Posted by: mykopop | Saterdag 26 Januarie 2008

Draaitafel Droefheid (1)

draaitafel

Vaarwel aan viniel *

Ek het ‘n hele klompie langspeelplate, waarvan ek ‘n aansienlike hoeveelheid met CD’s vervang het toe dit op CD uitgegee is. Daar is egter nog ‘n groot deel daarvan wat op die oomblik vir my “verlore musiek” is.

Ek besit twee draaitafels en het op ‘n stadium begin om van die plate te digitaliseer. Die draaitafel wat ek vir baie jare gebruik het is ‘n Garrard wat ek as slegs die meganisme gekoop het met ‘n perspex deksel. ‘n Vriend en kollega van my, wat reeds oorlede is, het my gehelp om ‘n kassie van imbuia-hout daarvoor te maak. Later het ek ‘n ou Telefunken hoëtroustel wat half uitmekaar geval het, persent gekry. Die draaitafel is ‘n TT100 Direct Drive en het nog in ‘n goeie toestand gelyk, maar die naald was gebuiig, dus het ek dit nooit gebruik nie.

Toe begin die Garrard te stadig loop as die arm nader aan die spil kom, en ek besluit om ‘n naald vir die Telefunken te kry, want dit het ook spoedbeheer. Dit lyk toe egter of daar iets fout is by die spoedbeheer, hy speel mooi gelykmatig en dan skielik gee die musiek ‘n wow-wow. Vir ‘n hele paar maande nou kon ek nie plate op my rekenaar sit nie, maar ek het nou besluit hierdie jaar moet hy regkom, ek sien ook nie eintlik kans om nou weer geld aan ‘n draaitafel te spandeer nie.

Ek het gelukkig nou die Telefunken gekry dat hy mooi speel, hy’s aan die rekenaar gekoppel en ek is besig om menige vinielskyf vir die laaste keer te laat draai. Die eerste een, wat saam met ‘n paar ander nou vir meer as ‘n jaar op my lessenaar gestaan het, is Elton John se album “Empty Sky”, waarna ek nou vir jare nie geluister het nie. Ek geniet dit omtrent! Die mooiste liedjie vir my is “Skyline Pigeon”. Die opname op die album is vir my mooier as ‘n ander een wat ek het – dit begin met ‘n instrument wat klink soos ‘n harpsichord i.p.v. sy normale klavier (ek’s nie ‘n groot kenner van instrumente nie). Hulle het ook ietsie gedoen met die meng van die snit, so na die helfte van die snit klink dit skielik asof hy deur ‘n groter pyp sing! Heel onderaan is ‘n skakel om na ‘n ander opname van Skyline Pigeon te luister. Op die foto hierbo staan Empty Sky se omslag regop, die solus-sewe wat daar lê is Art Garfunkel se I Shall Sing wat ek wou gebruik om seker te maak links is links en regs is regs – sien onder Tegnies.

Doen-dit-self

As jy nog ‘n werkende draaitafel besit, behoort jy dit self te kan gebruik om plate op jou rekenaar te sit. Gaan soos volg te werk.

  • Die draaitafel moet op die normale manier aan die versterker gekoppel word. (Jy kan nie direk van die draaitafel na die rekenaar gaan nie, want die sein is baie swak en die bas-klanke is onderdruk volgens ‘n sekere RIAA-kurwe. Daar is blykbaar sagteware wat die implementeer.) As jy nie die luidsprekers aan die versterker wil koppel nie, prop net ‘n stel kopfone in sodat die uitset nie beskadig word nie.
  • Jy moet natuurlik ‘n klankkaart in die rekenaar hê.
  • Om die versterker aan die rekenaar te koppel, het jy twee kabels nodig, soos op die foto hier onder. Die swarte koppel jy van die versterker se TAPE-uitset, koppel dit met die swart konnektors (inlas) aan die blou kabel. Die klein (oorfoontipe) konnektor prop jy by die Line-In inset van die klankkaart in, dit is die BLOUE op die klankkaart. (Pienk = mikrofoon, Groen = Luidsprekers) Die blou kabel is eintlik al wat jy nodig het – die enigste rede hoekom ek die ander kabel en die lasstukkie wys, is omdat die een kabel gewoonlik te kort is.
  • Daar is baie verskillende sagtewarepakkette wat jy kan gebruik om die musiek op die rekenaar op te neem. Ek gebruik die DMC Auxiliary input van die gratis program dbPowerAmp Music Converter . Windows self het ook ‘n Sound Recorder, of jy kan Audacity gebruik.
  • Die moelikste kan dalk wees om die “mixer” opgestel te kry. (Dis die volumebeheer program op die rekenaar.) Kies Options, Properties, Recording. Jy moet die mikrofoon-inset “mute” en die Line-In selekteer. Die DMC programmetjie het die fasiliteit om die klankpeil te toets – luister maar na die plaat waar dit taamlik hard is en maak seker dat dit nie verby die merkie gaan nie.
  • Met DMC kan jy as .wav or as mp3 opneem. Ek neem gewoonlik as wav op vir die beste kwaliteit om op ‘n klank-CD te brand, dan kan mens altyd agterna mp3’s ook maak.
  • Jy kan die snitte een vir een opneem, maar dit verg baie werk en jy moet heeltyd wakker wees. Ek verkies om ‘n hele kant van ‘n langspeler op te neem en dan die snitte daaruit te haal.

kabel-konnektors

Ek het Audacity gebruik om die snitte uit te haal, en ook hier en daar om ‘n kwaai krap te verdoesel. As daar behoefte is sal ek beskryf hoe om dit te gebruik.

Tegnies

Ek het die Telefunken TT1100 toe weer oopgemaak. Afgesien van die twee stelknoppe vir 33 en 45 bo-op, is daar op die motorbeheerstroombaan ook ‘n klein potensiometer vir elkeen van die twee spoedkeuses. Ek het toe besluit ek stel die boonste 33-knop in die middel, en toe, met ‘n bietjie gimnastiek, het ek die 33-pot op die stroombaan gestel tot dit lyk die kolletjies by die liggie staan stil. Nadat ek aanmekaargesit het, het ek dit weer met die boonste knop ingestel, hy staan omtrent by die middel, en op die oog af lyk die spoed stabiel. Nou moet ek net weer die konneksie na die klankkaart regry en maar weer probeer.

Ek het ook die GS-spanning van die kragbron gemeen, dit het gewissel van 15.3 tot 15.8V, terwyl op die motor staan 16V. As daar nou nog ‘n probleem is, gaan ek probeer om ‘n eksterne 16V bron wat baie stroom kan verskaf te koppel en kyk of dit help.

Ek wou graag seker maak dat ek nie die linker en regterkanale omruil nie. Ek probeer toe om ‘n kortspeelplaatjie te gebruik wat ek weet goed stereo is, en wat ek ook op CD beskikbaar het. Ek kon geen hond haaraf maak nie, tot ek later besef het die 33/45 knoppie verander ook die draaitafel na mono as dit op 45 is!

Naskrif

* “Vaarwel aan viniel” is die subtitel van Jannie du Toit se CD “Liedjies van Vroeër”.

Front

Skyline Pigeon op YouTube – Kliek

Ek het gelees dat Empty Sky in 1968-69 opgeneem is en in 1969 uitgegee is, maar dis eers in 1975 in die VSA uitgegee, met ‘n ander omslag.


Responses

  1. Sodra ek by die ?!@/ bank uit is, gaan ek kyk wat ek met die raad kan regkry. As dit vir my werk, moet jy koes vir die hoera! Jy wil nie ons plateversameling sien nie. Daar is selfs ou Springbok plate. Onthou jy nog? Ek laat weet!

  2. Jo-Ann, ek neem aan jy praat van die Springbok Hits? Ek ken hulle goed, ons het nie baie nie, maar hier is ook een of twee. Dis darem ongelooflik hoe Suid-Afrikaanse kunstenaars daarop die oorspronklikes nagemaak het.

    Laat weet gerus as jy vashaak, ek sal help waar ek kan.

  3. Ek kort nog die blou kabeltjie en dit moet wag tot volgende week. Ek het begin lys aan die plate. Dit is als my man s’n van 19voertsek en later. Daar is van Pop Shop tot Vangelis – Chariots of Fire. Later meer.

  4. Ek hoop jy kom reg Jo-Ann, hulle is darem redelik maklik beskikbaar by “HiFi” of rekenaarwinkels. Die stereoproppie aan hom is die gewone een soos aan oorfone, ek dink 3.5 mm. Klink amper of net jou man uit 19voersek kom, of is dit net mense uit 19voersek wat nog plate wil luister?

  5. Hier in Engeland sien mens nog dikwels plate – dit is versamelstukke, en daar is winkels wat daarin spesialiseer. Dit is ook nog nie moeilik – soos dalk in SA – om ‘n platespeler te koop nie.

  6. Jip, daar het my taalkundigheid my goed in die steek gelaat. Die oudste plaat, sover, is uit 1977. Toe was ek nog salig op skool. My man is darem net 5 jaar ouer as ek. Ek het nog nooit voorheen regtig na die plate gekyk nie. Ek weet net daar is niks Afrikaans nie.

  7. Alleman, hier by ons kan mens ook baie 2dehandse plate koop, maar ek probeer die versoeking weerstaan, want hulle is gewoonlik in ‘n baie swakker toestand as myne. Draaitafels kan jy ook nog kry, ek het in die afgelope jaar of so nog nuut gesien, en natuurlik by 2dehandse winkels, maar ongelukkig wil hulle dan 80% of meer van die nuwe prys hê, i.p.v. omtrent 25 of 30%, want ek glo hulle gee die mense wat dit inbring omtrent niks. Dis hoekom ek maar probeer klaarmaak wat ek wil doen met dit wat ek het.

  8. Ons is juis nou besig om ons studio in te rig, ons wil graag weer oor internet musiek uitsaai. Ons het al ons plate van Holland af saamgebring, en dis baie. Ons het die meeste van hulle ook al op die rekenaar gesit, dis ‘n baie groot werk, maar 100 % die moeite werd!! Jo-Ann, jy moet nooit van jou plate ontslae raak nie, dis baie werd, en as jy dit ooit wil doen, dink asseblief aan my. Dis een van ons stokperdjies. Ek snuffel ook maar orals en kyk of ons tweedehandse plate iewers raakloop, mens weet nooit.

  9. Kop, dankie vir hierdie praktiese raad. Ook ek sit met ‘n spul LP-plate waaroor ek baie sentimenteel voel. Het ook nog ‘n draaitafel, maar die, tesame met die PL-plate is in SA gestoor.

  10. Dankie vir al die inligting en raad. Ek het ook bokse vol ou plate, het juis die anderdag vir vriende gesê dis tyd dat ons bietjie ‘n “plate party” hou. Ek het die meeste van hulle by my suster “ge-erf”, sy is absoluut fanaties oor enige musiek. Dus is daar iets van alles, hordes Springbok en Pop Shop hits, en baie BZN, Frank Duval, Queen, Neil Diamond, Suzie Quatro (wonder wat het van haar geword?) ADCD en selfs Afrikaans (Groep II, Sonja, Annelie, Karen Hougaard) en country musiek. Party het nog hulle prys-etikette op: ‘n hele R2.99!

    Ek gaan hierdie inligting mooi bere, en myne ook so stuk-stuk op die rekenaar kry.

  11. Baie, baie dankie vir jou raad. Ons sit ook met hope ou plate en ek dreig al lankal om uit te vind hoe om dit op CD’s te sit. As ek vasbrand gaan ek ook jou hulp vra as jy nie omgee nie. Ek kon dit ook nog nooit oor my hart kry om van my plate ontslae te raak nie.

    Ek sit selfs met ‘n hele klomp ou ’78 plate en ‘n “opwen” grammofoon. My pa was ‘n versamelaar van ’78 plate en het ‘n hele paar grammofone gerestoureer in sy tyd.

  12. @Boer, ek hoop jy en jou plate kan een of ander tyd bymekaar uitkom. Of, ek kan hulle intussen vir jou mooi oppas! Ek kom nou net van Melville af, maar kon hierdie keer net een digbundeltjie oes. Wie is jou agente wat jy soontoe gestuur het? Dat ek hulle kan …

    @Dellie: Dit klink omtrent lekker. As ek reg onthou het ek party langspelers wat ek miskien op uitverkopings gekoop het met prysetikette van 69c op.

    @Kaalvoetkind: Ons het ook so ‘n 78-grammofoon. Met die 78’s kan mens dit maar net met ‘n mikrofoon opneem (sjuut!), want jy kan nie die naald van die nuwer draaitafels daarop gebruik nie. Vir die gewone plate, jy is baie welkom om my te vra as jy ‘n probleem kry.

    • Ek raak nou skoon opgewonde as ek na julle en julle draaitafels en plate luister.

      Waar kan ek ‘n naald vir my draaitafel kry?

      • Hi Lornsie, ek het lank laas so iets probeer koop, ek dink dit raak nou al skaarser. dit het al een keer gebeur dat ek ‘n naald vir ‘n draaitafel gesoek het en ‘n nuwe “cartridge” met naald en al moes koop. Ek sal bietjie my oë oophou en jou laat weet as ek ‘n plek kry.

  13. Ook onlangs die roete begin volg van viniel na mp3 met my, glo dit as jy wil, nog werkende 1981 JVC hoëtroustel wat ek gekoop het met my eerste vakansiegeld as ‘n student. ‘n Ander brokkie inligting oor draaitafels miskien net gou. By die werk moes ons ‘n sekere chemiese toets uitvoer vir ‘n kliënt. Die toetsmetode vra toe vir ‘n apparaat wat die botteltjies gat-oor-kop kan draai teen 30 rpm. R 100 vir ‘n ou Pioneer draaitafel by die Swopshop om die hoek, ‘n aluminium stafie, ‘n stuk hout en ‘n stortdeur se wieletjie en siedaar. Dit werk nou al verskeie maande sonder probleem.

  14. Ja Leon, ‘n boer maak ‘n plan! Jy was gelukkig om een te kry vir R100, die pandjieswinkels hier by ons wil regtig amper ‘n nuwe se prys hê.

    So het ons elkeen ook maar al ‘n ding of twee gesien in ons lewens – jy laat my nou terugdink aan die dae toe ek tegnikus was by die poskantoor in die elektromeganiese sentrales, wat vandag natuurlik nie meer bestaan nie. Ons het daar ‘n platespeler gehad met so ‘n slap rubberplaat met magnetiese stof in, die naald was ook van iets soos rubber – dis gebruik om aankondigings op te neem en terug te speel. As ek reg onthou het hy teen ‘n baie stadige spoed gedraai.

  15. Hi daar,
    Ek sien sowaar van die donkie en Chris Blignaut land ons toe hier. Ja sy werk is op CD…maar ai, die gekrap en hol klank van daardie 1930’s grammafoon is net so lekker nostalgies. As daai plaat is draai ( hy kantel mos eintlik) dan is dit so nice. Dan is ek terug op my ouma se skoot.

  16. Ek sien waarvan jy praat langs jou draaitafel! hehe…🙂

  17. A dit is wonderlik om te hoor ek is nie die enigste wat die ou goed nader skraap nie , ek het vir my man n ou radio – plate speler gekoop in Ellisras , met die Pastoor se hulp het ek die mooiste ou bal en klou radio kas gekoop en met my geluk n klompie plate by gekry ….maar oooo weeeee hulle is verniel en vuil …hoe kan ek hulle weer mooi maak ????? wat moet ek doen om al die krap merke en vuil merke af te haal sonder om hul verder te beskadig …..

    groetnes

    Belinda vd Schyff


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: