Posted by: mykopop | Dinsdag 11 Maart 2008

Dirk Der Duisende

D.J. Opperman (1914-1985) Skildery deur Philip Terblanche, www.stellenboschwriters.com

Ek kry onlangs die volgende gedig op Litnet te lees – Brief aan Breyten deur André Kotzé:

Geagte Meester,

Vroeër het toegwyde onnies en dosente
dit reggekry om fans te maak
van lui matrieks en letterestudente –
fans vir Eybers, Krige en die Louws
en selfs ’n koue Opperman.

Die res van die gedig maar daar gelaat, lees dit self by http://www.oulitnet.co.za/poesie/kotze06.asp. Die “koue Opperman” het my egter so gepla dat die res van die gedig my eintlik verbygegaan het. Ek ken nou nie eintlik D.J. Opperman se gedigte so goed dat ek onmiddelik kon sê ek stem nie saam met die beskrywing van hom nie. Dus het ek besluit om ‘n bietjie deur sy versamelde poësie te blaai. Ek het dit nou nie alles gelees nie, net so geloerlees, en op ‘n paar mooies afgekom. Myne is die eerste uitgawe, 1987, die bladsynommers wat ek tussen hakies gee verwys na daardie uitgawe.

OOR DIE LIEFDE

Bouquet (bl. 20)

Ek stuur aan jou
‘n ruiker rose
in fyn papier gevou;

dit gee aan my ‘n eindelose
kalm gevoel;

want na gisteraand voel ek miskien
sal jy my nie vandag wil sien

Ek stuur aan jou
die vlekkelose
half-oop rose

Voorwinter (bl. 22)

Ek mis jou losgestorte hare teen
my hals in hierdie kwynende seisoen;
ek weet vereensaam in die nag alleen
hoeveel ek nog vertrouelik wou doen.

As strakgespanne palmvingers tril
en borne nie meer blad of bloeisel dra,
maar alles kaal word en die nagte kil
dan brand in my die rooi poinsettia.

Mont-aux-Sources (bl. 91)

Ons eerste liefde was
‘n wit galop van hingste
kniediep deur die gras:
ontdekkings, avonture
in die grot te, ‘n geil slaap
in holtes langs rooi vure.
Nou starend van die koue krans
voed een bron ons vergesigte –
‘n hoër vreugde, dieper angs.

Mohammed aan Ajesja (bl. 170)

Jy vra ek moet na jou jong borste kyk
en voel hoe vas en plooiloos soos ‘n duif
se krop hul span, en julle vergelyk.
Ja, ek proe snags die soetheid van die druif
in jou en al jou wysheid in ‘n tent
tussen die wind en my; maar in verre
jare toe ek eensaam was en onbekend
onder miljoene wat nou volg, en sterre
met die waarheid inflikker op my oë
maar ek nog skaam was vir my woord, het sy
eerste en jare lank alleen geglo
dat ek geroepe is . . . To, hoe kan jy,
nog nie gerimpel of geryp deur pyn,
ooit weet die soetste druif is half rosyn.

Poërotica (bl. 289)

O lessenaar van jou lyf
my klein inkput
waaruit ek skryf.

Naskrif (214)

Wanneer jy hierdie laaste brief
agter die duin gelees het, lief,

skeur en skeur dit in niks minders
as ‘n duisend spikkelvlinders

wat wegdwarrelend op die wind
in die see hul einde vind,

want oor die vlaktes tussen ons
is al ons drome disseldons.

Nou het ek alreeds te veel aangehaal, ek hoop nie ek word vervolg nie! Hier is die bladsynommers van nog ‘n paar liefdesgedigte as dit is wat jy soek!

Drif (27)
Sproeireën (164)
Wildeals (165)
My appelliefie van Inchanga (349)

DIRK MET HUMOR

Psigiater (bl. 291)

Kees, maak heel my gees.
Goed, Mevrou, ek kan genees.

Kees, maak jy dit sterk?
Ja, Mevrou, dis randse werk.

Kees, is my gees al klaar .
Ja, Mevrou, betaal my maar.

Kees, ek het nie geld by my nie.
Dan kan jy jou gees nie kry nie.

Nag, Kees.
Kom, Mevrou …minus vrees.

My visj (bl. 371)

ek sjê: ek sjit vyf minute
en ek vang vyf visje
vyf visje in vyf minute
dusj vyf en twintig visje
per minuut
dusj maal vyf
isj honderd vyf en twintig visje
ek sjê vir U-en-Djy
en hulle voed die skare
met honderd duisjend visje
ek sjê: ek vang vyf pisje

DIE DIEPER WARMTE

Klara Majola (bl. 154)

Klara Majola wou haar vader
toe die skemer sak, gaan haal
waar hy, die blinde, hout vergader;
maar Klara Majola het verdwaal.

Klein Klara Majola lê verkluim
in die Bokkeveld se bros kapok,
haar arms en bene bruin
en kromgetrek soos wingerdstok.

Klara Majola, die koue geweld
sif stadiger oor my uit die ruim,
maar nooit sal ek in die Bokkeveld
so warm, Klara Majola, soos jy verkluim.

Ek het gelees dat Opperman die gedig na aanleiding van ‘n koerantberig oor ‘n ware gebeurtenis geskryf het, en dat Boerneef ook ‘n storie daaroor geskryf het. Verstaan ek die laaste twee versreëls reg? Bedoel hy dat hy met ‘n hart so warm soos hare nooit sou verkluim het nie?

Nou vra ek julle: ‘n koue Opperman?

Hoekom sing Anton Goosen dan in een van sy mooiste liedjies, Jy’s ‘n Lady:

van gogh is in jou hare, michaelangelo in jou wange, en breyten en opperman op jou lippe“?

NOG MOOI OF INTERESSANTE GEDIGTE

Digter (99)
Kersliedjie (195) [ Drie outas het in die haai Karoo, die ster gesien en die engel geglo ]
NAMAKWALAND (199)
Ballade van die grysland (85)
Clat boek (216) [ Ek is besig om Jeanette Ferreira se boek oor Louis Trichardt se dagboek te lees.]
Edms. Bpk. (313)
Te klip om te boom (316)
Dirk der Duisende (364)
Gereedskapgesels lei tot omhels (416)


Responses

  1. Shoe! Ek ken ook nie Opperman nie, maar sal bietjie in my sus se biblioteek gaan rondsnuffel. Ek wou nog altyd Komas uit ‘n Bamboestok lees (Ek dink dis Opperman). Ek onthou lank terug het die boek vir maande en maande op my pa se lessenaar gelê, waaruit hy dus gelees en Opperman bestudeer het. Die boek was later vol koffie berker vlekke. My sus die bibliotekaris, behoort dus nog die boek te hê.

  2. Sy gedigte is vir my baie mooi, baie mense het natuurlik by hom klas gehad, by van die ander digters ook. As mens het ek hom natuurlik nie geken nie, maar die gedigte is nie vir my koud nie.

  3. Al wat ek van hom goed onthou is die gediggie van:

    ‘My nooi is in ‘n nartjie, my ouma in kaneel, daar’s iemand in anys, daar’s ‘n vrou in elke geur…’

    Kan nie meer lekker onthou, maar toe ek Sonkind se inskrywing oor “Verlange” gelees het, het ek nogal aan die gediggie gedink.

    http://sonkind.wordpress.com/2008/03/13/verlange/

  4. Opperman was een van my gunstelinge…sal nog steeds wees! Dankie, baie mooi!! o ja, jy’s ook getag…sien my bloginskrywing oor “Technology”… sterkte!

  5. Opperman is die Grootste

  6. Ek verstaan die laaste twee reëls van Klara Majola anders as jy. Die gebruik van “ek” is bloot om dmv vergelyking aan te dui hóé “warm” Klara verkluim het, maw die oorsaak daarvan was ‘n edele daad – die soek na haar blinde vader.

  7. Hendrik, met “‘n hart so warm soos hare” het ek ook maar verwys na die gesindheid van haar om alles feil te hê vir iemand anders, die oorsprong van die edele daad. Dalk verstaan ons dit maar dieselfde?

  8. Baie dankie vir die link en die gedig van Mount Aux Sources…ek was 15 en het met ‘n skoolgroep en ons kuns-onnie (Johan vd Watt – weet nie of jy al van hom gehoor het nie – hy skryf liedjies (en het ‘n pragtige stem gehad!)daardie kettinglere uitgeklim tot bo! wat ‘n belewenis en uitsig! Ek gaan sommer nou MAS op my blog plaas! Ek’s gek oor Opperman, jy’t my inskrywing oor hom gesien, jy kan my “antwoord” op Draaikewers op my blog lees🙂


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: