Posted by: mykopop | Maandag 21 April 2008

Annelie Botes – Sabbatsreis

sabbatsreis-agter

Gewoonlik as ek oor ‘n boek skryf, sit ek die voorblad eerste en die agterblad laaste. Dis nie om dowe neute dat ek die agterblad van hierdie boek eerste sit nie. Sabbatsreis is ‘n outobiografiese boek wat ‘n blik op die siel van die vrou Annelie Botes bied – die foto op die agterblad vir my op ‘n manier ook.

 

 

 

 

 

 

Nadat ek Susan Coetzer se Oros vir die Siel gelees en iets daaroor geskryf het, moet ek al begin versigtig wees dat daar nie met my gespot word oor my gelesery van vroueboeke nie! Maar net soos dit gebeur het dat ek ‘n uittreksel uit daardie boek gelees het, het dit gebeur dat ek toevallig ietsie van hierdie boek te hore gekom het. Laasjaar hier by Augustus rond is ek eendag Pretoria toe vir ‘n vergadering. Ek kom toe aan die oostekant uit en sit vir omtrent ‘n uur net daar in die verkeer vas. Toe is daar ‘n boekvoorlesing op RSG – uit hierdie boek. Ook net mooi die gedeelte wat sou maak dat ek die boek binne die volgende jaar sou wou lees. Iets daaroor dat sy Dalene Matthee geken het toe sy ‘n kind was. Iets oor wat Dalene Matthee haar vertel het van die ouderdom 49, iets van ‘n sewemaal-som. ‘n Ouderdom wat ek omtrent twee maande later sou bereik.

Die boek begin waar sy op pad London toe is om te gaan probeer geld bymekaar kry om haar kinders terug te betaal vir geleende geld wat sy by ‘n Casino en op buitelandse valuta weggedobbel het. Maar eintlik is sy op pad om daar van ‘n brug te gaan afspring. Die hoeveelheid hartseer in haar lewe is eenvoudig ongelooflik. In die voorlesing op die radio was ook ‘n vertelling hoe sy in standerd 7 by ‘n huis gaan help het met koorgoed, ander kinders wat nie opgedaag het nie, dat sy nooit weer in haar lewe op ‘n blou beddeken wil lê nie en walg van ‘n man met ‘n wynasem. ‘n Stukkie van haar hartseer speel sy uit in die Noordkaapse dorpie Olifantshoek, nog altyd vir my ‘n dierbare plekkie, so 65 km van Kathu waar ons vir 7 jaar gewoon het, maar so ‘n jaar en ‘n half nadat ons uit Kathu weg is.

Die boek is darem nie net ‘n gewroeg met al die ongeluk nie, daar is ook humor, soos waar sy vertel van die keer toe sy en haar man besluit het om voor die kerk te gaan sit en kettingrook om sodoende sonder rooklus deur die diens te kan kom, ja, ek sal dit liewer nie oorvertel nie!

In London kry sy darem toe betyds, voor sy van ‘n brug afspring, werk as carer vir ‘n verswakte bejaarde dame. Die versorg sy soos haar eie ma, sy knoop ‘n besonderse vriendskap aan met Luke, die pasgetroude man van haar neurotiese werkgeefster, Clare. Van die kostelikste in die boek is hoe sy Luke, ‘n Amerikaner, leer om bietjie Afrikaans te praat. (Ja, ek was self binne ‘n halfuur nadat ek op my eerste oorsese reis in San Fransisco geland het besig om die taxibestuurder in Afrikaans te leer sê: My pen is in my hand, en My hand is in warm water!)

Deur die verloop van die boek vind mens uit dat die seer van haar verhaal al eintlik voor haar eie geboorte begin. Ondanks al die seer lewe daar ‘n hoop in haar wat nooit verflou nie. Sy sluit die boek vir my af op ‘n oulike manier, so asof -alhoewel sy haarself so ontbloot het – sy darem ook nie alles weggee nie!

sabbatsreis-voor

 

Wat ookal Dalene Matthee gehad het, dink ek het afgegee, want ek dink beslis deur Annelie Botes se kontak met haar het iets van Dalene Matthee aan haar afgegee. Dalene Matthee het vir haar die sewemaalsom so verduidelik: Wat die sprinkane nou by jou vreet, word Iewers met sewe gemaal en vir jou teruggegee. En as jy die sprinkaan is wat vreet, word dit ook Iewers met sewe gemaal en by jou afgetrek.


Responses

  1. Mooi Chris

    Ek onthou nounet , dit is die boek wat my middelste sussie my van vertel het. Sy ken vir Annelie Botes en het al met haar gekorrespondeer oor Raaiselkind. Ek sal graag hierdie vir haar stuur en hoor wat sy sê… dit is dus toe die boek wat onder meer oor haar dobbelverslawing gaan.

    Ja so reis almal maar rond en kom terug … al hoe nader aan die grond.

    Mooi voorblad.

    Dankie
    Annora.

  2. Gits Kop, hoekom wil jy iemand leer om te sê “my pen is in my hand, en my hand is in warm water” ? Ek dink aan al die goete wat ek al oor die wêreld vir taxibestuurders gesê as hulle my vra om iets in Afrikaans te sê maar hierdie is definitief nie een van dit nie. Ek hoor graag jou denkwyse agter so idee. Dit klink vir my na lekker laterale denke of ten minste ‘n goeie storie. Miskien kan jy daaroor skryf in jou volgende boek ? Lees ook ‘n bietjie op Sonkind se blog oor linker en regterbreine, sonkind.wordpress.com

  3. Ek gaan definitief hierdie boek koop!

  4. Vreemd dat jy nou hieroor skryf en dis die boek wat ek begin lees het op die vliegtuig verlede week oppad Johannesburg toe. Met al die dinge het ek nog nie weer verder gaan lees nie, eintlik het ek niks gelees die laaste tyd nie en so half die boek vergete laat lê. Nou gaan ek dit klaar lees. Dankie KoP!

  5. @Leon, nee gits ek weet nie nou meer hoekom nie, dit was in 1997! Die enigste twee frases wat ek ken wat mens dieselfde spel in Afrikaans en Engels, al beteken “warm” nie presies dieselfde nie. Ek dink nie ek het daarmee geaspireer tot enigiets anders as pret nie.

    @Sonkind – geniet dit, en ek het ‘n ander boek vir jou waaroor ons lank terug gesels het.

  6. Ek het ook eendag toevallig die boekvoorlesing op RSG gehoor en omdat ek ‘n “Vriendin van die Biblioteek” is, het ek onlangs die voorreg gehad om 2 boeke te kon uitneem uit ‘n versameling van nuwe boeke wat hulle aangekoop het. Ek lees meeste van die tyd net Engelse boeke, maar toe ek Sabbatsreis tussen die boeke opmerk, het ek dadelik geweet ek wil hom uitneem. Ek het ook gehou van die wyse hoe Annelie haar verlede deurlopend laat aansluit by die hede.

  7. Sjoe dit is mooi gaan vir my ook hierdie boek soek!

  8. Jy moet bietjie op hou om Afrikaanse boeke te blog…jy maak my net vrek jaloers!!😉

  9. Kop, as jy die boek geniet het, gaan neem vir jou Klawervier van haar uit. Jy het nog nie so ‘n mooi boek gelees nie!

  10. Sabbatsreis
    Annelie Botes, kind van die Kammanassie

    Hierdie outobiografiese boek was nogal ontstellend vir my om te lees. Daar is ’n paar dinge waaroor sy skryf waaroor ek aanhou tob het vir twee weke nadat ek die boek klaargemaak het. Eerstens haar aborsie en die boom langs die pad waar sy met ’n bebloede handdoek tussen haar bene gesit het. So iets is genoeg seker om ’n vrou ewig skade te berokken en dit is werklik tragies.

    Die ander dingetjie was tydens haar koshuisjare as laerskoolkind en hoe sy haar in die veld moes afvee met graspolle en blare omdat sy nie toiletpapier gehad het nie. Sy het toe ’n brand juk uitslag gekry en is boonop betigtig daaroor deur die juffrou en hoof en ook haar ma oor haar gekrappery. Dis vir my ook vreeslik hartseer en iets wat ’n blywende letsel op ’n mens se psige kan los.

    Ek onthou vir hoeveel dekades na ek uit die laerskool is, ek gedroom het van die toilette daar in die kleedkamer wat verstop het en oorvloei het en die nat toestande en kettings en stink dinge. Veral oor ek gereeld prefektediens daar moes doen in standerd vyf.

    Gelukkig is badkamers by skole beter deesdae, maar ek dink steeds hulle behoort meer te begroot vir skoon en gerieflik kleedkamers vir kinders. Vir almal.

    My vier dogtertjies se privaat Engelse dogterskool se badkamers is iets om oor liries te raak. Wit en skoon en handoekies en sepies en geen geskrywery van vuil en verwonde gedagtes agterop die deure nie.

    Laastens die skryfster se goeie versorging van die ou bedlêende dame in Engeland. Hoe erg dit vir haar was en hoe sy ontvlug het na die bos agter die huis en haar eie tuinwêreld daar geskep het.

    Sabbat. Sondag. Skuldgevoelens. Bieg. Boetedoening. Reis. Werk. Vergifnis. Vrede?

    Wel, in elk geval meer vredevol…

    ‘n Baie boeiende boek.

    Dankie Kop,
    My Gmail is nou geblok, ai.
    Goeie aand!
    Ons gaan bietjie musiek luister vanaand.
    Groete A.s

  11. Ek lees selde afrikaans, maar ek sal uit my pad uit gaan vir ‘n Annelie Botes boek. Van haar boeke tot koerant stories. Ek was bevoorreg genoeg om haar te ontmoet. Ek kan nie wag tot Thula-Thula later die jaar uitkom nie. Ek vermoed dit gaan ‘n ietwat donker boek wees, maar is seker Annelie Botes sal nie teleurstel nie.

    Ansophie….. Ek is nie seker wat Annelie Botes se boeke met jou dogters se privaatskool en handdoekies en sepies te doen het nie??? OF dat enige Annelie Botes aanhanger wil weet of jy vannaand na musiek gaan luister of nie. Dis klink na iets wat jy eerder in ‘n ‘jaarlikse Van Wyk nuusbrief’ moet sit???? Tyd en ‘n plek as jy my vra.

  12. My neighbour Isabel recommended Sabbatsreis because she was reminded of my life’s experiences when reading the book.

    Even though I don’t often read Afrikaans, I was enthralled from page one and couldn’t put the darn thing down. Every sentence seemed to have it’s own story. Although I have never met Annelie Botes, I see her as a daring, caring, honest, lovable, infuriating non-confirmist, a real “mensch” who has the courage to call it what it is. Maybe one day I will have the opportunity to sit under a tree with her a learn from her.

    I am so looking forward to reading her other books.

  13. […] Annelie Botes se Sabbatsreis […]


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: