…is bewyse, van die feit dat ek ook daar was, ‘n prentjiekommentaar wat my beaam. So sing Lucas Maree op sy trefferliedjie Kiekies oftewel “Kiekies in my plakboek” soos op die oorspronklike album.
Toe Lucas dit geskryf het was kiekies neem nog ‘n ernstige en duur affere. In die afgelope twee weke het ek die geleentheid gekry om plekke te besoek waarvan ek die meeste seker nie weer in my leeftyd sal sien nie. Op die oomblik sit en skryf ek op my skootrekenaar op ‘n trein van Milaan na Brescia. Gelukkig het dit relatief goedkoop geword om kiekies te neem en ek het – honderde van hulle. Ongelukkig is is primêr hier vir werk, maar ons kry darem op elke plek tyd vir ‘n paar kiekies.
‘n Paar maande terug het ek geskryf oor Laurika se CD ” ‘n Lekker verlang liedjie”. En met ons vlug van Wenen na Verona het ons so ‘n draai oor die Adriatiese see gemaak en ek het besef ek is nie ver van Trieste nie, een van my gunstelingliedjies daarop. Hier is ‘n stukkie van die woorde:
O skip wat in die nag verdwyn
stuur al my liefde vir Berlyn
en Lisabon en Boekarest
en se ook groete vir Trieste
o ek onthou weer ek onthou
die swartwoud en blou donau
klein hotel in badenfest
en dan is daar Trieste
my hart is altyd elders
wie weet waarnatoe op pad
oor Moembaai en Islamabad
van die een plek na die ander
soos na Sevilla en Santander
Ek wonder hoeveel treine
Van Napels af tot in Milaan
het ons doelbewus verpas
en op ons spore teruggegaan
Ek probeer twee tipies kiekies neem – eerstens natuurlik van geboue wat anders as ons lyk en besienswaardighede soos ou kastele, standbeelde en die Donau. Tweedens probeer ek ietsie vasvang van hoe mense leef in die plekke waar ek kom. Met laasgenoemde gaan die soms maar moeilik met kollegas wat haastig aanstap, maar nou-ja, tyd is altyd min. Nietemin het ek ‘n paar van die tipe foto geneem gekry wat vir my besonders is. Ek wil probeer om iemand te kry om van hulle in skilderye te omskep, so daarmee gaan ek maar my kaarte bietjie naby my bors speel. Van die eerste tipe foto sal ek julle vir nou so een van elke plek wys. Ek sal later probeer om ‘n groter versameling uit te soek en iewers op ‘n fotowerf op te laai. Vir nou sal ek probeer om iets van elke plek in een foto weer te gee.
Ons eerste stop was in Rennes, Frankryk, hoofstad van die provinsie Bretagne.
Ons tweede stop was in Nice. Hierdie foto is iewers by of in Antibes geneem.
Daarna is ons na Sint Niklaas naby Brussel in België. Hier is die beeld van Sint Niklaas op die stadsplein voor die katedraal.
Ons volgende afspraak was in Bratislava, Slowakië. Die foto toon die kasteel van die ander kant van die Donau. Ons hotel was aan dieselfde kant van die rivier as die kasteel en die ou stad. Die skone blou Donau lyk vir my groenerig! Ek kon die kasteel en die katedraal uit my kamervenster sien. Die ou stad is iets baie besonders om te sien.
Ons volgende vlug was nie van Bratislava nie, maar van Wenen. Die twee hoofstede is nie baie ver van mekaar nie en ons het per bus gegaan. Nadat ons ons bagasie ingeboek het, kon ons vir die namiddag Wenen besigtig. Ek was omtrent sewe jaar gelede vir ‘n aand daar en het onthou van die katedraal wat ek gesien het, maar nie die naam nie. Ek kon darem die St. Stephaskatedraal uitken as die een wat ek gesien het. Snaaks genoeg was daar toe gewerk aan hom en nou weer, mens wonder is dit “al weer” of “nog steeds”. Die middestad was egter vir my te besig – ek het die stadspark baie meer geniet, veral met beelde van bekende komponiste ens. Hier bo is die beel van Johann Strauss Jr, die komponis was seker die meeste met Wenen geassosieer word.
Ons vlug van Wenen was na Verona, vir ons afspraak in Brescia, Italië. Dis onmoontlik om Brescia in een foto saam te vat. Hier bo is opgrawings uit die tyd van die Romeinse ryk, wat darem ook tipiese geboue in die stad daarom wys. Op die koppie agter die uitgrawings is ook ‘n kasteel, ongelukkig nie sigbaar in die een foto nie. Brescia het ook ‘n ou stad met mooi ou geboue, maar hoofsaaklik ‘n baie mooi katedraal.
Môre vroeg neem ons ‘n taxi terug na Verona, ons het die hele dag om ons vlug na Parys (ja, dis baie moeite om terug in S.A. te kom!) omtrent 17:00 te haal. Hoop ek kry nog ‘n paar kiekies in Verona!
Ek is bly jy kon darem tyd ingeruim kry om foto’s te neem en ‘n inskrywing te maak. Ek brand om die res van jou foto’s ook te sien maar ons sal jou darem kans gee om eers uit te rus as jy terug in die land is! 😉
By: Reisiger on Vrydag 20 Junie 2008
at 7:20
Baie mooi kiekies!! Lekker naweek!!
By: meermin on Vrydag 20 Junie 2008
at 12:52
Lekker fotos! Ek was net voor Kersfees in Wenen en dit was regtig ‘n belewenis met al die liggies en markte.
By: netjane on Vrydag 20 Junie 2008
at 13:14
Ai Kop, ek beny jou! Ek sou graag die foto’s van die mense wou sien, hulle trek my meer aan as geboue 🙂
By: Sonkind on Vrydag 20 Junie 2008
at 14:12
Jy is bevoorreg!
By: boerinballingskap on Vrydag 20 Junie 2008
at 14:30
Ek is ook gek na kiekies. Ek hou van digitale foto’s maar ek neem die ander ook nog. Geboue bly lekker om af te neem, hoe ouer en hoe meer geskiedenis hoe beter.
By: rosalindfranklin on Vrydag 20 Junie 2008
at 21:29
hm dis mooi, ek dink an three gentlemen of verona…
die bratislawa plek klink beautiful
ek dink ons was ook by die St Stepahns Katedaraal in Wene.
aangename terugreis
By: ansophie on Saterdag 21 Junie 2008
at 12:40