Posted by: mykopop | Woensdag 6 Februarie 2008

Fortunate Fogerty

Ek het die voorreg gehad om vanaf 1972 tot 1976 in ‘n koshuis te bly. Musiek het daar ‘n groot rol gespeel. Ek onthou nog hoe ek as ‘roof’ een van die matrieks se kamer moes uitvee, vir hom koffie maak met so ‘n “koker” waarmee jy die water in ‘n beker kook, en terselfdertyd sê hy nog: “Sit daar vir ons Moeder op”. Dis nou John Lennon met “Mother, you left me, but I never left you ooh hoo oo-hoo hoooo”! Dikwels het die radio’s gespeel, jy kon dieselfde liedjie oral in die gange hoor. Ligte-uit was altyd 10-uur saans, maar Vrydae-aande is daar tot middernag “Top 20” geluister.

Naweke is daar sokkies gehou. Ek het teen die mure gestaan en gekyk. En die musiek ingedrink. Creedence Clearwater Revival was groot. Baie groot. Vir die volle vyf jaar. Gedurende die vyf jaar het een van die ouens ‘n ander kasset gehad van The Blue Ridge Rangers. In daardie jare was plate ook beskikbaar as voorafopgeneemde kassette. Dit was so een. Ek het geweet dit het ook iets met Creedence te doen gehad, maar ek het nie die volle storie geken nie. Ek wou daardie musiek so graag hê, maar ek het nooit geld gehad vir plate of “pre-recorded cassettes” nie. Iewers het ek by iemand twee pers kassette in die hande gekry. K. Lenhoff in Upington het hulle verkoop – BASF dink ek. Toe leen ek die ou se Blue Ridge Rangers kasset en sy kassetspeler, en nog ‘n kassetspeler en “tape” dit oor. Daar moes natuurlik vir die volle tyd tjoepstil gebly word, want dis sommer met die ingeboude mikrofoon gedoen.

Front

Eers later het ek bewus geword van John Fogerty. Ek het reeds drie CD’s van hom. Nou luister ek soggens as ek wakker word so ‘n kort rukkie RSG. Laas week een oggend hoor ek die liedjie “Blue Moon Nights” een oggend, en dis vir my mooier as op die CD wat ek het, maar ek kan hoor dit is John Fogerty. Saterdagoggend speel hy weer, ek kyk gou op RSG se webwerf en stuur vir Ettienne Ludick ‘n boodskappie en vra om my te laat weet waar dit vandaan kom. Hy was toe so vriendelik om my ‘n e-pos te stuur en te sê dis ‘n DVD + dubbel-CD van ‘n konsert wat in 2004 opgeneem is: John Fogerty – The Long Road Home. Ek het hom toe so gou moontlik gaan kry – by Clearwater Mall. Dit was so R199 vir die spulletjie.

Fogerty was natuurlik die hoofsanger en liedjieskrywer, jy kan sê die brein, agter CCR. Van die 27 snitte is die volgende 15 ou Creedence-treffers.

Travelin’ Band
Green River
Who’ll Stop The Rain
Lodi
Looking Out My Back Door
Born On The Bayou
Run Through The Jungle
Have You Ever Seen The Rain?
Keep On Chooglin’
Sweet Hitch Hiker
Hey Tonight
Down On The Corner
Up Around The Bend
Fortunate Son
Bad Moon Rising

Die storie agter die liedjie “Fortunate Son” vind ek nogal interessant. Ek het voorheen gehoor dit was gewild in die tyd van die Viëtnam-oorlog en simboliseer die gedagtes van ‘n ou wat geloot is, terwyl daar vir die seun van ‘n senator toutjies getrek is. Volgens die Wikipedia-artikel sê Fogerty glo dit was David Eisenhower, kleinseun van President Dwight David Eisenhower. Dis natuurlik ook die inspirasie vir my titel – want hoe gelukkig moet mens wees om so ‘n enorme musiektalent te ontvang! Eintlik wou ek die titel “Fogerty Forever!” gebruik het, maar sien toe daar is ‘n CD: “John Fogerty – Forever Creedence Clearwater Revival”.

Hier is die drie CD’s van John Fogerty wat ek reeds gehad het:

Front

The Blue Ridge Rangers

Dis die een wat ek op die pers kasset opgeneem het. Ek het hom so by 1999/2000 van Amazon af bestel. Dit was toe nie ‘n groep nie, maar John Fogerty wat al die instrumente self bespeel het. Nie sy eie komposisies nie, maar ou treffers Jambalaya, She Thinks I Still Care, Workin’ On A Building, Please Help Me I’m Falling ens. Lekker ou tranetrekkers party.

Front

Blue Moon Swamp

Dis waar ek “Blue Moon Nights” leer ken het. Nog ‘n paar liedjies hiervan is by die DVD ingesluit, maar tog het een van my groot gunstelinge op die CD afgeval van die konsert af: Southern Streamline – luister by YouTube. Lekker video ook!

Front

Deja Vu Al Over Again

Na hierdie een het ek nog nie so baie geluister nie. Een liedjie hierop waarvan ek hou, ook nie in die konsert nie, is Sugar Sugar (In My Life), l.w. dis nie die ander bekende Sugar Sugar nie. Luister, weereens met komplimente van YouTube. Nog enetjie wat wat noemenswaardig is, is Honey Do, met woorde soos “Honey do this, honey do that, Work all day in the Honey Do Patch”, nogal aktueel! Ek hou ook van “I Will Walk With You”, dit het bietjie van die klank van Blue Moon Nights.

Eendag wys ek my Creedence-CD’s vir julle. Julle kan seker agterkom: Ek vrek oor Fogerty?!


Responses

  1. Nice inskrywing Kop!! As Southern Stream op Noot vir Noot gespeel was, sou ek aan die begin van die song gedink het dis Bad Moon Rising. Dis nou ’n lekker country song!! Ek was nie in ’n koshuis nie maar CCR herinner my aan die dae toe my ouer broer en suster (wat onderskeidelik 8 en 9 jaar ouer as ek is) huispartytjies gehou het en ek ’n skugter laerskooldogtertjie was wat ook posisie teen die muur ingeneem het en die musiek ingedrink het. Hehehe …. Ek onthou veral ook hoe hulle close gedans het op Heart van Gene Rockwell.

  2. Ek bedoel natuurlik Southern Stream is ‘n lekker country song..🙂

  3. Ja, Gene Rockwell se Heart was in dieselfde liga by ons! Na skool, ook nog baie jonk, het ek een keer by die skou met hom gaan praat in sy karavaan – in Engels – shame, hy kon my maar uit my lyding verlos het en gesê het hy kan Afrikaans praat, al wou hy nie sê sy regte naam is Gert Smit nie! Nadat ons in 1997 hier kom woon het, het ons hom omtrent 2 keer voor sy dood in Dions in Westgate gesien in sy rolstoel.

  4. Ai, ek kan nie heeltemal saampraat nie, maar die Top 20 krap ou herinneringe oop wat ek al vergeet het.

    My eerste poging om hierdie musiek te bekom – onthou, ons was maar bars-hakskeen plaaskinders, was ‘n draagbare taperecordertjie, wat dan teenaan die luidspreker van die TV gedruk is, en daai record knoppie is met ‘n sweterige hand vasgehou. My eerste liedjie wat ek so opgetape het, was Spitit of the great heart van Johnny Clegg, van die musiekvideo van Jock of the Bushveld.

    Later het jy saans, ek onthou eens op ‘n tyd was daar ‘n top 20 op ‘n Sondag aand, moenie vra watse stasie nie, maar ons het genael gesit voor daai hi-fi, ook met die vingers op record. En as die liedjie klaar in die sak was, het jy gehoop vir ‘n geklets of advertensie, sodat jy kon rewind en die liedjie betyds stop om die gesels uit te sny.

    Vandag download jy die suiwerste kwaliteit van die Limewire af, en vergeet jou hartklop as jy deur amper 20 liedjies moet sit om jou gunsteling WEEREENS op band te kry. Want daai liedjie was soos perde speel: week vir week in die nommer een plek!

  5. You’ve been tagged!
    http://adelem.wordpress.com/2008/02/07/nog-n-tag/

  6. Ek toets net, dink ek is spam by jou

  7. Nou ja toe, laat ek maar weer probeer!

    Ai, hoe lekker vat jy my terug na die dae toe ek nog mej. van Rooyen was… Dankie.

    Mykop, dankie ook dat jy aan my gedink het met die ‘VAT VYF’-getaggery. Dis nogal lekker om julle groot ouens hier se gunstelinge te lees.

  8. @wag-‘n-bietjie: Groot ouens? Verwys jy nou na die halwe waatlemoene wat ons smokkel of ons ouderdom?

  9. Lekker musiek!
    Ai, hoe laat jy my nou terugdink Kop. Jou koshuis was beslis ‘n baie minder militêre institusie as myne. Ons is GEEN elektriese toestelle toegelaat nie. Geen radios, bandspelers, kokers, verwarmers, waaiers of haardroërs nie. Ons sou definitief nie een van Eskom se probleme gewees het nie.

  10. Haai Labmuis, die militarisme het ook maar lekker hoogty gevier, maar gelukkig is die krag in ons kamers nooit weggeneem nie. Ek dink nie kokers en ketels was heeltemal toelaatbaar nie, maar ons het darem daarmee weggekom. Daar was saans na studie ‘n “urn” met kookwater beskikbaar, maar teen die tyd dat jy in die kamer kom by ma se trommel beskuit is dit net lou. En ‘n tiener wil mos tydig en ontydig koffie drink, veral op ‘n Top 20-aand.


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: