Posted by: mykopop | Dinsdag 18 Maart 2008

‘n Moerse Sa!

Oompie parkeer sy donkiekar
daar by die padstal van meneer Pahar
vir ‘n ligte lekker padkoshappie
en bietjie negosie en vir hom en Ta’ Flappie.

Oompie hou daar op sy ryding –
want ‘n donkie is ‘n lui ding,
altyd ‘n bottel terpentyn ter hand
net vir die swaar trek teen die rant.

Vandag laat Oompie die kwas se punt
bietjie diepte in daardie bottel vind
met die trekdiere daad’lik aan die brand
kom Tante en Wagter in die stof te land

Die tante hardloop en sy skree
die oom is rustig, hy skree mee
hier is die bottel my ou blom
jy weet mos hoe – smeer aan en kôôôôôôôôôm!

Die padkos val ook tussen die tamboekies
soke driehoek foelie-kerrie-koekies
en wagter wat nou agter bly
dink hier gaan hy vandag honger kry

Ou Wagter kry die padkos beet
dis warmbrand maar hy vreet en vreet
Hy hurk toe daar ver agter die wa
en kry sy lewe se grootste “Sa!”

© 2008 Chris van der Westhuizen (https://mykopop.wordpress.com)


Kategorieë

%d bloggers like this: