sit ek vir eers op die rak tot ek lus kry vir ‘n herlees van die hele reeks. Dit was so R120 en daar was nog een of twee oor.

  15. Hi, my naam is Monet Kotze. Ek is Willem D.Kotze se kleindogter.Ek sal beslis vir hom oor jou stuk vertel. Ek is seker dat hy vereer sal voel en dit baie waardeer dat jy so ‘n mooi blog oor sy boeke geskryf het. Baie dankie.


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: