Posted by: mykopop | Saterdag 16 Februarie 2008

Draaitafel Droefheid (2)

In my eerste Draaitafel Droefheid inskrywing het ek vertel hoe ek my draaitafel weer aan die gang gekry het en aan my rekenaar gekoppel het. Om op te som, koppel jou draaitafel aan die klankversterker, koppel die klankversterker se “Tape Out” na die “Line In” op jou klankkaart, dis die blou konnektor. Nou gaan jy so verder

Kies die regte inset

Maak die Windows volumebeheerprogram oop. Ek gebruik Windows 2000, so joune mag anders lyk – dit mag selfs een wees wat saam met jou klankkaart kom Die beginsels bly dieselfde. Myne lyk so:

Mixer Playback

Let op dat jy die mikrofooninset moet “mute”. Kliek nou Options, Properties en kies “Recording”, dan kry jy die volgende venster:

Mixer Record

Kliek op “Select” onder “Line In”.

Kry dbPowerAmp Music Converter

Ek gebruik dbPowerAmp Music Converter om die klank op my rekenaar op te neem. Ongelukkig is die weergawe wat ek gebruik ‘n ou een, en hy wil ook nie vir my sê wat sy weergawenommer is nie. Probeer maar die nuwe een by http://www.dbpoweramp.com. As die nuwe een nie wil werk nie, kan ek vir jou ‘n ou weergawe laat kry. Jy kan ook ander programme gebruik, bv Audacity. Die deel wat jy moet gebruik is die dMC Auxiliary input. Hardloop hom, en hy behoort so te lyk:

DMC Aux Input

Maak reg om op te neem

Kliek op die knoppie “Test Recording Level”. Dan kry jy die VU-meter soos hier onder.

DMC Aux Input Vu Meter

Nou moet jy die plaat speel, en hopelik sien jy die klankpeil as ‘n groen stafie wat langer en korter fluktueer. Bring nou weer die volumebeheer (nog steeds op Recording) ook vorentoe en stel die Line Input sodat die peil so duskant daardie “Optimal” merkie rondspeel. Jy beter maar ‘n hele paar snitte speel en seker maak dat dit nie verby daardie merkie skiet nie. My ondervinding is dat dit nie noodwendig die musiek is wat vir jou die hardste klink wat dit hoog laat opskiet nie, miskien eerder die wat “meer intens” klink. As die peil te hoog is, kry jy vervorming (“distortion”). As dit weer te laag is, is die geruis meer hoorbaar – tegnies gesproke is die sein-tot-geruis verhouding dan te laag. As jy tevrede is, kliek dan op “End Test”.

Neem ‘n hele kant van ‘n langspeler op

Al wat oorbly is om die formaat te stel en te sê waar op jou hardeskyf jy dit wil stoor. Sien jy regs van die “Record” knoppie van dMC so ‘n klein af-pyltjie? Kliek hom. Jy kry ‘n popup-menu – kies Record (with Options).

DMC Aux Input Rec with Options

Nou kry jy die volgende venster:

DMC Aux Input Options

Kies wave. In die geval van plate is dit beter om wave te kies, omdat jy miskien nog wil werk daaraan, en jy wil dit ook seker met die hoogste kwaliteit op ‘n CD skryf. CD-R’e is goedkoop deesdae, so jy kan selfs die oorspronklike opnames op CD stoor voor jy daaraan begin werk.

Maak seker jy kies 16-bit en 2’Stereo (CD). Kliek op Browse en kies die plek waar jy dit wil stoor, jy behoort ook langs die pad ‘n “directory” te kan skep as dit niet bestaan nie. Maak net seker daar’s nie alreeds ‘n – Track 01 in die “directory” nie. As jy alles reg het, kliek “convert”. Nou kry jy die volgende twee venstertjies.

DMC Aux Input Record Button

Sit nou die naald op die begin van die plaat en kliek onmiddelik die “Record” knoppie met die rooi kolletjie. Jy kan selfs begin opneem voor jy die naald neersit, jy gaan dit later wegsny. Gebruik nou liefs Windows Explorer om te kyk dat die lêer – Track 01.wav wel besig is om te groei.

Wanneer die plaat klaar is kliek weer die “Record” knoppie. Die “Finished” knoppie op die ander venster sal dan verskyn, kliek dit om toe te maak.

Belangrik: Gaan verander die naam van – Track 01, bv, na “Kant 1”, want as jy die tweede kant opneem, wil jy nie per ongeluk oor die eerste een opneem nie.

Kyk of dit reg lyk

Gebruik nou Audacity (http://audacity.sourceforge.net/) om die lêer oop te maak. Die grafiek van die klank behoort omtrent so te lyk:

Side1

Hier het ek die eerste kant van plaat 1 van The Bee Gees se dubbellangspeler Don’t Forget To Remember opgeneem. Jy behoort duidelik te kan sien dat daar 7 snitte is. As jy mooi kyk, kan jy selfs ‘n paar “clicks” raaksien. As jy wou, kon jy die opsie gesoek het in dMC om vir hom te sê jy wil 7 snitte opneem. Dan moet jy reg sit om elke keer die “Record” knoppie te druk om te stop, en weer om die volgende snit te begin. Jy kan selfs kies dat dit self oorgaan na die volgende snit, as die peil onder ‘n sekere waarde daal. My ondervinding is, dit werk nie. Daarom verkies ek om die hele kant op te neem. Volgende keer vertel ek jou hoe om te snitte van mekaar te skei met Audacity en ook hoe om die ergste “clicks” te verwyder.

‘n Paar slaggate

  • As jou rekenaar se luidsprekers (of die van die hoëtroustel) op dieselfde kas of lessenaar as die draaitafel staan, maak seker dis sag gestel. Die “kop” van die platespeler is nie veel anders as ‘n mikrofoon nie en jy kan ‘n ongewenste terugvoer (amper soos ‘n kringfluit) kry.
  • Maak seker die klankversterker is aan.
  • Maak seker dat jy die platespeler-inset op die klankversterker kies.
  • Maak seker jy het genoeg hardeskyfspasie as jy “wav” lêers wil opneem. Hierdie kant was amper 250 MByte groot. Aangesien daar vier kante is gaan dit omtrent ‘n Gigabyte wees vir die vier kante, en dan nog ‘n Gigabyte vir die aparte snitte. Ek hou die oorspronklikes onveranderd tot ek die kopieë klaar verwerk het en tevrede is daarmee.

Liedjie vir vandag

bee-gees

The Bee Gees – Don’t Forget to Remember me – Kliek hier!

 


Responses

  1. Jinne Mypop, dis nogal gaaf van jou om die goed so vir almal stap-vir-stap te plaas. Ek glo nie ek sal dit ooit self gebruik nie, maar baie dankie! Jy doen werklik baie moeite om ander te help.

    En ai,dankie vir hierdie liedjie van Bee Gees. ‘Don’t forget to remember me’ was my heel eerste ‘seven single’, ek en ‘n vriendin het hom nog saam gekoop. Een week was hy by haar huis en die volgende by my. Hehe (ek gaan hom dadelik op my blog stoor – dankie)

  2. dankie vd inloer na my gedigte elke dan en wan, ek lees ook nou en dan ietsie interessants hierso raak🙂 lekker blog!

  3. Dankie wag-‘n-bietjie, weet jy as ek een ou kan help wat ‘n kas vol ou plate het wat hy graag nog vir ‘n klompie jare wil beluister, dan is dit vir my lekker! Die ander ding is natuurlik die oorspronklike doel van ‘n “weblog”: om goed wat jy uitgefigure het vir jouself te dokumenteer, want mens vergeet soms hoe jy iets reggekry het.

    Dankie vir jou kuier, Hilda, met Bloglines weet ek gelukkig gou as jy weer ietsie geskryf het. Ek het “Lot van die romantikus” baie geniet!


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: