Posted by: mykopop | Donderdag 31 Januarie 2008

Laurika Rauch – ‘n Lekker verlang liedjie

FrontWanneer ek ‘n nuwe CD onder hande kry, maak ek gewoonlik vinnig die boekie oop om te sien wie die liedjies geskryf het. Dit lyk vir my vir baie mense maak dit nie saak nie, ek sien bv. dat mense sal skryf: “Bla bla bla” – Laurika Rauch, terwyl Laurika net “Bla bla bla” gesing het en nie geskryf het nie. Skrywers moet tog onthou as hulle skryfwerk aanhaal, om die skrywer daarvan krediet te gee. Dit is wel so dat Laurika baie liedjies bekend gemaak het en mens die liedjies met haar assosieer, maar sy self het maar min geskryf, sy het wel ‘n wonderlike talent om liedjies te vertolk.

Ek was dus bietjie teleurgesteld om oop te maak en te sien dat Laurika se man, Chris Torr, maar ‘n klein rolletjie gespeel het in die skryf van die liedjies. Dis seker nou maar die soeke na nog liedjies soos Stuur groete aan Mannetjies Roux, Die Gang, ens. Ek moet ook eerlik wees, met die eerste luister het ek gedink Laurika het dit verloor. Ek het die CD nou amper ‘n maand, en ek het hom ‘n hele paar keer geluister, hom saamgery in die kar en hom bietjie “op my laat groei”. Kom ek gee jou so ‘n sinnetjie of wat oor elke liedjie. Ek gee die skrywers van elke liedjie in hakies.

1. Winterure (Paul Clingman) – Ek het gewonder hoekom die liedjie op die CD moet wees, ons het hom mos al op een van haar vorige CD’s. Laurika sê in die omslag: Ek wou nog altyd ‘n kitaar album gemaak het – verwerkings wat amper soos die van Cat Stevens, Jim Croce en miskien ‘n vroeë James Toylor klink. Hierdie is daardie album – maar eietyds. Louis Britz, Juan “Floors” Oosthuizen, Gideon Botes en ek, het eers vir ‘n tydperk met die musiek gespeel voordat ons begin opneem het. Hierdie album weerspieël daardie proses. So miskien is dit oor die kitare. Dit is miskien ‘n mooier opname as die vorige een.

2. ´n Lekker Verlang liedjie (Kalla Bremer & Don Clarke) – Dieselfde skrywers van haar baie bekende liedjie, Die Nostalgie. Die liedjie verdien om die titelsnit te wees. (As iemand my iets meer van Kalla Bremer kan vertel, asseblief!)

3. Brêkfis in Bloemfontein (Mariki De Villiers-Knop) – Die ou maak haar vroeg die oggend wakker en sê “nou ry ons Kaap toe”, hy het sommer klaar vir haar klere gepak. Die mooi stukkie vir my is “Komaan vat jy nou die wiel…maak my wakker as jy Tafelberg sien, en dan “Toe ek die plat berg sien sê ek sag, jy mis die beautiful view…”

4. Waterval (Emile Minnie) – Miskien ‘n bietjie eentonig, maar as jy in ‘n rustige bui is… Baie mooi.

5. Hier tussen ons (Louis Britz) – Begin met die woorde “Die liefde is ‘n rooi gedig in versreël en kwatryn”. Hoekom laat dit my dink aan Rooiborsduif?

6. Skatkiskaart (Mariëtte Galjaard) – “Rustig met nul mense, net ons twee op die wye see gerig”.

7. Die Rolprent (Eugene Carstens/Christopher Torr) – “Waar kom die lied, die liedjie vandaan, dit kom met die son en verdwyn met die maan”. Mmmm, dink ek kan hoor Chris Torr het die liedjie help skryf.

8. Sê groete vir Triëst (Chris Barnard/Chris Torr) – Ek moes op Google maps gaan kyk waar Triëst is, ek het mos nie aardrykskunde gehad nie. Dis in Italië, nie in die stewel nie, daar in die agterkant. Kyk die foto heel onderaan. Ek hou van sulke liedjies, soos Koos Doep se “Herman” wat bv. sê “van Java en Malta, Beiroet en Bombaai, ek wou nog praat oor Leningrad…” Daar praat ‘n man iewers op die snit, ongelukkig sê hulle nie in die omslag wie daar praat nie, ek sou graag wou gehad het dat hulle so die skrywer se stem verewig het – hy bly een van my gunstelingskrywers, al het ek lank laas iets van hom gelees.

9. Jy kan my kom haal (Emile Minnie) – Die ding het so ‘n lekker tempo en ritme, dit maak my lus om my vlerke ritmies te klap soos ‘n hoender of Chris Chameleon!

10. Sê dit (Emile Minnie) – Sjoe, jy moet die rustige kitare hoor op die begin van hierdie snit. En ‘n baie mooi liedjie: “Sê dit in ‘n brief, sê dit in ‘n woord, sê dit in ‘n sin, die digterlike soort…”. Emile Minnie se tuisblad. As liedjieskrywer is hy dalk die grootste vonds van hierdie CD.

11. Blou Kafee (Chris Barnard/Chris Torr)Korreksie! – ek het aanvanklik gedink Anna Davel het die liedjie geskryf – ek het mos lankal ‘n ogie op daardie gypsy. Ek het ‘n CD van haar in ‘n winkel gesien metdie titel en sommer so aangeneem. Sien ook hier. My opregte verskoning aan die twee Chrisse, ek sal boete doen deur so gou moontlik ‘n boek van eersgenoemde te koop, en die eerste CD wat uitkom waarin lg. ‘n hand het! Dis ‘n baie mooi liedjie, wie hom ook al geskryf het.

12. Nothing´s coming out (Louis Britz) – ‘n Liedjie wat mens diep raak, met woorde soos “My quiet lips are pouting, when I know I should be shouting, Rome is burning, I should say it loud, please forgive me – nothing’s coming out”.

Nee wat, ek kan onomwonde sê die CD sal waardig sy plek langs my ander Laurika-CS’s inneem.

Foto van Universiteit Triëst – Wikipedia.

Resensie:

Tempo: Kollig op Laurika Rauch

Laurika se tuisblad:

http://www.laurikarauch.com/


Responses

  1. Ek hou ook van Laurika Rauch se stem en vertolkings en stem saam, Chris Torr is wonderlik! Het nog nie die CD nie. Dankie vir die resensie en lekker luister.

  2. My seun is gaande oor haar musiek.

  3. Jy weet Blouberg se strand, een van Laurika se grootste treffers se toonsetting is gedoen deur Laurinda Hofmeyr, toe sy nog op skool was, ek dink sy was in std. 8.
    Nou is Laurinda self ‘n amazing sanger en skrywer, maar mens vergeet wie agter die toonsettings en/of woorde ook sit, want as die melodie nie werk nie, dan steek daai lied nie in jou kop vas nie. Laurinda het so vir baie ander mense famous gemaak voor sy self geraak met haar fantastiese skryfwerk en toonsettings.

  4. Rosalindfranlin, ek is self ‘n groot bewonderaar van Laurinda Hofmeyr se toonsettings, maar ek verskil met jou oor Blouberg se Strand, ek het 2 CD’s waarop dit voorkom, volgens albei is die skrywers: Udo Jurgens/Thomas Christen/Christopher Torr. Ek vermoed eersgenoemde twee sou dit in Duits geskryf het en Chris Torr het Afrikaanse woorde vir die melodie geskryf.

    Wat ek dink Laarinda wel op skool nog getoonset het, is Ek Het ‘n Huisie By Die See. Daardie gedig is met my op skool behandel toe sy dalk nog skaars (of nie) gebore was – ek kan my alie skop dat ek nie ‘n liedjie daarin gesien het nie, maar op daardie stadium het ek natuurlik geglo liedjies moet in Engels wees.

    Twee ander waarvan ek hou is Vir ‘n Pepermossie en Eenvoud (lg. ‘n gediggie van Koos Doep en gesing deur Jannie du Toit.) Ek dink Laurinda is ‘n niggie van Laurika. Jy weet natuurlik al die dinge, ek noem dit maar vir die moeë Googelaar.

  5. Jy het nou gemaak dat ek hierdie CD gaan soek sodra ek weer by die winkels uitkom. Laurika is ook een van my gunsteling Afrikaanse sangeresse. Dankie vir al die lekker inligting!

  6. Hallo,

    Ja jy is reg, ek het deurmekaar geraak. Koppie se lyne het erg gekruis! Dit is” Huisie by die See”, wat Laurinda op skool getoonset het en die wonderlike een van die Mossie.

    Jammer man.;)

  7. Klink na mooi musiek!

  8. […] aan die e-pos wat ek so ‘n uur vroeër van Laurika gekry het, nadat ek haar vanoggend van my inskrywing oor haar CD ingelig het. Mmmm, dink ek – dis wat ek so pas met my naam gedoen het! Hier is ons […]

  9. Moenie bekommer nie Rosalindfranklin, ek het my naam bietjie geslaan deurdat ek aangeneem het Anna Davel het Blou Kafee geskryf. Die tweede keer dat ek ‘n faux pas maak met ‘n beroemde sanger oor my slimmigheid om altyd te dink ek weet wie ‘n liedjie geskryf het!

  10. shoe dit was als baie interessant , ek het die cd oor desember gesoek en ek kan nie eers onthou watter winkel, daai groot ene in cresta, en nie gekry nie, so ek dink ek moet dit bestel oorie internet en het nie daarby ytgekom nie. dankie virrie ressensie dit was interessant , ek dink laurinda is ‘n niggie van zanta hofmeyer, die slim en talentvolle hofmeyer clan en ja mense kyk selde na wie die liedjies geskryf het.
    dit klink of daar baie mooi dagdroom liedjies op is, ag ek hou altyd van laurika se c’d’s ek het ‘n paar van hare luister dit dikwels.

  11. […] Ruk terug het ek ‘n inskrywing gemaak oor Laurika se nuutste CD, ‘n Lekker Verlang Liedjie. Daar trap ek toe in die eerste slaggat na die ander een! Kom ons begin by die begin. ‘n […]

  12. die begin…dit het vir my begin by skatkiskaart, gehoor oor die radio en gedink Christopher Torr het dit seker geskryf…toe lees ek hier Mariëtte Galjaard het dit geskryf, toe google ek haar naam , toe sien ek sy speel in hartsnaar, toe lees ek oor die produksie, toe koop ek kaarjties, toe kry ek ‘n nuusbrief van die centurion teater, toe sien ek hulle het die oulikste shows daar, toe gaan kyk ek en my tweeling dogters na Ses Snare, toe val ons vas op die N1 a.g.v. afgryslike ongeluk, maar gelukkig was ons betyds en nou sal ek graag baie van daai produksie bywoon… wan… dit als … is…
    nannas vir die siel en dit hou my hart vas in ‘n vicegrip
    hm en dalk skop dit nog gat ook.
    La Chaim en Slenté!

  13. […] Afrikaans, CD, Musiek — mykopop @ 23:02 In Februarie het ek in my stukkie oor Laurika se CD ‘n Lekker Verlang Liedjie die volgende geskryf oor die liedjie Jy Kan My Kom Haal: Die ding het so ‘n lekker tempo en […]

  14. […] pas mooi by Najaarsdroom. Dit kom van Laurika Rauch se nuutste (so ver ek weet) CD – ‘n Lekker verlang liedjie en is geskryf deur Chris Barnard en Chris Torr. Dit het baie vinnig een van my grootste gunstelinge […]

  15. Dis ‘n banja moi ciedie. Laurika’s voice is strelend en rustig and simply fills me up with tranquility and peace and I would simply love to hear Chris Torr sing for once in a moon year. So wonder ek terwyl ek vir my vliegtuig wag. Ekke vlieg vanaand terug Doebai toe waar ek tans bly.

  16. Ja, ek gaan beslis nie die blyspel Mannetjies Roux misloop nie, ek wil gaan luister hoe die blou saksofoon klou om die kiekie. Sjoe Ansophie, ek het al gewonder wat van jou geword het, Do-bye sê jy?


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: