Posted by: mykopop | Sondag 4 Mei 2008

Al gaan ons deur donker dieptes

Ek het lank gewonder hierdie naweek of ek hierdie inskrywing moet maak, aangesien ek tot dusver nie my blog gebruik het om oor persoonlike lief en leed te skryf nie, en omdat ek eintlik ook stom geslaan was. Maar as konserte wat my in ekstase gehad het, musiek en gedigte waaroor ek liries kan raak genoeg rede was vir inskrywings, dan is hierdie seker ook.

Vrydagnamiddag laat was ek besig met my bouwerk in die kombuis, ek was amper klaar vir die dag en het reeds besluit ek het Saterdag ‘n afdag, toe ons jongste dogter ‘n selfoonoproep van een van haar vriendinne in die TV-kamer ontvang. Die kant van die gesprek wat ek gehoor het was kortliks: “Wat het gebeur, het hulle by die huis ingebreek… Ek weet nie hoe ek dit vir hulle gaan sê nie…”. Aan die einde van die gesprek moes my 17-jarige kind toe vir die eerste keer in haar lewe sulke nuus oordra: Douwe Bijkersma se ouers is albei vermoor.

Ons het later verneem dat ‘n versorger saam met hulle vermoor is, en Hettie se moeder is ook ernstig in die aanval beseer. Lees die berig hier in Beeld.

Ons het Douwe (jr.) die eerste keer leer ken in 1997 by die groentjiekonsert van Hoërskool Florida, toe ons self pas Gautenggroentjies was. Ons seun was saam met hom deur hulle hoërskooljare, ons het Douwe telkemale as solis saam met die Con Spirito-koor sien optree, later het ons seun self by die koor aangesluit en ons het ook gereeld Douwe se ouers by optredes gesien. Na hul skoolloopbaan is hulle RAU toe en was heeltyd deel van dieselfde vriendekring. (Die groep wat ons sitkamer gereëld in ‘n LAN-kamer omskep het!) Talle kere het Douwe by ons oorgeslaap of Matt by hulle. Deur die jare het ons ook talle konserte bygewoon waarin Douwe opgetree het, soos die Huiskonsert waaroor ek laasjaar September geskryf het. Ons het sy ouers nie so goed geken nie, maar omdat hulle dikwels vervoer gedeel het universiteit toe het ek ‘n paar aande in hulle huis gekom om vir Matt daar op te laai. Ek onthou dat Hettie altyd in die kombuis in haar rolstoel gesit het, en ek het een keer met Douwe (sr.) gepraat, uitgevra oor sy werk en so aan.

Soos ek gesê het, toe ek die skoknuus ontvang, was ek besig met bouwerk, ek het nog ‘n klompie nat dagha oorgehad, en die muurtjie wat ek aan die bou was, was net mooi op die hoogte waar ‘n vensterraam moes inkom. Dus moes ek maar aangaan, en na ‘n rukkie moes vroulief ook haar trane afdroog en kom help om die raam regop te hou.

Die res van die naweek was vir ons ‘n moeilike tyd, die donker weer wat ons op die oomblik ondervind het dit nie juis makliker gemaak nie. Ons het nog geen begrafnisreëlings ontvang nie, maar ons sal beslis probeer om daar te wees om ‘n laaste hulde te bring.

Ek wil vir Anneke, Jan, Hiltje en Douwe(jr.) van ons as gesin se innige meegevoel verseker en julle alle sterkte toewens en sê, ons weet julle is platgeslaan op die oomblik, maar ook vier sterk jong mense wat sal voortgaan om te doen dit waarop julle ouers trots op sou wees.

Lees ook die berig in Rapport, veral oor Anneke se positiewe uitkyk.

Hiermee wil ek dan ook hulde bring aan Douwe Bijkersma (sr.), ‘n opleier by ‘n tegniese kollege, die tipe man wat die Nuwe Suid-Afrika nie eintlik kon bekostig om te verloor nie, en Hettie, wat haar tyd vir liefdadigheidswerk gebruik het. Ek eer hulle gedagtenis.


Responses

  1. Wat se^ ‘n mens? Sterkte is so ‘n klein niksseggende woord vir die mense wat midde in hierdie situasie staan. Is daar enige iemand in ons land oor wat nog nie deur misdaad geraak is nie? Ek dink nie so nie.

    KoP, ons dink aan julle en ook aan daardie kinders wat hule ouers so verloor het. En ons bid vir krag vir hulle om sterk te staan.

  2. Vir die Bijkersma familie

    Net met innige innige simpatie vir julle ontsettende groot verlies. Alhoewel die lang tydperk van rou hartverskeurend moeilik is en so verskriklik hartseer, is dit as gelowiges so wonderlik vir my dat ten spyte van die tye van die grootste smart en verskrikking ons altyd ons hande kan ophef na bo.

    Mag Jesus se liefde julle omvou en mag die hemelinge hulle vlerke om julle toevou in krag en lig en liefde deur hierdie bitter tyd.

    Met baie liefde en meegevoel

    Annora

  3. Chris,

    Dis regtig te skokkend vir woorde..Wat kan mens sê..Ek is regtig jammer.

    Sterkte vir julle, en vir daardie mense wat nou moet opskraap en aangaan met hulle lewens.

  4. Ek het nie woorde nie.
    Innige simpatie aan al die betrokkenes.
    Hartseer nuus.
    Sterke

  5. Dit is so wreed!! Ek voel innig jammer vir hulle kinders. Baie sterkte!!

  6. Dis so verskriklik hartseer. Sterkte aan die familie en aan julle ook, dit kan sowaar nie maklik wees nie.

  7. Ai……Sterkte vir die Bijkersma-familie!
    Ek gaan nie veel verder skryf nie, want ek wil nie hierdie geleentheid gebruik om ‘n skreiende aanval op die RSA se onbeholpe regering te loods nie. Dis net so hartseer…

  8. Julle is in ons gedagtes. Ek gesêls vanoggend met ‘n vriendin en ons praat oor gebed. Wat bid mens as jy nie weet wat om te bid nie, dan bid jy in tale. Ek het nie woorde nie maar ek bid vir julle almal in tale.

  9. Ek het vanoggend hierdie pos gelees en na ‘n volle dag weet ek nog steeds nie wat om hieroor te sê nie MyKopOp. My meegevoel is met julle en Douwe en sy familie maar ek sal soos BiB myself weerhou van ‘n verdere renons.

  10. Sterkte aan die familie en vriende. Ons bly op die Wesrand en is geskok oor die wrede aanval, so naby

  11. Ai My Kop, dit is verskriklik. Baie sterkte vir julle. Meer kan ek nie sê as wat reeds gesê is nie.

  12. Ek is so jammer vir julle, asook die betrokke gesin se verlies. Baie sterkte.

  13. Dit is vreeslik! Mens het nie woorde nie! Dit maak so verdomp seer!

  14. Ek wil net vir almal baie dankie sê vir julle ondersteuning. Dit help geweldig baie! Ons het gisteraand ‘n boodskap gekry oor die begrafnis – dit is Maandag om 12:00 in Mosaiek.

  15. 😦 Sterkte vir julle almal

  16. BAIE sterkte! vir julle en vir die Bijkersma-familie. Dis skokkend! Wreed!, geen woorde kan dit beskryf nie. mens wil net vra, Waarom? kan mens nie meer “praat” oor dinge nie, waarom moet daar so wreedaardig opgetree word.

  17. Jinne, sulke stories maak nie net my lewe nie maar ook my werk baie swaar partykeer. Ek dink aan julle.

  18. Sterkte vir vandag….

  19. My hart huil😦

  20. Sterkte vir julle almal vir vandag…….dis baie hartseer!!!

  21. Baie dankie aan almal vir julle meelewing. Dit is almal se liefde, omgee en gebede wat ons dra.

    Liefde,
    Anneke Bijkersma


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: