Posted by: mykopop | Woensdag 14 Mei 2008

SONJA: meisie van Nigel – Carel F. Cronjé

sonja-voorblad

Eers wil ek sommer noem dat ek eers uitgevind het wie die outeur van die boek is nadat dit lankal in die huis was en ek dit opgetel het om te lees. Nou ja, nie elke persoonlikheid wat ‘n outobiografie werd is het noodwendig die skryfvernuf en/of die tyd of dit self te skryf nie. Dit pla my net bietjie dat die naam in ‘n skaduwee op die voorblad weggesteek is. Dis darem egter nie heeltemal asof iemand anders die boek geskryf het nie, sy het alles op band vertel en net iemand anders gevra om dit te skryf. Ek dink dit is ook ‘n eerste vir Carel, aangesien hy eintlik ‘n liedjieskrywer is. Hy maak dit nogal interessant deur baie van die hoofstukke in die derde persoon te begin vertel, so een insidentjie, en dan vat Sonja weer daar oor en vertel self.

Hoekom sal mens ‘n boek oor iemand soos Sonja Herholdt wil lees? Wel, musiekliefhebbers is maar altyd gretig om alles oor hulle helde te weet. In die opsig was ek miskien nie heeltemal die regte persoon om die boek te lees nie, omdat ek wel belang gestel het in haar beginjare met die Anton Goosen-materiaal, maar ek het nie haar musiek gevolg deur haar gospel-fase en dinge soos Reconstructing Alice nie. Ek het eers weer vir ‘n rukkie bygekom met ‘n Ritsel In Die Rietbos, waarvoor Anton weer vir haar liedjies geskryf het. Ek hou darem nog steeds daarvan om na haar te luister, soos in die Kerskonsert wat ons bygewoon het in November en waar ons ook die boek by haar gekoop het.

Behalwe om te dien as ‘n rekord van haar sangloopbaan vir haar bewonderaars, is daar ‘n ander sy aan die boek – ek haal ‘n stukkie aan uit die notas is die voorste flap: SONJA: meisie van Nigel is vir elke vrou wat net probeer oorleef in die besige, moeilike wêreld van ma-wees, beroepsvrou en vrouwees. En vir elke man wat wil verstaan wat ‘n vrou nodig het en beslis nié nodig het nie! Sonja werk ook deesdae as motiveringsspreker vir vroue, ek sien op haar webwerf sy het ‘n DVD ‘n Voetpad na Vrouwees.

Mens moet natuurlik nie ‘n storieboek verwag nie, daar is nie verskillende storielyne wat oorvleuel nie, dinge verloop taamlik lineêr van begin tot einde. Ek moet sê om deur al haar huweliksprobleme te kom het later vir my bietjie lank gevat.

Dan moet ek net byvoeg – dit is nogal heel toevallig – ek het onlangs Danie Niehaus se nuutste CD Fynskrif aangeskaf, al heelwat daarna geluister en sal miskien nog iets daaroor skryf, en baie van die liedjies daarop is deur Carel Cronjé en Cornell Boshoff geskryf. Dit is tot hulle wat sy haar later in haar loopbaan gewend het vir materiaal.

Ek wonder net of dit ‘n voordeel of nadeel is dat Carel die boek vir haar geskryf het, aan die een kant voel dit vir my asof daar minder klem as nodig gelê is op haar vroeë loopbaan met Anton Goosen as liedjieskrywer, en dalk te veel op die deel waarby hyself betrokke was, aan die ander kant is dit vir so ‘n boek ‘n voordeel dat hy haar so goed ken. Ek hou darem van sy idee om die mikrofoon wat hy destyds uit Duitsland bestel het ‘n naam te gee!

Daar uit haar beginjare, toe sy nog ‘n onderwyseres was, met Ek Verlang Na Jou pas besig om vir haar ‘n pad na roem oop te speel op die radiouitsendings, vertel sy van ‘n insidentjie wat my darem ‘n wow-oomblik besorg het. Een van die seuntjies by die skool het begin vermoed dis hulle juffrou wat so sing en haar gevra. Hy het dit as die “waai wind” liedjie beskryf.

O ja, hy is nogal duur – of was dit nou haar handtekening wat so duur was? Maar ek hoor hulle sê dis ‘n blitsverkoper.

sonja-voor-flapsonja-agter-flap


Responses

  1. Ek onthou ek was twaalf en het my eerste langspeelplaat gekoop…. Sonja! Ek het daardie plaat amper stukkend geluister en al die liedjies saamgesing.

    My oupa het agter die gordyne by een van haar konserte op Gobabis gewerk en het haar ‘n klug genoem – iets van sy “maak of sy sing saam met ‘n opname van haar stem” gebrom. Ek was vreeslik lief vir daardie Hollandse oupa van my (self ‘n musiekonderwyser) en het alles geglo wat hy gesê het. Ek het die plaat gebêre en nooit weer gesien nie.

    Sonja lyk goed. Ek kan nie sê dat ek as volwassene ooit van haar stem gehou het nie. Dat sy hard gewerk het, klippe gekou het en vandag besonders goed daar uitsien ten spyte van, is wel so. Ek dink nie ek gaan die boek lees nie.

  2. Dankie Chris

    Dis interessant al die Afrikaanse boeke wat jy bespreek. Ek self sukkel nog om in “Niggie” in te kom… verdwaal ‘n bietjie in die landskap, maar absoluut ontsaglik goed geskryf. Ingrid Winterbach se taalvernuf is asembenemend.

    Ek dink die uittreksel uit “Meisie van Nigel” wat ek in 2007 in Sarie gelees het, het gehandel oor haar aborsie. Dit het my geweldig aangegryp, want dit het vir my die stres van so ‘n loopbaan op die verhoog gewys. Half alles of niks… en die pyn wat sy nog na al die jare daaroor saamdra en ook oor haar mislukte huwelik, wat ek dink so goed is, dat sy daaroor geskryf het. Ek dink dit moes vir haar ontsaglik genesend gewees het om al die dinge te laat gaan… “when it’s out there, it floats,” hmm?

    Ek het ook gewonder wie Carel Cronj♪ is aangesien daar ook ‘n Carel Cronjé saam met my op skool was, Matriek, Menlopark 1978.

    Aangesien ek eers onlangs in ligte musiek begin belangstel het, ken ek nie eintlik Sonja se cd’s of loopbaan so goed nie, maar ek het haar een aand ook “Lofsang” of “Loflied”, haar eie toonsetting van ‘n Antjie Krog gedig, hoor sing en dit was vir my pragtig – uit die CD “Sonja” dink ek.

    So ja, ek wil graag haar CD en boek koop hier teen die einde van die jaar wanner ek weer tyd en geld het.

    Ek dink sy is ‘n voorbeeld, ‘n inspirasie en ‘n blessing. Long live Sonja!

    Groete,
    a.

  3. Dankie weereens dat jy my ingelig hou oor boeke in SA… jy weet wat ek vir jou wil se…😉

  4. Ek was laerskoolkind toe my eerste plaat teen ‘n lank-gespaarde R3.50 op die draaitafel geland het. Dis nou een ding wat ek tot vandag toe kon doen: ‘n plaat luister dat hy wobble, ‘n tape luister dat hy trek, en ‘n CD luister dat hy sug!

    Ek was gek oor Sonja, maar soos alle kids, dit ontgroei toe die tienerstadium en Roxette se ‘The Look’ oorgevat het, en later gelag as ek Sonja sien.

    Tot ons een aand, teen my sin, bygese, na ‘n show van haar gaan kyk het. En sy het agterna by ons tafel kom sit en gesels, en my stupid opinie van haar het verander. Net so.

    Maar ek het nognie die boek gelees nie. Ek sal seker nog. Eendag. Maar nou luister ek eers weer ‘ek verlang na jou’ met nostalgie en waardering!

  5. “Meisie van Nigel” is absoluut die moeite werd om te lees. ‘n Mens sit die boek neer en kyk met ‘n heel ander perspektief na Sonja Herholdt. Long live Sonja! – Jy bly en sal altyd ‘n inspirqasie vir menige wees.


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: