Posted by: mykopop | Donderdag 1 Mei 2008

Opwenkrag (4) – Dankie Eskom!

So twee weke gelede het ek gesien Makro het herlaaibare buisliggies op hulle webwerf vir R179. Ek het toe ‘n draai gemaak, maar hulle het gesê hulle wag nog op voorraad. Wat dit dan op hulle webwerf soek sal geen mens weet nie. Ons maak toe die afgelope naweek weer daar ‘n draai, want ons was dringend op soek na beter beurtkragbeligting. En hulle het toe in voorraad. Vir net R149, al kan hulle net vir 3 ure lig gee, mens lees mos darem nie die volle 4 ure nie.

Ons laai toe twee van die liggies in die trollie. En ‘n LED-kopflitsie vir die dogter om mee huiswerk te doen – nog so R100. En net vir as al die battery nou pap is, ‘n gaslantern vir so R200 met en gaskannetjie vir so R16. Lui maar op. Net so oor die R600.

En toe kom Eskom gisteraand en sê nou is dit nie meer nodig vir beurtkrag nie! Baie dankie Eskom. Ek is so teleurgesteld. Ek dink ek sal maar aanhou om een keer ‘n week potjie te maak en meer die rekenaar afsit en baie lees.

Nou hoor ek oor die radio hulle se “daar is tekens dat munisipaliteite meer krag bespaar”. Is daar tekens of bespaar hulle meer? Is daar genoeg krag of is daar nie? Ek is so verstom ek kan nie nog ‘n limeriek uitdink nie, so lees maar weer Ons Es Kommin!

***

Laas week kom ons agter daar drup water teen die muur af waar die geyser se oorlooppypie in die geut gedruk is. Daar het onlangs ‘n boompie in die geur begin groei, so ek dink toe eers miskien maak dit op ‘n manier dat die geut oorloop. By nadere inspeksie kom ek toe agter daar is ‘n pan onder die geyser met ‘n ander uitlooppyp. Die geyser lek. Net ‘n week of twee nadat Rosalindfranklin berig het – Tik Tik! ‘n binnenshuise swembad.

Ons grawe toe die papiere uit van die vorige geyservervanging: September 2003. Vyf jaar waarborg. Ons laat weet toe die bank se versekering. R500 bybetaling, sê hulle en wys ‘n loodgieter aan. Die loodgieters kom toe Vrydag uit en sê nee, dit was net ‘n “nut”, hulle het dit reggemaak. Verniet.

Maar ons het vergeet die geyser was toe af. Vrydagaand lek hy weer. Bel toe maar weer die loodgieter Dinsdag. Later daag hulle twee manne hier op. Ek besluit toe ek sal maar Afrikaans probeer praat en hulle praat darem Afrikaans terug. Kom hulle toe later uit die dak uit – nee, die geyser is kapoet, nou sal iemand anders hom kom vervang. “Nou moet ek dan die R500 betaal?” “Nee”, sê die man, “hy’s nog onder gaurantee – julle hoef nie f*kkol te betaal nie!”

Niemand het toe later Dinsdag opgedaag nie, maar net toe ek Woensdag teen 11-uur bekommerd raak en weer die loodgieter bel, daag hier ‘n donkerblou paneelwa van Kwikot op. Na seker ‘n uur en ‘n half het ons ‘n nuwe geyser, en dit kos my net ‘n handtekening. As jy ‘n nuwe geyser kry, maak maar seker dat hulle ‘n pan onder hom installeer. En hou die papiere!


Responses

  1. Mykopop, ek weet ook nou nie meer nie, dan is daar krag, dan is daar nie krag. Nou is daar weer krag…..hoe nou? Klink dit deurmekaar, dit is deurmekaar. 🙂 Intussen het mens al hierdie uitgawes aangegaan. Maar mens moet ook nie te gerus word nie, hier verander omstandighede daagliks. Hierdie is ‘n unieke land! 😆

  2. En vandag lees ek in Die Burger dat Eskom nou skielik aangekondig het dis die einde van beurtkrag, net nadat die Kaapse Stadsraad glo gesê het daar gaan nog meer kragonderbrekings wees. Ek is nou ook al so deurmekaar soos ‘n verkleurmannetjie op ‘n Smartieboks!

  3. Ek vir een mens verlang al klaar na die beurtkrag. Dit was ‘n ‘surefire’ manier om my kinders in die aand 8 uur in die bed te kry. Teen 20h30 het hulle geslaap en ek en Mynick het jou werklik nog ‘n uur of wat van mekaar se geselskap gehad. Dat ‘n mens nou so ‘n onding kan mis. 🙄

  4. Ek hoop vir julle part dis die einde! Sterkte weereens!

  5. Hene Kop, hierdie vervlakste Eskom moet nou hulle mind begin opmaak wat hulle wil doen. Boonop was hier ‘n brand by ‘n substasie en sommige mense in Kempton was vir 6 dae sonder krag! Ons was gelukkig om net vir 6 ure sonder krag te wees. Ek het al gesien hoe vat ek al my vuil wasgoed saam op vakansie om daar te gaan was!! Vandag kom ons terug van die Suidkus af, en ek slaan laasweek se koerantjie (gelukkig betyds oop)en wat sal ek lees: Die grootste gedeelte van Kempton is more sonder water vanaf 05:00 tot 22:00!! Die rede: een of ander hoofwaterpyp moet gekonnekteer word deur Bombela wat verantwoordelik is vir die bou van die Gautrein. Kan die mense nie bietjie net ‘n dag of twee gewag het nie?? Daar’s baie mense wat vandag terugkom van ‘n lannnnnnnng naweek af en almal het vuil wasgoed. Ek kan ook nie ‘n limeriek uitdink nie, maar ek het al rympies opgesê vandag!! 😉

    O, en so tussen hakies, daar is ook ‘n volledige rooster in die koerant want kliënte spaar nog nie genoegsaam krag nie! So hét ons nou “load shedding” of het ons nie? Sal maar moet wag tot Dinsdag om te sien!

    As Haas Das vanaand die weerberig sou lees, sou dit dalk gelui het: buite sal dit more nat wees, maar binne sal dit droog wees!😆

  6. Kop, ja die hele buertkrag ding is om die minste te sê ‘n vreemde besigheid. Ek wis nie wat hulle doen nie maar ek vermoed HULLE ook NIE !!


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: